Die lang messe in die ANC is nou behoorlik uit vir mekaar. ’n Bloedige regstryd waarin die verskillende faksies mekaar in die hof gaan beveg is op hande na die tydelike skorsing van Ace Magashule. Intussen het Jacob Zuma die afgelope week gedreig om sekere “diep geheime” van die ANC te verklap as daar nie opgehou word hom te “teiken” nie.
Dit volg nadat Magashule, soos te verwagte, nie bereid was om sy tydelike skorsing goedsmoeds te aanvaar nie. Hy het nie net aangekondig dat hy sy party hof toe sleep nie, maar hom ook afgevee aan sy skorsingsvoorwaardes dat hy nie namens die ANC mag praat terwyl hy geskors is nie.
Magashule se aankondiging dat hy sy skorsing in die hof gaan betwis, is beantwoord met ’n verklaring van die ANC dat hulle die aansoek gaan teenstaan. Die organisasie het nie op hulle laat wag nie en sommer hulle regspan se name ook bekendgemaak.
@MYANC National Officials met today, Monday, 17th of May 2021 and affirmed the decision to oppose the application lodged by the Secretary General Comrade Ace Magashule to have, among others, his temporary suspension lifted. pic.twitter.com/FRGYAf3HSJ
— African National Congress (@MYANC) May 17, 2021
Die regspan wat die ANC se saak teen Magashule gaan verdedig, sluit twee swaargewig- senior advokate in, onder wie die bekende Wim Trengove. Die ander senior advokaat in die ANC se hoek is Ngwako Maenetje en hulle sal bygestaan word deur Fana Nalane en Buhle Lekokotla.
Magashule se regspan bestaan onder andere uit Dali Mpofu, wat vermoedelik noue bande met die EFF het en na bewering ’n verhouding gehad met Winnie Mandela toe sy en Nelson Mandela nog getroud was.
Mpofu was onlangs ook in die nuus toe hy voor die Zondo-kommissie een van die advokate wat namens Pravin Gordhan opgetree het, toegesnou het om stil te bly (“shut up”). Hy is later deur regter Zondo tereggewys vir sy optrede.
Magashule het hom die wrewel van sy party op die hals gehaal omdat hy hom nie wou neerlê by die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se besluit om hom tydelik van sy amp te onthef totdat sy onskuld in die hof bewys is nie.
Magashule vra nie net die hof om sy skorsing op te hef nie, maar ook dat die hof sy eensydige besluit om Cyril Ramaphosa uit die party te skors, geldig verklaar. Dit het nie net Ramaphosa nie, maar ook verskeie ander groot kanonne in die ANC behoorlik die harnas ingejaag. Die meeste regslui en politieke waarnemers meen Magashule se eis is absurd en dat hy geen mag gehad het om Ramaphosa uit die party te skors nie.
Die finale streep in die sand tussen die twee opponerende faksies in die ANC is waarskynlik die afgelope week getrek tydens die hofverskyning van Jacob Zuma.
Al Zuma se belangrike bondgenote het hulle tydens sy hofverskyning as ’n gebaar van solidariteit sigbaar om hom geskaar. Hulle het geen geheim daarvan gemaak dat daar ’n bloedige stryd voorlê om die hart en siel van die ANC te wen nie.
Onder diegene wat hulle saam met Magashule om Zuma geskaar het, was verskeie omstrede figure soos Carl Niehaus, Tony Yengeni, en Zuma se seun Duduzane Zuma, wat ook groot vriende met die Gupta-broers is, en nog ’n hele paar ander hoogs omstrede figure in die ANC.
Tydens die geleentheid het Magashule in stryd met sy skorsingsvoorwaardes ’n vurige toespraak afgesteek en die skare verder aangehits. Hy het gesê niemand kan hom verbied om te praat nie en niemand sal hom uit die ANC verwyder nie. Volgens Magashule sal hy in die ANC doodgaan. Hy sê hy is nie van plan om ’n ander party te stig of om by ’n ander party aan te sluit nie. Dit dui daarop dat daar nog groot binnegevegte in die ANC voorlê wat die party waarskynlik nog verder sal verdeel.
Die Ramaphosa-kamp meen egter Magashule het sy hand finaal oorspeel. Hulle sê sy jongste optrede laat die party geen ander keuse as om weer teen hom op te tree en moontlik selfs permanent uit te skop as lid van die ANC nie.
Zuma het na afloop van sy vlugtige hofverskyning ook nie op hom laat wag om nog verdere olie op die smeulende vure in die ANC te gooi toe hy gedreig het om “diep ANC-geheime” te verklap indien die beweerde, sogenaamde aanslag op hom voortduur nie. Hy het reeds voor die Zondo-kommissie beweer dat hy oor plofbare binne-inligting van die ANC beskik en gedreig om dit alles op die lappe te bring as daar voortgegaan word om hom te teiken.
Die tafel is dus gedek vir ’n hele paar bondels vuil wasgoed uit die ANC se binnekring om in die openbaar opgehang te word.
Politieke waarnemers is dit eens dat beide Magashule en Zuma besig is om met hul rug teen die muur te veg en vermoedelik nie sal skroom om soveel skade as moontlik aan die ANC aan te rig voordat daar van hulle moontlik ontslae geraak word nie.