Die land gis of die Bela-wet die RNA gaan kelder

  • 0

Die land sit met opgehoue asems en kyk of die RNE sy grootste krisis  tot dusver gaan oorleef indien president Cyril Ramaphosa vandag (Vrydag) die omstrede Bela-wet gaan onderteken soos wat sy kantoor vroeër die week aangekondig het.

Partye soos die DA en die Vryheidsfront Plus, wat deel is van die RNE, het die afgelope twee dae druk op Ramaphosa probeer uitoefen om die omstrede stuk wetgewing na die parlement terug te verwys. Hulle wil hê dat dit gewysig en aangepas moet word om veral die kommer te besweer dat dit Afrikaanse skole gaan benadeel.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, het Donderdag by die Kaapstadse Persklub gesê as Ramaphosa vandag sou voortgaan om die Bela-wet te onderteken, die DA sy opsies op die pad vorentoe sal moet oorweeg.

Steenhuisen sê die Bela-wet sal die regte van kinders ten opsigte van moedertaalonderrig in gedrang bring.

Hy het nie in sy toespraak voor die Persklub gesê die DA sal die RNE laat ineenstort indien Ramaphosa vandag die wet sou onderteken nie. Hy het egter wel gesê indien daar ernstige en blywende skade aan die ekonomie of die Grondwet aangerig word, die DA van die RNE sal wegstap.

Hy sê die DA se benadering tot die RNE is eerstens om gemeenskaplike terrein te soek.

Die eerste rede waarom die DA deel geword het van die RNE, was volgens Steenhuisen omdat die land dit van hulle vereis het. “Hoe kon ons dit regverdig om Suid-Afrika die rug toe te keer in sy uur van nood toe die geleentheid aan ons gebied is om ’n positiewe bydrae te maak?” 

Die tweede rede waarom die DA deel geword het van die RNE, is dat die alternatief vir Suid-Afrika te aaklig sou wees om te oorweeg indien die RET-faksie van die ANC, die EFF, MK en die kleiner partye onder hulle vlerk ’n manier kon vind om bymekaar te kom en die land in ’n eksistensiële krisis te dompel, het Steenhuisen gesê.

Die Vryheidsfront Plus, wat ook deel van die RNE is, het in ’n verklaring gesê hulle benut hul posisie in die RNE om die nodige druk uit te oefen om die president te oorreed om eerder “die ondeurdagte wet” na die parlement terug te verwys vir die nodige wysigings en verbeteringe.

Die party se woordvoerder oor onderwys in die parlement, Wynand Boshoff,  sê die wet is voor die verkiesing op ’n oorhaastige wyse deur die parlementêre proses gejaag.

Hy het egter ook nie gesê wat sy party se posisie in die RNE sou wees indien Ramaphosa vandag voortgaan om die wet te onderken nie.

ActionSA, wat nie deel van die RNE is nie, het in hulle reaksie gesê indien die DA inderdaad ’n gelyke vennoot in die RNE is, moet die ondertekening van die wet gestaak word.

Met verwysing na Steenhuisen se dreigement om sy opsies te oorweeg as Ramaphosa wel die wet onderteken, moet die DA volgens ActionSA se parlementêre hoofsweep, Lerato Ngobeni, hul geld sit waar hul mond is en die belange van miljoene kinders en onderwysers beskerm.

“Versuim om dit te doen, sal inderdaad bevestig dat hulle bereid is om afstand te doen van die beveiliging van die bietjie integriteit wat oorbly in ons onderwysstelsel ter wille van die behoud van Duitse sportnutsvoertuie en ministeriële byvoordele,” het Ngobeni in ’n verklaring  gesê.

Ramaphosa het Donderdag aan parlementslede in die Nasionale Raad van Provinsies gesê die RNE is daar om te bly en hy voorsien nie ’n bedreiging daarvan nie.

Hy het gesê hy glo nie dat die verskille so groot is dat die deelnemers aan die RNE se paaie gaan skei nie en dat Nelson Mandela die land geleer het dat daar ’n oplossing vir elke probleem is.

Met verwysing na die vorige aand (Woensdagaand) se ete by sy ampswoning in Kaapstad saam met al die verskillende partyleiers wat deel is van die RNE, het hy gesê die partye stem saam dat hulle die probleme wat mag opduik, sal oplos deur te praat totdat daar voldoende konsensus bereik is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top