’n Seisoen van oorweldigende protesoptogte is nou deel van ’n gewone Suid-Afrikaanse dag. Kenmerkend van hierdie optogte is die dansende, soms selfs jubelende, skouspel van trippelende voete tot vurige kniehoogte-skopbewegings, ritmiese systappies, en dreigende vorentoe bewegings deur ’n massa betogers.
Dit volg die aard van die toi-toi-protesoptogte waar betogers met krete, plakkate en soms swaaiende stokke hul ontevredenheid en eise te kenne gee – alles met ritmiese danspatrone, asof die spesifieke betoging sy eie koreografie het.
Kommentare het al daarop gesinspeel dat dit die oorerwing is van die 19de-eeuse Zoeloe-impi’s wat in die Sjaka-oorlogtye eers dansend horingvormige linies opgestel het en dan met krete en assegaaie omhoog direk op die vyand afgestorm het. Ander dink weer toi-toi is ’n ou Zimbabwiese gebruik.
In wat nou as die “seisoen van woede” bestempel word, of die “rebellie van die armes”, die “rebellie van die werkloses”, word die blitsopstande by die dag meer, veral ook nou met die verwagting van ’n verkiesing vroeg aanstaande jaar. Gevaarliker ook, met klipgooiery, brandende motorbande, vernietiging van eiendom, insluitend munisipale geboue, en plundery, met polisieweerstand met rubberkoeëls.
Woorde soos “revolusie” en “teenrevolusie” klink vryelik op.
Optogte, betogings en stakings is deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar wat nou as die “gatvol generasie” se wekroep tot weerstand genoem word, is die broeiende woede onder studente wat in 2015 vlam gevat het oor die koste van universiteitsonderrig. Met die #FeesMustFall-betogings het studente en meelopers gratis onderrig geëis (wat in die doodsnikke van Jacob Zuma se katastrofiese presidentskap summier – deur hom alleen – toegestaan is).
Die vonk vir hierdie dramatiese betogings is getrou op TV uitgesaai. Duidelik was dit ’n keerpunt in die geduld van jong en veral arm studente. Die vonk was by die Universiteit Kaapstad waar aanvanklik betoog is teen die standbeeld van die groot kolonis Cecil John Rhodes (inderwaarheid die groot beredderaar vir die universiteit se behoud).
Rassehaat, lank-gekoesterde griewe, ’n hernude woede teenoor die apartheidsverlede, en ’n klag van koloniale vergrype, asook die aanhitsende retoriek van ’n minderheidsparty soos die Economic Freedom Fighters (EFF) het inderdaad ’n revolusionêre klimaat begin skep. Soms is die EFF-uitsprake woedend rassisties, soms aanvallend op die regeringparty, die ANC. Uiteindelik het die party (wat slegs 9% aanhang het) die aandag op grondbesit geplaas.
Onkeerbaar het hierdie kwessie nou die opruiendste politieke kwessie in die land geword.
Bevoorregting deur die vorige apartheidsregime, grondbesit wat tot die koms van die VOC se Jan van Riebeeck terugherlei word, klink op, met beskuldigings dat grond gesteel is en eise dat grond teruggegee moet word aan die regmatige bewoners. Waarhede en onwaarhede word vermeng en die regering se voorneme om grondonteiening sonder vergoeding te volg moet eers ’n ondersoek in die grondwetlikheid daarvan ondergaan.
Die eise wat sekerlik ook geregverdig kan word, word vertroebel deur onder meer die groot lappe grond wat onder trusteeskap van stamhoofde is wat geen vierkante sentimeter van hul grond wil afstaan nie.
Oor die afgelope tien jaar het die getal kommersiële boere (hoofsaaklik wit) met byna 50% verminder tot 32 000. Bestaansboere, van wie swart en bruin boere die meerderheid is, kry weer probleme om werklike besit van hul grond te kry. Titelaktes vir stedelike bewoners word nou eers toegestaan.
Maar hierdie allerbelangrike stap kom ’n bietjie laat.
Die voorneme om grondonteiening sonder vergoeding as riglyn te volg is ’n plofbare saak. Aangevuur deur die EFF onder die opswepende leier Julius Malema se kreet, “As julle onbewoonde grond sien, gaan vat dit”, het sg plakkers stukke onbewoonde grond rondom woongebiede beset en dadelik skuilings opgerig. Verstommend vinnig het televisiebeelde gewys hoe mense sink-, hout- en glasstrukture kon oprig, matrasse indra, tafels aanmekaar timmer. In baie gebiede is skuilings weer afgebreek. ’n Ontoereikende polisiemag kon net reageer met rookbomme en rubberkoeëls terwyl hulle agter perspex-skilde onder klipgooiers moet deurloop.
Terwyl 26% van die bevolking werkloos is, en 18 miljoen mense elke maand staatstoelae moet ontvang, is ’n groeiende jeug tot groot hoogte slagoffers van ontoereikende, dikwels pateties swak onderwys wat hulle onder meer nie vir werk kwalifiseer nie. Dis hulle wat ’n sigbare rykdom onder hooggeplaaste politici moet aanskou, van ondersoeke verneem wat ongekende vlakke van korrupsie openbaar. Dis hulle wat gevoer word met die toenemende retoriek dat wit mense ryk en rassisties is. Hulle sien dit in die bevoorregte buurte, al word hierdie buurte ook toenemend deur ryk swart middelklasmense bewoon. Dis hierdie jeug wat elke dag verneem hoe gesondheidsorg agteruit gaan; dat hul plaaslike besture nie meer krag of dienste kan lewer nie; dat geld vir behuising iewers verlore gegaan het.
Die dansende massas het genoeg gehad. Die TV-kameras word bondgenote om hul woede te wys. ’n Woede wat nie gou kan of sal bedaar nie.
Buro: MvH