Die gebeure rondom president Cyril Ramaphosa die afgelope ruk en wat straks oor die volgende klompie dae vir hom voorlê, herinner aan twee gesegdes wat deesdae al hoe meer wil klink asof dit spesifiek met Suid-Afrika in gedagte deel van die algemene politieke woordeskat geword het.
Eers die bekender gesegde, wat blykbaar eerste deur die Britse politikus Harold Wilson geuiter is, waarskynlik in 1964, naamlik dat ’n week ’n lang tyd in die politiek is. Ongetwyfeld is dit ’n gesegde wat op sy beste die afgelope ruk in Suid-Afrika geïllustreer is, hoofsaaklik weens die Phala Phala-skandaal wat Ramaphosa omkring.
Omtrent week ná week tref ’n nuwe onthullende vraag die staatshoof oor wat presies die oorsprong van die gesteelde Amerikaanse dollars by sy wildplaas in Limpopo was en waarom die diefstal van ’n deel van die geld nie by die plaaslike polisie aangemeld is nie, maar ook hoekom die geld nie voor die diefstal in ’n bank gedeponeer is nie. Die gebeure word deur verskeie wetstoepassingsagentskappe, onder meer die Openbare Beskermer en die Valke, sowel as die Reserwebank en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ondersoek.
Terwyl daar egter nog soveel onduidelikheid hieroor bestaan, is dit ’n ope geheim dat die “fluitjieblaser” in hierdie verhaal iemand is wat in sekere geledere ’n slegte reputasie het weens sy eie doen en late as ’n voormalige direkteur-generaal van die staatsveiligheidsagentskap. Dit is Arthur Fraser wat Ramaphosa by die polisie aangekla het, omdat die vermeende diewe glo aangerand is, ontvoer is en omgekoop is om te swyg oor die diefstal.
Maar selfs al het Ramaphosa rêrig niks van dié aard gedoen of goedgekeur nie, sou Suid-Afrikaners dalk nooit geweet het van die diefstal (en die dollars!) as dit nie vir Fraser se optrede was nie – wel met sy eie voorbedagte rade, natuurlik. Uiteindelik is die staatshoof gedwing om die diefstal self te erken – maar dié het hy op ’n gekwalifiseerde wyse gedoen: dit was glad nie so baie geld, het hy benadruk, as wat Fraser beweer het nie. Die bedrag wat Fraser in sy beëdigde verklaring voorgehou het, was $4-miljoen, maar Ramaphosa skop vas dat dit in werklikheid “slegs” $580 000 was.
“Ek is ’n sakeman wat handel dryf in wild, wat koop en verkoop,” het hy gesê, asof hy oor hierdie “bekentenis” gekomplimenteer moes word – behalwe dat ’n president, ingevolge die Suid-Afrikaanse Grondwet, nie veronderstel is om sy sakebelange voort te sit wanneer hy die amp aanvaar nie. Dit is veronderstel om in ’n blinde trust geplaas te word, en het Ramaphosa dan nie belowe dit is gedoen nadat hy trou aan die Grondwet gesweer het nie? (“I, Matamela Cyril Ramaphosa, hereby solemnly swear...”)
Nou het ’n onafhanklike paneel, onder leiding van die voormalige Konstitusionele Hof-regter Sandile Ngcobo, self hul bedenkinge in hul verslag aan die speaker Nosiviwe Mapisa-Ngcakula uitgespreek oor of die geld wel die opbrengste van ’n wildtransaksie is.
Die paneel moes ondersoek instel daarna of Ramaphosa deur die Phala Phala-gebeure moontlik homself aan die oortreding van die Grondwet en sy ampseed skuldig gemaak het. In wat as verdoemende bevindings beskryf is, het die paneel bevind dat prima facie-bewyse bestaan dat Ramaphosa heelwat het om te verduidelik.
Indien die verslag deur die Nasionale Vergadering aanvaar word, kan dit beteken dat ’n parlementêre ad hoc-komitee die taak opgelê sal word om Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas. Hier sal hy sy saak behoorlik moet stel, iets wat hy tot nou op ’n minder oortuigende wyse gedoen het deur merendeels te fokus op die “onwaarhede” wat in die beskuldigings teen hom vervat is. Boonop sou die Ngcobo-paneel hul mandaat oorskry het, voer hy aan, en die ANC se parlementêre koukus en Nasionale Uitvoerende-komitee steun hom daarin. Dié jongste hofgeding kan wel beteken dat die kwessie net verder uitgerek sal word sonder dat Suid-Afrikaners enigsins wyser is oor of Ramaphosa sy reputasie as teenkorrupsieleier gestand gaan doen en of hy dit verloën het.
Die tweede, ietwat minder bekende gesegde is een wat ook aan ’n Britse politikus toegedig word: Joseph Chamberlain sou reeds in 1886 gemaan het dat dit in die politiek nie sinvol is om verder as die komende twee weke te kyk nie. Die raakpunt tussen die twee stellings, agt dekades van mekaar verwyder, is dat die politiek onvoorspelbaar is.
Ramaphosa kan daarvan getuig. In Desember 2017 is hy met ’n meerderheid van 179 stemme teen Nkosazana Dlamini-Zuma verkies, ’n oorwinning wat beskou is, gering soos dit was, as ’n afjak vir die “Zuma-kamp”, waardeur verwys word na haar eksman en nou ook voormalige staatshoof. Bewerings van bedrog teen Zuma en sy beweerde “staatskapingsbende” het ná die konferensie daartoe gelei dat hy (streng) “aangepor” is om te bedank, wat die weg gebaan het vir Ramaphosa om in Februarie 2018 Zuma se vorige kantoor in die Uniegebou te betree.
Dit moes die geboorte van ’n “nuwe dagbreek” aandui, en so is daar ook vir baie lank geglo, ’n wegbeweeg van staatskaping, korrupsie en swak dienslewering; dit is die hoop waaraan sy ondersteuners steeds vasklou, ten spyte daarvan dat hy vroeër voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig het dat hy besluit het om nie teen Zuma uit te praat of te bedank nie, want dit sou net vir hoofopskrifte in die media gesorg het en geen einde aan staatskaping gemaak het nie.
Maar as dit nou net nie vir die Phala Phala-slaggat was nie. Hierdie uitdaging het nou veroorsaak dat onsekerheid bestaan oor of hy steeds die onkreukbaarste kandidaat vir die leierspos is. Wat wel in sy guns tel, is dat sy teenstander hierdie keer – Zweli Mhize, voormalige minister van gesondheid – self vir beweerde bedrog bedank het (maar eintlik deur “Skoon Cyril” in die pad gesteek is).
Politieke kommentators en die algemene publiek glo duidelik dat Ramaphosa steeds die gunsteling en geskikste vir die rol van ANC-leier en president van die republiek is. Die aantal nominasies wat hy gekry het, plaas hom ook gemaklik voor Mkhize, wat op sigself ’n positiewe aanduiding van sy wenkanse is. Dit gee hom straks ook ’n optimistiese gevoel van déjà vu met dié dat die party se verkiesingskonferensie vanaf die 16de Desember op dieselfde datums en ook weer by die Nasrec-sentrum, suid van Johannesburg, plaasvind.
Gedagtig aan die wyse waarop adjunkpresident David Mabuza in 2017 – op verrassende wyse – gehelp het om Ramaphosa oor die laaste verkiesingsheuwel te stoot, is daar tog rede om te wonder hoe sake hierdie slag op die konferensievloer sal uitspeel. Mabuza is tans die afwesige rolspeler; hy kon nie genoeg nominasies kry om vir ’n leiersrol in aanmerking te kom nie, maar dit hoef nie noodwendig te beteken dat hy heeltemal buite rekening gelaat kan word nie. Nominasies kan steeds met 25% steun van afgevaardigdes vir die stemmery gemaak word.
Waaroor Suid-Afrikaners dalk eerder bekommerd behoort te wees, is wat die opbrengste van hul aandele in ’n voortgesette Ramaphosa-presidentskap sal wees as dit waar is dat ’n tweede termyn eintlik maar die posbekleër in die posisie van ’n flou makou stel. Of, hou vas aan julle stoele, wie neem oor wanneer hy in elk geval uiteindelik ná ’n tweede termyn tog die tuig moet neerlê?
Die komende week sal straks die langste week in die Suid-Afrikaanse politiek wees, om Harold Wilson hier te betrek, maar dan is dit ook so dat Chamberlain se woord bly staan dat dit ons weinig gaan baat om verder as die volgende twee weke te probeer kyk. Die politiek bly onvoorspelbaar.