Die Kaap proe Hollands – ’n besoek aan SASNEV

  • 0

Krokette. Marsipein. Gevulde botterkoek en bitterballen. Water jou mond al?

Hierdie is van die produkte wat jy die tweede en laaste Saterdag van elke maand by die Nederlandse minimark by SASNEV (Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere) in Pinelands kan vind. Die mark is oop tussen 09:00 en 13:00, en is in 1994 begin, vertel Connie Roos, eienaar van Het Hollandse Winkeltje, wat die mark aanbied. “’n Man het ’n stalletjie in Seepunt gehad waar hy Hollandse produkte verkoop het. Dit is later na Pinelands verskuif en ek het dit ’n paar jaar gelede by die vorige eienaars oorgeneem.”

Connie gesels met byna elke mens wat die mark bywoon en luister graag na wat hulle sê. Sy bestel produkte na gelang van die kliënte se voorkeure en die nuwe voorraad word elke tweede maand vanaf Nederland ingevoer. Sy maak ook nageregte soos appeltert, poffertjes en, natuurlik, oliebollen.

“Die oliebollen word tradisioneel op die 31ste Desember geëet, maar dit is so gewild dat ons dit regdeur die jaar maak,” vertel Connie.

…………

Wat is hierdie geregte?
  • Bitterballen en kroketten is klassieke Nederlandse kroegpeuselhappies, soortgelyk aan frikkadelle, wat bestaan uit beesvleis en sous wat in olie gebraai word. Bitterballen en kroketten word dikwels met mostert bedien. “Ons het ook vegetariese krokette bedien, maar dis nie so gewild nie,” vertel Connie. 
  • Poffertjes is klein pannekoekies wat met botter en versiersuiker bedek word. Dit is nie te soet nie, en smelt lekker in die mond. 
  • Amsterdammertjies is lekker digte amandelkoekies versier met ’n strooplagie. 
  • Oliebollen is ’n gebraaide nagereg (soortgelyk aan koeksisters) gevul met rosyne en versier met strooisuiker.

…………

Kenneth Williams en sy vrou, Albertine, woon spesifiek die mark hierdie tyd van die jaar by om produkte te koop wat slegs vir die fees van Sinterklaas beskikbaar is. Hulle gesels lekker oor wat beskikbaar is en hy erken ruiterlik dat hy ’n swakheid vir oliebollen het.

“My dogter woon in Nederland en as ons lus kry vir Nederlandse kos, woon ons die mark by,” vertel Albertine terwyl sy kyk na wat beskikbaar is. Sy wys laggend hoe Kenneth met ’n vol inkopiesak staan, terwyl hy eintlik vir iets spesifieks gekom het. “My dogter se skoonma het haar appeltertresep vir my gegee en toe ek dit die eerste keer maak, was die tert vir my so mooi.”

Lekker varsgebakte appeltert

Sy en Kenneth het onlangs vir drie weke in Nederland gaan kuier en sy vertel graag oor die lekker kos en kultuur. “Daar is baie ooreenkomste tussen Nederland en Suid-Afrika, en veral met die taal. My dogter praat elke dag Afrikaans om haar taal lewend te hou, en ons kleinseun leer nou die taal. Hy praat met ons Nederlands en ons praat Afrikaans met hom. Waar die woorde of betekenis verskil, verduidelik ons dit.”

Die Williams-egpaar is van die min Suid-Afrikaners wat dié mark bywoon.

“Dit is oorwegend Nederlanders wat die mark bywoon,” vertel Connie, maar noem dat die aantal Suid-Afrikaners toeneem. “Dit neem toe soos die mense daarvan te hore kom. Daar is dalk iemand wat in Nederland au pair of studeer het, en terugverlang. Hulle kom koop dan ietsie lekker.”

Esmee Meijers is ’n Nederlandse student en doen tans ’n ses-maande internskap by The Clothing Bank. Hierdie was haar tweede besoek aan die mark en sy geniet dit. “’n Meisie wat saam met my werk het navorsing gedoen voor ons na Suid-Afrika gereis het. Sy het van die mark gehoor en gesê ons moet dit bywoon. Ons bly in die Bo-Kaap, dus is dit vinnig – so 10 tot 15 minute – om hier te kom.”

Die poffertjes smelt in jou mond

Oud en jonk kom doen inkopies, eet ’n oliebol, drink ’n koppie koffie en gesels. Marianna Kammiyer woon al lank die mark by, en kom kry produkte wanneer sy nie reis nie. “Ek woon die mark by vandat dit onder die vorige eienaars se besit was. Ek probeer elke tweede Saterdag kom, nie altyd nie, maar ek kom kry my gunstelinge, soos drop.” 

Drop is soethout /liquorice.

Daar was ’n effense teleurstelling onder die besoekers omdat al die Sinterklaas-produkte nog nie beskikbaar was nie. ’n Klein verskeidenheid Sinterklaas-produkte was beskikbaar, maar Connie beloof dat die groter verskeidenheid by die volgende mark beskikbaar sal wees.

“Die container het nog nie gekom nie, maar die geregte sal teen 30 November 2019 beskikbaar wees. Dit is wanneer ons Sinterklaas vier en dit gaan ’n groot dag wees.”

…………

Wie is Sinterklaas?

Sinterklaas is ’n figuur wat op Nicolas, die beskermheilige van kinders, gebaseer is en is ’n legendariese Kersfeesfiguur in Nederland. Hy het soos Kersvader ’n vol wit baard en dra rooi, maar is n ernstige figuur teenoor die vrolike Kersvader.

Die ware Sinterklaas is in die derde eeu in Patara (die gebied was destyds Grieks, maar is nou deel van Turkye) gebore met ryk ouers. Sinterklaas het sy rykdom aan die armes weggegee en goeie dade gedoen. Hy is op 6 Desember oorlede en die fees van Sinterklaas word op 5 en 6 Desember gevier. Die vakansiedag word waargeneem deur geskenke en sjokoladebriewe uit te ruil.

…………

Hiermee nog foto’s:

Die mark vind elke tweede en laaste Saterdag van die maand plaas.

SASNEV in Pinelands

Marianna Kammiyer (links) saam met die eienaar van die Het Hollandse Winkeltje, Connie Roos

Kroketten

Nederlandse kaas, souse en speserye word ingevoer

Die varsgebakte oliebollen word met strooisuiker te versier

Connie gesels met Albertine en Kenneth Williams

Lekker Amsterdammertjies

Knäckebröd of brosbrood

Besoekers koop hul voorraad

Produkte om die fees van Sinterklaas te vier

Mmmmm, gin-gegeurde sjokolade

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top