Die koloniale wond in die grond

  • 0

Vandeesmaand het ’n groep krotbewoners uit een van Johannesburg se honderd of so “human settlements” – die ANC-regering se eufemisme vir plakkerskampe – op etlike plotte grond wat deur wittes besit word, toegesak en verklaar hulle is die nuwe eienaars van die lappies wat hulle vir hulself afgemerk het. Nuwe hutte is terstond opgeslaan.

Dié goedgekoördineerde veldtog het dadelik herinner aan die “pegging rituals” tydens die Zimbabwiese grondbesettings in 2000, waartydens die invallers die latwerk van die tipies slanke hutte van Sjona-mense opgerig het om ’n toekomstige standplaas af te pen. Dit het natuurlik uitgeloop op die ineenstoring van daardie land se ekonomie en hongersnood wat net deur ruime kos- en geldskenkings deur die voormalige koloniale heersers van Afrika afgeweer is.

Vanjaar se besettings is aangevuur deur ’n historiese geleentheid in Suid-Afrika se partypolitieke geskiedenis: die regerende ANC en die heethoofdige tweede grootste opposisieparty, die Economic Freedom Fighters, het hul stemme saamgegooi in die parlement om ’n mosie aanvaar te kry dat die staat grond kan onteien sonder om vergoeding uit te betaal. Die Grondwet van 1996 verbied so iets uitdruklik, maar die gesamentlike stemme van die twee partye sal die tweederde-meerderheid besorg om die nodige wysigings aan te bring.

Die nuwe aangepaste ANC, en die nuwe president, Cyril Ramaphosa, het hulself ferm teen die besettings uitgespreek, en die mosie is nog net ’n mosie. Die ANC het die oorspronklike bewoording sterk afgewater, en sy benadering is dat parlementêre komitees en openbare besprekings die idee eers moet toets.

Maar die mosie het tot groot angstigheid en druk debatte op sosiale media, in die pers en in die uitsaaiwese gelei. Heelparty wittes glo dat ’n sosialistiese grondgrypery deur die staat net ’n kwessie van tyd is; meer nugtere kommentators het daarop gewys dat die aandrang op grond onder swart mense meer ’n gevolg is van die klaaglike mislukking van die ANC se grondhervormingspogings, weens die gewone ou storie: grootskeepse korrupsie en gebrek aan kapasiteit – die eufemisme vir die amptenary se onkunde en onvermoë.

Dit is egter swart mense se reaksies wat tel, synde die oorgrote meerderheid van die kieserskorps. Die sterkste kenmerk van hierdie diskoers is ’n irrasionaliteit, ’n blindelingse ontkenning van geskiedkundige feite, en ’n totale ignorering van een van die sentrale waardes van die Grondwet, die uitvoerbaarheid van nuwe wetgewing. Talle regskenners het inderdaad daarop gewys dat die Grondwet reeds voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding, hoewel net as ’n laaste uitweg. Ons moet die grond terugvat van die Kaap tot die Limpoporivier, is egter die eenvoudige slagspreuk.

Die hoogs geïndustrialiseerde Suid-Afrika en die landbouland Zimbabwe is nie regtig vergelykbaar nie, maar dis in hierdie irrasionaliteit en passie waar die grootste ooreenkomste dalk lê. Net soos die studente-opstande, het die mosie oor grondonteiening die land se koloniale wond oopgevlek. ’n Groot aantal ondersteuners van Zimbabwe se eertydse president, Robert Mugabe – sy Zanu-PF-party het nooit minder as 30% van die stemme getrek nie – was bereid om grootskaalse lyding in ’n derde chimurenga (bevrydingsoorlog) te ondergaan, ter wille van die simboliese oorwinning van die verdrywing van 4 000 wit boere van hul koloniale plase af.

Net so voel baie swart mense verneuk deur die Groot Kompromis van 1994 wat hulle steeds met net ’n klein persentasie van die land se grond gelaat het. Dat hierdie persentasie sedertdien sterk gegroei het, weens ander faktore as grondhervorming deur die staat, tel nie. Daar was nog geen duidelike, ondubbelsinnige “oorwinning” waarin daar “bloed op die vloer” was, soos ’n swart redakteur dit eenmaal aan my gestel het nie. Die koloniale wond is nie gelykgestel deur een aan die sogenaamde kolonis nie (hoewel mense wat al 350 jaar in ’n land woon, nie meer koloniste is nie).

’n Mens kan geen swart mens kwalik neem vir sulke gevoelens nie. Die hele apartheidsbestel was gebou op die oorname van groot stukke grond deur beide die Britse en die Hollandssprekende regerings van die 19de eeu. Die eienaardige omtrent die gronddebatte, onder beide wit en swart, is die gebrekkige kennis oor die reeks oorloë teen plaaslike stamme wat hierdie grondvergrype moontlik gemaak het.

Baie wit mense ontken dat daar hoegenaamd koloniale grondanneksasies was, alleen besetting van onbewoonde grond; swart mense weer het oor die algemeen geen kennis dat die magte wat in die oorloë geveg het, meestal uit swart krygers van mededingende stamme bestaan het nie.

Maar dis hierin – ’n begrip dat oorlog die koloniale wond toegedien het – dat ’n oplossing moontlik lyk. Want oorlog was ook verantwoordelik vir die toedien van die koloniale wond waaruit die gedrogtelikhede van apartheid gevloei het. In die Afrikaner se geskiedenis en identiteit was die misdade teen die mensdom van die konsentrasiekampe en vernietiging van plase tydens die Anglo-Boereoorlog, met krygswet wat die grond aan die Britse kroon oorhandig het, nog altyd ’n veel sterker faktor as enige drang om swart mense te onderwerp.

Dit behoort alle waarnemers tot kommer te stem dat die irrasionale gronddebatte ’n sterk rassistiese inslag het. Hier is ’n voorbeeld: ná die hoeksteenwet van 1913, wat grondaankope deur swart mense verbied het, was die oorname van swart stamgrond grootliks afgehandel. Hierna is veel meer wit grond deur die staat onteien as die enkele “swart kolle” wat nog oorgebly het – feite wat glad nie opgehaal word nie. Sulke onteienings is gedoen om die absurde tuislande te konsolideer, om hulle meer geloofbaar te maak, en talle florerende plase het ten gronde gegaan en talle gesinne het uitmekaar gedryf.

Wit mense het nie naastenby dieselfde graad van lyding as swart mense ondergaan nie, maar alleen as die diskoers in ag neem dat dieselfde koloniale en postkoloniale bestel wat swart mense so diep verwond het, ook wit mense as hoogs opofferbare pionne beskou het, sal ons die bedreiging van grond as simbool van vergelding kan neutraliseer. Die bedreiging is nie van belang net omdat dit wit plaasboere as teiken het nie, maar omdat dit die politieke fondamente van Suid-Afrika self raak, omdat dit ons huidige liberale staat kan omskep in ’n swart nasionaal-sosialistiese leviatan wat nie net wit mense sal uitsluit nie.

Wit Suid-Afrikaners kan tot so ’n nuwe diskoers bydra – dit selfs help skep – deur hulself nie te sien as deel van die wêreld se heersersklas nie, want hulle is dit nie. Almal in Suid-Afrika word vandag onderwerp aan dieselfde neokoloniale kragte, net soos gemeenskappe elders ter wêreld.

  • Hans Pienaar is ’n skryfgenoot by die Johannesburg Institute for Advanced Study.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top