Die African National Congress, die huidige regerende politieke party in Suid-Afrika, het van 8 tot 12 Januarie sy 107de bestaansjaar gevier.
Dit was ’n vreemde viering.
Mank, desperaat verdeeld deur faksies, het hierdie veelgeroemde anti-apartheidsparty ’n amper tragies-heroïese beeld uitgestraal. Beloftes van grondbesit, werk, studiegeleenthede, herlewing in die trotse, oudste revolusiebeweging in die wêreld is herhaaldelik beloof.
Aan die een kant dapper, aan die ander kant pateties, want ondanks die huidige dawerende retoriek blyk die sg oudste vryheidsbeweging in die geskiedenis op sy knieë te wees.
Disintegrasie, skynheiligheid, beskuldigings van verraad, korrupsie, teenoor hartstogtelike uitroepe dat die geliefde party weer integriteit toon, het die vele verjaardagbyeenkomste gekenmerk.
En ’n belangrike nasionale verkiesing lê voor.
Meer as 500 voornemende partye het al aangekondig dat hulle die verkiesing sal beveg. Uiteindelik sal daar moontlik 20 partye wees wat wel op die kiesdokumente verskyn. In die aanloop tot die nasionale verkiesing in Mei lyk dit wel of die ou ANC-party tog die pyp sal rook. Hierdie keer onder die leiding van die gesofistikeerde sakeman en politikus Cyril Ramaphosa.
Maar daar is bloed op die grond. Ramaphosa is nie die hele ANC se liefling nie. Die voormalige president, Jacob Zuma, “leef” byna soos die Shakespeariaanse Banquo se spook op die politieke toneel. Die land is gewoond aan skouspelagtige verkiesingstonele: protes, grootpratery, stamdanse; tans word selfs beweerde moorde op politieke verteenwoordigers ondersoek.
Maar nou, stil soos ’n skaduwee, beweeg Jacob Zuma van stadions tot kleiner groepies, duik sy naam op in faksies wat teen Ramaphosa verdeeldheid saai. Zuma, word geglo, wil die groot Zoeloe-deel van die ANC teen Ramaphosa draai.
Nog vreemder: Jacob Zuma, oudpresident, se naam verskyn nou op die kandidatelys om ’n plek as ’n gewone parlementslid te probeer bekom. Om weer vir leierskap te veg? Of om verder verdeeldheid te saai?
En toe die heel vreemdste: president Cyril Ramaphosa nooi Zuma om saam met hom op die eerste van die 107de-verjaardag-vierings aan die hooftafel te sit.
Ramaphosa loof Zuma. Die skare “groet” dawerend. Zuma knik sy bekende sjarmante erkenning. Maar wat is agter hierdie nogal bisarre vertoning aan die gebeur? Verlam Ramaphosa nou vir Zuma met sy pryssange? Of wil hy ’n prentjie skilder van Zuma wat soos ’n Judas aan dieselfde tafel sit?
Pas het bewerings die media bereik dat Zuma by die stigting van die African Transformation Movement (ATM) betrokke is. Hierdie party is deur ’n baie sterk kerkgroepering gestig om aan die komende verkiesing deel te neem.
Die vreemde openbare verhouding tussen Zuma en Ramaphosa speel af teen ’n bitter agtergrond.
In Desember 2017 het Ramaphosa met ’n skrale 179 stemme die presidentskap van die ANC gewen. Twee maande later het hy Zuma gedwing om afstand te doen van die presidentskap van die land. Zuma was onwillig, maar moes toegee. In die maande wat volg, sou Ramaphosa as landspresident kommissies aanstel om die verrotting in die Zuma-tydperk te ondersoek.
Soos ’n oudstamkoning het Zuma ’n kabinet van oor die 70 lede om hom geskaar. Hy het gunste uitgedeel; ontslae geraak van mense wat teen hom was. Hy het vir hom en sy vier (nou vyf) vroue ’n fabelagtige paleiskraal laat bou met moderne hysbakke, krale vir sy beeste en bokke, ’n amfiteater, ’n grasdakhuis vir elke vrou.
Zuma het tydens sy nege jaar lange termyn stamgebruike laat saamspeel met moderne demokratiese instellings. Hy was in ewe groot maat geliefd en gehaat. Sy nalatenskap van korrupsie was ’n byna verlamde staatsmasjien.
Nou moet Ramaphosa die stukke optel. Sakeleiers van alle rasse skyn hom goedgesind te wees. Hy kan op gelyke vlak met die wêreld se leiers praat.
Maar in sy eie party moet hy ligvoets beweeg. In die hoogste groeperinge van die ANC, en dus ook leierskap in die ganse land, het hy vyande. Hy moet byvoorbeeld met ’n uitgesproke teenstander, die tweede belangrikste leier in die party, die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule saambeweeg. Magashule is ’n Zuma-man. Korrupsieklagtes hang oor sy kop.
Die ooglopende aftakeling van die ANC het duidelik geblyk uit die kandidaatlyste vir deelname aan die komende verkiesing wat deur takke in die provinsies gekies is. Beweerde onmin en omkopery vir gunste het gesorg vir verwoede onderonsies wat reeds daarop dui dat dit ’n onderlinge slagveld kan word.
Reeds het afsplintering van die party begin deur onvergenoegde Zumaïete wat ander partye soek om te ondersteun. Nou blyk dit dat die kern van die ANC ook geraak word deur die versplintering onder ’n aantal vakbonde wat as onafhanklike politieke partye tot die verkiesing wil toetree. Die ANC is in wese ’n alliansie van die “moeder”-African National Congress, Cosatu (’n sterk vakbondgerigte beweging) en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP).
Die ANC is ’n byna heroïese beweging wat op rassegrondslag ontstaan het in 1912 ná die Uniewording van Suid-Afrika toe die heersende Britse bestuur onafhanklike wit Suid-Afrikaanse belange erken het, maar nie die swart bevolking op dieselfde platform geplaas het nie. Hoofsaaklik intellektuele swart mense, onder wie die immer gevierde Sol Plaatje (wat ses Shakespeare-toneelstukke in Tswana vertaal het), het die beweging begin.
Deur die jare was daar ’n afplatting, maar uiteindelik het die vryheidsbeweging in baie lande hoë aansien geniet. Hoewel die beweging self onder onderlinge verraad gely het, het dit nogtans die onverbiddelike apartheidsregering gedwing om uiteindelik tot ’n demokratiese bestel te beweeg. Ook het die party een van die moderne tyd se grootste figure, Nelson Mandela, gebaar.
Met die 107de verjaardag is die oproepe om integriteit, waardigheid, en respek vir die geskiedenis van die ANC herhaaldelik genoem, maar dit was duidelik dat die beweging se Mandela-koers verbrokkel.
Die vraag bly spook: Hoe lank sal die vesel van die ANC nog kan uithou. Is dit sterk genoeg om met die verkiesing as ’n oortuigende wenner uit te tree?
Buro: MvH