Die meeste ouers vra dat skole gesluit bly

  • 0

Meer as die helfte van die land se volwassenes sê skole moet gesluit bly totdat die COVID-19-situasie in die land verbeter.

Skole is veronderstel om op 25 Januarie vir onderwysers en bestuurspersoneel en op 27 Januarie vir leerlinge te heropen. ’n Studie wat deur die Universiteit van Johannesburg en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) gedoen is toon egter dat 53% volwasse Suid-Afrikaners wil hê skole moet gesluit bly totdat die COVID-19-situasie verbeter het.

Die aanlyn studie wat tussen 30 Desember 2020 en 6 Januarie 2021 gedoen is, het getoon 19% volwassenes glo skole moet slegs vir graad 7- en graad 12-leerlinge heropen. Altesaam 19% van die respondente het gesê skole moet vir alle grade heropen en 9% het gesê hulle weet nie.

Mans en vroue voel omtrent ewe sterk (52% en 53% onderskeidelik) oor die latere heropening van skole.

Wanneer die verskillende rasse en inkomstegroepe in ag geneem word, bestaan daar egter uiteenlopende oortuigings. Mense in laerinkomstegroepe is meer gekant teen heropening as diegene in die hoërinkomstegroepe. Sowat 53% van die respondente wat minder as R1 000 per maand verdien, meen skole moet toe bly, teenoor 41% van diegene wat meer as R20 000 per maand verdien.

Van die verskillende rassegroepe in die land was Indiërs die sterkste teen die heropening gekant, met 77% wat sê skole moenie nou al heropen nie. Bruin (63%) en swart volwassenes (52%) is ook sterk daarteen gekant. Daarteenoor was slegs 37% wit volwassenes nie ten gunste van heropening nie.

Die navorsers sê die resultate moet gelees word teen die agtergrond van die vorige bevindings in die eerste rondte in April en Mei verlede jaar wat getoon het 79% volwassenes is uiters bekommerd dat die situasie ’n negatiewe impak op hulle kinders se opvoeding sal hê.

Die teenkanting teen heropening kom die sterkste voor by diegene wat ekonomies die kwesbaarste is en die minste vertroue het dat hulle kinders se skole in staat is om ’n veilige omgewing vir hulle kinders te verseker.

Die Departement van Basiese Onderwys het intussen gesê hulle beplan om aanlyn skole in die staatsektor te open. Die direkteur-generaal van die Departement van Onderwys, Mathanzima Mweli, sê hulle werk saam met verskaffers van aanlyn onderwys en is besig om beleid in dié verband te formuleer. Mweli sê belangstelling in aanlyn onderwys neem toe weens die pandemie. Hy sê onderwysondernemings het begin om aanlyn skole te open om in die vraag te voorsien.

Die onderwysvakbond NAPTOSA (National Professional Teachers’ Organisation of South Africa) het ook dié week ’n beroep op die Departement van Basiese Onderwys gedoen om te verseker dat streng maatreëls by skole ingestel word om leerlinge teen die koronavirus te beskerm, sodat skole kan heropen.

Dit volg nadat president Ramaphosa Maandagaand aangekondig het dat die Nasionale Koronavirus-bevelsraad nog nie ’n besluit geneem het oor of skole later vandeesmaand moet heropen soos wat beplan is nie.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ook die regering gevra om onderwysers te prioritiseer wanneer hy met sy inentingsveldtog begin.

Die SAOU sê 1 659 onderwysers is reeds aan die siekte dood, terwyl nog duisende die virus opgedoen het. Die unie se bestuurshoof, Chris Kloppers, het aan die SABC gesê onderwysers moet prioriteit ontvang om die integriteit van die skooljaar te beskerm wat op 27 Januarie begin.

Sommige privaat skole het reeds die begin van hulle nuwe skooljaar met ’n week uitgestel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top