“Die mense het gepraat.”
Jy sal moeilik ’n meer akkurate stelling oor die munisipale verkiesing van 2021 kry as hierdie een deur pres Cyril Ramaphosa. Dit is wat hy Donderdag by die seremonie gesê het waar Suid-Afrika se Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) die amptelike verkiesingsuitslae bekendgemaak het.
Die eenvoud van hierdie vierwoordsin kan egter misleidend wees. Die mense hét gepraat. Maar hulle het in werklikheid hárd gepraat, en wat hulle gesê het, was dat hulle vertroue verloor het in die regerende party (ANC) – sowel as in die amptelike opposisie (DA).
Wat hulle ook gesê het, is dat hulle nou eerder ander (kleiner, nuwer) partye, burgerlike bewegings en belastingsbetalersverenigings ’n kans wil gee om sáám met die groot kanonne plaaslike regerings te bestuur.
Hoe anders verklaar ’n mens die afname in steun vir die ANC (46,04% teenoor die 53,91% van die vorige plaaslike verkiesing in 2016) en die DA se daling van 26,9% in 2016 tot 21,84% hierdie keer? Nogtans het die ANC steeds die meerderheid stemme in 161 munisipaliteite op homself verenig en die DA in 13 – waarvan die stad Kaapstad sy spogprestasie is. Ook hier het die DA egter steun ingeboet: Terwyl tot 66% van stemgeregtigde Kapenaars in 2016 hul kruisie vir die blou party getrek het en 60,9% in 2011, was slegs 58,22% hierdie keer bereid om so te maak.
Toegegee, ’n hele aantal faktore kon veroorsaak het dat die groot partye steun afgestaan het. Die wedywering was weinig tevore so streng soos hierdie keer, met stembriewe wat nou so lank geword het as met die nasionale en provinsiale verkiesings. Elkeen van die deelnemers sou dus noodwendig steun afknyp by die groot kokkedore.
Jy moet ook in berekening bring dat daar vooraf onsekerheid was oor of die verkiesing nog vanjaar sal geskied, weens Covid. Hieroor is die OVK selfs hof toe, maar die Konstitusionele Hof het hulle teruggestuur met ’n duidelike boodskap dat die pandemie alleen nie genoeg rede sou wees om teen die Grondwet se voorskrif vir die hou van verkiesings op te tree nie. Dit het die kommissie – en partye – met sowat 40 dae gelaat om vir die verkiesing voor te berei; en dit sou nooit ’n geringe taak wees nie.
Logistieke haakplekke was daar voorspelbaar wel: Suid-Afrika se wisselvallige kragvoorsiening; stemlokale wat laat geopen het (geen nuwe verskynsel nie); mense wie se name van die kieserslys “verdwyn” het. En hoe op dees aarde kon ’n OVK-beampte by ’n stemlokaal in Limpopo haar deur ’n kieser laat ompraat dat hulle ’n stembusboks moet oopmaak omdat hy ’n fout op sy stembriefie gemaak het? ’n Mens se mond hang steeds in ongeloof oop daaroor.
Noudat die mense gepraat het, soos Ramaphosa gesê het, is dit tyd vir die politieke partye en bewegings om met mekaar oor koalisievorming te praat. In ’n allemintige 66 munisipaliteite kon geen party ’n volstrekte meerderheid behaal nie – en dit noodsaak toenadering en onderhandelings tussen die partye wat daar setels kon wen om binne 14 dae ’n plaaslike bestuur saam te stel. “Koalisies” is daarom die gonswoord van die week.
Sommige partye het reeds vooraf verklaar dat hulle onder geen omstandighede met sekeres sal saamwerk nie. Die DA sê basta met die ANC en die sosialistiese EFF; die nuutgestigte ActionSA van Herman Mashaba wil met die ANC niks te doen hê nie; en die EFF se boodskap is onomwonde daaroor dat enige party wat nie sý beleid wil steun nie, maar moet verbyhou. Slegs die ANC en kleiner rolspelers soos die VF Plus en Patriotic Alliance (nóg ’n nuweling) hou die deur wawyd oop vir samewerking met énige vennoot met wie hulle tot ’n vergelyk kan kom.
Oor koalisies het ’n ander partyleier, Bantu Holomisa van die UDM, ’n paar dinge te sê gehad wat wyd aandag behoort te geniet. Samewerking tussen die ANC en die DA in munisipaliteite waar geen van die twee meerderhede kon behaal nie, glo hy, sal in belang van die hele land wees. “Dit is tyd dat die ANC en die DA volwasse optree en hul verskille in plaaslike regering los en saamwerk om dienslewering en rasseverhoudinge in die land te verbeter,” sê hy. “Ons het verval tot waar mense ras as ’n verskoning gebruik om agter swak dienslewering te skuil.”
Maar as die twee partye tot ’n vergelyk kan kom, meen hy, sal dit nie slegs rassespanning verlig nie, maar ook daartoe bydra dat basiese dienslewering verbeter. Ramaphosa het immers gedurende die verkiesingsveldtog self erken dat die ANC gemeenskappe in die steek laat wat dienslewering betref, en dit het hom genoop om kiesers om verskoning te vra. Die DA-leier, John Steenhuisen, kon met goeie rede aan kiesers sý party se bewese rekord met dienslewering op plaaslike vlak voorhou. Holomisa glo die kloof tussen die partye kan oorbrug word: “As ’n slaggat nie herstel word nie, is dit vir [almal] ’n probleem, want albei gebruik die pad. As ’n waterpyp bars, gaan albei nie water hê nie.”
Politiekery moet vir die provinsiale en nasionale vlak gelos word, redeneer Holomisa. Mense op plaaslike vlak “is siek en sat van politieke ideologie”.
Straks boor hy hier ’n aar raak oor waarom soveel kiesers in die pas afgelope verkiesing op ’n ánder wyse met die politieke partye gepraat het – hulle het gewoon weggebly van die stembus af. Uit die bevolkingsgetal van meer as 40 miljoen wat stemgeregtig is, het slegs 26 miljoen vir die verkiesing geregistreer – en uiteindelik het ’n skamele 12 miljoen by die stembus opgedaag.
Oorhoofs beskou kan Suid-Afrika vanjaar weer (steeds) aan die res van die vasteland ’n voorbeeld voorhou van hoe verkiesings in ’n demokrasie behoort te geskied – in die algemeen vry en regverdig. Maar die gevaarligte flik-flikker-flik oor die ongedurigheid by miljoene landsburgers wat nie die sin daarin sien om te gaan stem nie – en dit slegs 27 jaar nadat álle Suid-Afrikaners die grondwetlike reg bekom het om aan verkiesings deel te neem, ’n reg waarvoor Nelson Mandela 27 jaar agter tralies deurgebring het.
Hoe moet hý in sy ewige rusplek hieroor voel?
Buro: MvH