Die kat (van Nkandla) kom weer ...

  • 0

Die afhandeling van Jacob Zuma se 15-maande-tronkstraf het heel moontlik sy opvolger, Cyril Ramaphosa, laat voel soos ou Jan Wilson oor wie FJ Weideman in die volksliedjie “Die kat kom weer” skryf.

Zuma is vir Ramaphosa soos Wilson se kat, “wat die ou nie wou verlaat”.

Die voormalige staatshoof se “vrylating” uit die korrektiewedienstestelsel is deur die betrokke departement bevestig en is deur Zuma met “gemengde emosies” verwelkom. Nie dat hy ooit werklik (streng gesproke) opgesluit was nie: ’n Deel van sy vonnis het hy in die Estcourt-gevangenis se hospitaalsel deurgebring, nóg ’n deel in ’n eksterne hospitaal, en die res het hy op mediese parool uitgedien.

Oor die vraag of laasgenoemde grondwetlik geregverdig was, is daar nog ’n hofgeding hangend. Opposisiepartye en burgerlike organisasies het Zuma en sy ondersteuners daarom gemaan om nie oormatig (of vroegtydig) sy “vrylating” te vier nie.

Maar watwou: “Ek is verlig om weer vry te wees om rond te loop en om te doen wat ek wil sonder beperkings en om iemand se toestemming daarvoor te vra,” het Zuma oor die einde van sy vonnis ’n week gelede gesê. Sover ons egter weet, is hy in elk geval nooit - sedert hy in Julie verlede jaar by die Estcourt-tronk ingeboek was, toestemming geweier om iewers heen te gaan gedurende die uitdien van sy vonnis nie.

Dié vonnis van 15 maande is deur die Konstitusionele Hof aan Zuma opgelê weens sy weiering om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Terwyl sy tronkstraf as ’n oorwinning vir grondwetlikheid en die stryd teen staatskaping beskou is, het dit egter ook saamgeval met ongekende onluste en plundery in Gauteng en Zuma se tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, in die dae ná hy begin het om sy vonnis uit te dien.

Agterna het ’n paneel kundiges oor staatsveiligheid in hul ondersoek, wat deur Ramaphosa aangevra is, Zuma se inhegtenisname as ’n sleuteloorsaak van die geweld geïdentifiseer. Zuma self beskou die geweld as ’n teken van “Suid-Afrikaners” se ongelukkigheid oor sy “ongrondwetlike aanhouding”, aangevuur deur sy eie indruk van hoe hoog sy persoonlike gewildheid is. Hierdie bedenklike troefkaart is waarskynlik ook die rede waarom hy glo dat hy seggenskap behoort te hê in wie die ANC se volgende leier moet word.

Nog voor die beëindiging van sy vonnis is hy blykbaar deur “strukture” (soos wat steunwerwers in die ANC genoem word) aangepor om homself vir ’n top 6-pos as nasionale voorsitter beskikbaar te stel. Hoe waar dit is, is moeilik om te bepaal. Dit sou egter ongehoord wees as ’n voormalige partyleier en staatshoof ná ’n afwesigheid van ’n paar jaar ’n terugkeer na die party se vernaamste leierskapspan sou maak. Maar Zuma was natuurlik nog altyd ’n politieke kat met nege lewens, soos toe hy deur sy voorganger, Thabo Mbeki, as adjunkpresident ontslaan is en uiteindelik vir Mbeki as partyhoof verslaan het.

Berigte wil dit nou hê dat hy volstoom voorspraak maak vir steun vir sy eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, wat haarself intussen bereid verklaar het om Ramaphosa vir ’n tweede keer die stryd om die ANC se presidentskap aan te sê. ’n Nederlaag van (’n skamele) 179 stemme by 2017 se Nasrec-konferensie, het haar duidelik nie afgeskrik nie. Dit hoef ook seker nie, maar as sy tóé swaar gedra het aan die Zuma-ballas (of het dit in werklikheid vir haar stemme by afgevaardigdes gewen?), hoeveel te meer sal dit nie hierdie keer die geval wees nie?

Of sal haar kandidatuur vir Desember se partyverkiesing bó vyf jaar gelede se opvatting uitstyg dat dit haar gesig is, maar steeds maar haar eksman se gedagtes wat afgevaardigdes in die leierstryd aangebied word? Het hulle in 2017 gevoel – of sal hulle nou in 2022 voel – dat hulle vir hulself ’n kat in die sak koop?

Die koop van stemme is ’n kwessie wat vanjaar ewe veel aandag sal trek, of dalk meer as tevore, met dié dat die ANC sedert sy laaste nasionale konferensie besluit het dat die besteding van geld aan leierskapveldtogte nie toegelaat sal word nie. Voormalige president Kgalema Mothlanthe, wat aan die stuur van die keuringsproses vir kandidate staan, het dit duidelik gemaak dat niemand die uitslag van die nominasieproses of stemmery mag beïnvloed deur geld, dienste of enige ander vergoeding aan takke of hul verteenwoordigers by die konferensie aan te bied nie. “Die verkiesingskomitee het ’n mandaat van die 54ste konferensie gekry om die ANC te reinig van enige negatiewe of korrupte praktyke in die verkiesing van leiers,” het hy beklemtoon, wetend dat dit ’n opdraande stryd sal wees.

Ramaphosa self het in die vorige verkiesing nagenoeg R500 miljoen aan sy veldtog bestee – en die publiek word steeds daarvan weerhou om te weet wie geld vir sy veldtog geskenk het en presies hoe dit aangewend is. Omgekeerd het Ramaphosa dit by ’n vergadering van die nasionale uitvoerende komitee prontuit gestel dat dit geen geheim is dat staatsgeld en -hulpbronne ook aangewend is in dieselfde verkiesing nie. Dit was duidelik ’n beskuldigende vinger wat wys na sy opponent, ’n gunsteling van die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie- (RET-) faksie.

Dié einste faksie (só het skynbaar ’n hele klomp politieke kommentators die afgelope ses maande tot ’n jaar begin glo) se rug is gebreek (se oemf is uit) met dié dat Zuma tronk toe is, staatskapingsonthullings voor die Zondo-kommissie en in sy verslae, MK se militêreveteranevereniging wat oneerbaar as ANC-vleuel ontslaan is, en Carl Niehaus en Ace Magashule se onderskeie skorsings. Wat die ontleders en verskeie media-organisasies betref het, sou daar geen teenstand meer oor wees vir Ramaphosa nie, geen duidelike aanduiding dat daar ’n RET-kandidaat beskikbaar is of dapper genoeg is om na vore te tree nie. Tot nou.

Zuma se vrylating kon dus nie op ’n beter tyd vir hierdie groep gekom het nie. Ook nie op ’n slegter tyd vir Ramaphosa, wat steeds sukkel met die Phala Phala-skandvlek wat hy oor homself gebring het nie. Die ou kat van Nkandla wys duidelik dat hy geen voorneme het om homself met die lewe van ’n afgetredene besig te hou nie, dag ná dag met sy kleinkinders te speel of sy kudde beeste te bewonder nie. Die indruk waarmee hy ons laat, is dat hy nuwe energie geput het (of wraak gekweek het) uit die vernedering van opgesluit word in ’n demokratiese bestel, soos destyds in die apartheidsera.

Ramaphosa moet die kat mooi uit die boom uit kyk, want Zuma is geen kat om sonder handskoene aan te pak nie, anders word hy dalk in die aanloop tot Desember se konferensie gedwing om ’n paar benoude spronge te maak, terwyl Zuma “sonder beperkings en [sonder] om iemand se toestemming daarvoor te vra” vrylik rondloop en doen wat hy wil.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top