………
“Uit die liedere waarvan die woorde opgeteken is, kan ’n mens jou net indink hoe die San saans om die vuur gesit en sing het. Een daarvan is oor !na!na’rishe, ’n groot voël wat sing oor hoe die mense van sy land verdwyn – presies wat met die San en hulle taal gebeur het.”
………
In die 1870’s het die San-mense die dood van hulle taal in die gesig gestaar, maar drie mense het na hulle stories oor die sterre, die veld, diere en hulle lewens geluister. Vandag is dié nalatenskap ’n ryk erfenisskat, skryf Elsabé Brits.
Die maan is net ’n man wat die son kwaad gemaak het. Daarom sny die son (se strale) die maan die hele tyd, tot daar net ’n stukkie van hom oorbly. Die maan pleit by die son om tog net ’n stukkie van hom vir sy kinders te spaar. Van dié klein stukkie groei hy weer. Dan begin die son hom weer sny.
Die verhaal van die maan het ||kábbo (Jantje Tooren) in 1872 aan ’n Duitse taalkundige, Wilhelm Bleek in Kaapstad vertel. Dié storie en nog honderde meer.
Ons sou basies niks van die San se gelowe, rituele, stories en intieme lewe met die omgewing geweet het as dit nie vir Wilhelm Bleek en sy skoonsuster Lucy Lloyd, en later een van Bleek se kinders, Dorothea Bleek, was nie. Hulle het die taal, kultuur, liedjies, kuns, poëtiese stories en persoonlike geskiedenis van die San in tientalle dagboeke en verslae opgeteken.
’n Bladsy uit een van Lucy Lloyd se vele dagboeke waarin daar ’n storie van die maan in Engels is en dan in |xam, ’n taal van die San. Foto: The Digital Bleek and Lloyd, Centre for Curating the Archive, University of Cape Town
Dié argief van 13 000 bladsye is ook reeds in sy geheel digitaal beskikbaar gestel deur die Universiteit van Kaapstad, Unisa, die Iziko Suid-Afrikaase Museum en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek, danksy befondings van die Andrew W Mellonstigting en De Beers.
Bleek, ’n Duitse filoloog, was voorheen in Suid-Afrika gewees en het reeds navorsing oor die San gedoen. In 1862 is hy op aandrang van Sir George Grey, voormalige goewerneur van die Kaapkolonie, aangestel as kurator van die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek toe Grey reeds aangestel is as goewerneur in Nieu-Seeland.
Die eerste sprekers van |xam, ’n inheemse San-taal wat nou uitgesterf het, is aan Bleek voorgestel in 1863. Hulle is van die Karoo na die Breekwatertronk in Kaapstad gebring vir verskeie oortredings. Bleek het hulle daar gaan besoek en ’n lys van woorde en sinne saamgestel in ’n alfabetiese woordeskat. Stadig maar seker het hy ’n tipe geskrewe taal ontwikkel.
Die voorblad van Wilhelm Bleek se eerste boek waarin hy die San se taal opgeteken het. Foto: The Digital Bleek and Lloyd, Centre for Curating the Archive, University of Cape Town
Teen 1870 het Lucy Lloyd, sy Engelse skoonsuster, saam met hom begin werk. Sy was die suster van Bleek se vrou, Jemima. Hulle het saam die lewensverhale en die volksoorleweringe van die San opgeteken by die Bleeks se huis in Mowbray, Kaapstad. In dié tyd het hulle 28 mense wat gevangenes was by die Breekwatertronk aan die Waterkant besoek en toestemming gekry dat een by die familie kom bly.
’n Jong man, |a!kunta, het aanvanklik by hulle kom bly, maar hy was nie so bekend met sy volksgeskiedenis nie. Daarna het hulle eerste ware onderwyser ||kábbo by hulle aangesluit, van Februarie 1871 tot Oktoer 1873, en mettertyd nog lede van sy familie.
Volgens die uitgebreide Digitale Bleek en Lloyd-argief aan die Universiteit van Kaapstad, beteken ||kábbo se naam “droom”. Teen die tyd dat hy in Mowbray beland het, was hy reeds twee jaar in die tronk vir veediefstal of omdat hy gedeel het in die buit.
Hy het aan Lloyd vertel hoe hy in Kaapstad beland het. Hy was saam met sy gesin en hulle kinders toe swartmense hulle gevang het en op ’n wa gelaai het, later moes hulle loop. Nadat hulle lam en springbok geëet het, gerook en geslaap het, is hulle voor ’n magistraat gebring. Maar toe moes hulle hul vroue agterlaat en hulle is in boeie geslaan en na ’n tronk geneem, met ’n vuurwa – ’n trein.
Dié mense het nog die kwagga (Equus quagga quagga) vry sien rondloop in hulle eie omgewing. Die unieke sebraspesie van die vlaktes het laat in die 1800’s uitgesterf. “Die kwagga is wild en hardloop en is ook ’n wind-ding,” het ||kábbo gesê. In die vroeë dae was die kwagga en die bobbejaan ook mense gewees, volgens die San.
Teen die tyd dat hy die twee navorsers ontmoet het, was hy tussen 55 en 60 jaar oud. Hy het verlang na sy vrou, !kwabba-an (Oud Lies), maar Bleek en Lloyd wat self geldelik gesukkel het, kon haar nie opspoor nie. Sy skoonseun |han≠kass’o (Klein Jantje) het hom beskryf as ’n mantisman, of bidspringkaan-man. Dié insek het besonderse spirituele beketekenis vir die San.
………
“Oor die maan, son en sterre is daar mooi stories. Nog voor die San was daar ander mense, die voormense, en in dié tyd het ’n meisie as in die lug gegooi en dit is hoe die melkweg gevorm het.”
………
Die bidspringkaan (|kaggen) sit op die jagter se pylkoker en kan voorspel of die jagter die hartebees gaan raakskiet of nie. Indien die jagter se vrou die bidspringkaan doodgemaak of weggejaag het, sal die hartebees herstel en leef, omdat die bidspringkaan nie gerespekteer is nie. Om suksesvol te jag, moet jy hom altyd respekteer.
Hy het Mowbray verlaat nadat sy vonnis toe reeds ’n wyle uitgedien was, en sy vrou opgespoor in Victoria-Wes. Hoewel hy wou terugkeer, het hy nooit nie, en is in 1876 oorlede. Uiteindelik het ||kábbo 3 000 bladsye tot die hele versameling bygedra met sy stories.
||kábbo (Jantje Tooren) wat sowat 3 000 bladsye se stories en woordeskat tot Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd se versameling oor die San-taal bygedra het van 1871 tot 1873. Foto: The Digital Bleek and Lloyd, Centre for Curating the Archive, University of Cape Town
Oor die maan, son en sterre is daar mooi stories. Nog voor die San was daar ander mense, die voormense, en in dié tyd het ’n meisie as in die lug gegooi en dit is hoe die melkweg gevorm het.
Die maan is gemaak van ’n lang, wit volstruisveer. Nadat |kaggen, die bidspringkaan, die eland se galblaas gebreek en hom verblind het, kruip dié na die plek van die volstruis waar hy die veer kry. Hy het dit in die lug opgegooi waar dit die maan geword het, sodat dit hom kan help om weer te sien. Maar moenie vir die maan lag nie, dit kan jou duur te staan kom.
≠kasin (Klaas Katkop) het dié storie vertel van die maan wat die haas na die mense gestuur het dat die dood nie die einde is nie. Jy lewe weer daarna. Maar die haas het dit omgedraai in ’n storie van die dood. Die maan was woedend en het die haas met ’n warm klip op sy mond geslaan – en dit is waar die haas sy gesplete lip vandaan gekry het.
Oor die dood is daar ook talle verhale. Dia!kwain (David Hoesar) het vertel wanneer iemand sterf, val die hart om, soos wanneer iets wat voorheen regop gestaan het, nou na ’n kant toe val. Ook, dat die sterre weet wanneer ’n San doodgaan. Die hamerkopvoël vlieg dan oor jou mense, hy roep uit, sodat jou mense weet dat iemand wat aan hulle behoort, dood is. Meisies wat deur die weerlig doodgeslaan is, word sterre, het hy vertel. En dié wat weggeneem is deur die water, word waterblomme wat hulle nie laat pluk nie, maar verdwyn wanneer ’n mens naderkom. Sulke blomme moet jy alleen laat.
Ná Bleek se dood in 1875 het hy in sy testament seker gemaak dat Lloyd sy werk kan voortsit. Dit het verseker dat haar werk erken is in ’n era waar mans hoofsaaklik as navorsers gereken is. Sy het nie net die werk voortgesit nie, maar ook aansienlik uitgebrei, verslae geskryf en Dorothea Bleek begin oplei om in haar pa se voetspore te volg. Lloyd het gesorg dat die seminale werk Specimens of bushman folklore in 1911 gepubliseer word.
Dia!kwain het in Mei 1875 die skets gemaak van die “waterbul”, die dier wat in die water leef en deur die sjamaan gevang word en deur die land gelei word om reën te maak. Foto: The Digital Bleek and Lloyd, Centre for Curating the Archive, University of Cape Town
’n Bladsy uit een van Lucy Lloyd se vele dagboeke waarin daar ’n storie van die maan in Engels is en dan in |xam, ’n taal van die San. Foto: The Digital Bleek and Lloyd, Centre for Curating the Archive, University of Cape Town
Lloyd, wat in 1914 dood is, was die eerste vrou om ’n eredoktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad te ontvang.
Dorothea Bleek het uiteindelik ’n ook aansienlike hoeveelheid van die werk laat publiseer, onder meer The Mantis and his friends. Ná haar dood het ’n woordeboek verskyn. Sy het ook ver gereis en onderhoude gevoer met talle Sanmense en opnames van hulle stemme en liedere gemaak. Die Universiteit van die Witwatersrand wou aan Dorothea ’n eredoktorsgraad gee, maar sy het dit geweier en gesê die enigste dr Bleek behoort haar pa te wees. Sy is in 1948 oorlede.
Uit die liedere waarvan die woorde opgeteken is, kan ’n mens jou net indink hoe die San saans om die vuur gesit en sing het. Een daarvan is oor !na!na’rishe, ’n groot voël wat sing oor hoe die mense van sy land verdwyn – presies wat met die San en hulle taal gebeur het.
Bronne:
- The Digital Bleek and Lloyd Centre for Curating the Archive, University of Cape Town: http://lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za/
- The broken string: the last words of an extinct people deur Neil Bennun
Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.
Buro: MvH