Die koms van Matamela*, die man wat ander met sprakelose bewondering laat
Weinig ander lande – met die uitsondering van Amerika onder die presidentskap van Donald Trump dalk – kan by Suid-Afrika kers vashou, oftewel met ons meeding, wanneer dit kom by die uitleef van die gesegde dat ’n week ’n lang tyd in die politiek is.
Hiervan is die afgelope week ’n fantastiese voorbeeld: eers bedank die voormalige president, Jacob Zuma, laat verlede Woensdagaand ná uitgerekte onderhandelings met die nuwe leier van die regerende party (ANC), Cyril Ramaphosa. Toe word Ramaphosa die volgende dag as nuwe president ingesweer; en die Vrydag lewer hy sy eerste staatsrede: “This address should have been delivered last week, but was delayed so that we could properly manage issues of political transition,” het hy die agtergrond geskets. “I wish to thank honourable members and the people of South Africa for their patience and forbearance.”
Ook ’n woord van dank aan sy voorganger (Zuma) is in die toespraak ingesluit onder meer “vir die wyse waarop hy hierdie moeilike en sensitiewe [oorgangs]proses benader het”; vir die twee termyne wat hy as president gedien het en “die vordering wat [gedurende sy ampstermyne] gemaak is op verskeie ontwikkelingsgebiede”.
Oor hierdie lofuiting sou sommige dalk hul kop in ongeloof geskud het, maar die reaksie oorhoofs tot dusver op Matamela Cyril Ramaphosa se oorname as ANC-leier en sy intrek in die presidensie by die Uniegebou in Pretoria was meer positief as negatief, meer hoopvol as mismoedig, meer afwagtend as afwysend; en die belangrikste hiervan is dat sy styl, sy aanslag, sy ingesteldheid aansienlik anders as sy voorganger s’n is.
Dit is so dat Suid-Afrika die afgelope dekade onder Zuma se presidentskap ’n land geword het waar die ergste gebeur – en die ergste word nie hier vergelyk met die land se apartheidsverlede nie, maar wel ’n land waar korrupsie hoogty vier met selfs die president, sy familielede en sommige ministers wat geïmpliseer word; ’n land waar die ekonomie agteruit boer; waar staatsondernemings melkkoeie vir onbehoorlike besteding word; waar misdaad mense op alle vlakke van die samelewing snags wakker laat lê en bedags oor hul skouers laat loer; ’n land waar die onweerswolke van swakregeerde buurlande ook hier begin saampak.
Totdat Ramaphosa ’n week gelede met sy aankoms uit die skemer ’n politieke mooiweersdag – die woorde “nuwe era” kom prominent in sy onlangse toesprake voor – laat aanbreek het. Nou was hy nie meer net die adjunk van ’n gekompromitteerde leier (Zuma) oor wie die Konstitusionele Hof bevind het dat hy sy grondwetlike eed verontagsaam het nie. Nou is hy (Ramaphosa) ’n leier uit eie reg; die verpersoonliking van ’n “Mandela-wederopstanding” (geen godslasterlike bybedoelings nie).
Ramaphosa was immers die “uitverkorene” wat deur Mandela – Die Groot Versoener – as sy waardige opvolger beskou is. ’n Stukkie geskiedenis uit die onlangs verskene boek Dare not linger oor Mandela se presidensiële jare: dit was Mandela se vrees dat dit sou voorkom asof Xhosas die alleenreg op leierskap in die ANC het, wat hom ongemaklik gelaat het met die gedagte dat nóg ’n Xhosa die presidensiële leisels by hom oorneem. Ramaphosa was as Venda nie net van ’n ander kultuurgroep nie, maar Mandela en ander het die hoogste agting vir hom gehad as onderhandelaar en brugbouer en die waardes wat hy as leier uitgeleef het.
Maar die res van die ANC se destydse topleierskorps, lees ’n mens in Dare not linger, waarvan Mandela se tydgenoot Walter Sisulu en selfs Zuma deel was, het nie sy vrees oor potensiële agterdog oor etniese vooroordeel gedeel nie. Die weg is sodoende gebaan vir nóg ’n Xhosa, Thabo Mbeki, ’n ekonoom, intellektueel en wêreldburger, om president te word.
In die jaar waarin Mandela ’n honderd jaar oud sou geword het en die wêreld gereed maak om dié mylpaal te gedenk, het die Kaaps-Afrikaanse digter Adam Small se “dice” (dobbelsteen) vir Ramaphosa reg geval. Hy kon nie vir ’n beter eer gevra het as om juis in dié jaar sy termyn as nuwe ANC-leier en staatshoof te begin nie. Om Zuma toe te gelaat het om die Mandela-vierings te lei – dink daaraan – sou waaragtig ’n belediging vir Madiba gewees het: hý ’n morele baken versus Zuma se twyfelagtige integriteit.
Dit is opvallend dat Ramaphosa twee of drie duidelike boodskappe dryf: die een is ’n teenkorrupsieboodskap (waarmee hy hom van Zuma onderskei); nog een is die dringendheid van ’n beter lewe vir almal wat bepaald van ekonomiese groei afhanklik is (waarmee hy hom by Mbeki skaar); en die derde boodskap is die belangrikheid dat verdeeldheid in die land oorkom moet word en alle ras- en kultuurgroepe opnuut moet voel Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon (waarmee hy nuwe inhoud aan aartsbiskop Desmond Tutu se reënboogideaal gee).
Maar dis die kritieke volgende 18 maande tot Suid-Afrika se volgende algemene verkiesing wat sal bepaal of die kiesers Ramaphosa net gaan toelaat om Zuma se skandalige ampstermyn te voltooi, en of hulle hom vir sy eie termyn of twee as president gaan instem.
Die afgelope week of wat het hy dit egter reggekry om sowel sy landsgenote as die internasionale gemeenskap – na die betekenis van sy Afrika-naam, Matamela – met sprakelose bewondering te laat.
*Die naam Matamela beteken, in Engels, “Someone who evokes speechless wonderment”, aldus Ramaphosa se biograaf, Anthony Butler.
Heindrich Wyngaard is ’n aktualiteitsaanbieder op RSG, ’n TV-nuuskommentator op kykNET en ’n skrywer van sowel niefiksie as fiksie.
Buro: MvH