Die naam is Biden, James Biden

  • 0

’n Week of wat gelede is Sean Connery dood, die akteur wat tog maar die ware James Bond was. Saterdag het die begin van die einde van Donald Trump aangebreek met Joe Biden se oorwinning. Sien ons dan die aanvang van ’n nuwe era, en die doodsnikke van die tyd van die ware man, die een wat vroulike spioene die een na die ander omkap met sy regop pistool, of vrouens tussen die bene gryp sonder dat iets met hul gebeur?

Nie juis nie. Ian Fleming, die skepper van Bond, is lankal dood, maar nuwe skrywers voer die mitologie voort, en ’n rits ander akteurs het 007 nou al in die plek van Connery vertolk. Joe Biden mag wel die Amerikaanse verkiesing amptelik gewen het, maar Trumpism staan sterker as ooit. Net Biden en Barack Obama het meer stemme getrek as hy in die geskiedenis van presidentsverkiesings.

Joe Biden (Grafika: Pixabay.com)

Daar was baie redes om, soos ek, ’n aanhanger van Connery te wees. Nie net het hy Bond ’n donker kant gegee nie, hy het gewys hoe bleskoppe sexy kan wees, en in ernstiger rolprente soos The hill en The name of the rose was hy voortreflik. Daardie gevegstoneel met Robert Shaw in From Russia with love … daardie geligte wenkbrou, en daardie sweem van tandepastaskuim in sy mond wanneer hy sê, “Bond, James Bond” ...

Sean Connery gedurende die verfilming van die James Bond-rolprent Diamonds are forever (1971) in Amsterdam, Nederland (Foto: Rob Mieremet - Nationaal Archief [CC BY-SA 3.0 NL], via Wikimedia Commons)

Sy subtiele selfspot en tuxedo camp het gesorg vir van die beste oomblikke van understated satire in die ganse filmkuns, van spot met die gehele Britse Empire. Dit het gemaak dat ’n mens, as jy wou, die flagrante manlike chauvinisme van die figuur en die rolprente as ’n opstuurdery kon geniet.

As jy wóú – want die uiteindelike effek was steeds ’n diepe ongemak by vele kykers, veral vroue, oor die sosiopatiese moordlus, die misantropiese selfvoldaanheid, en fanatieke patriotisme wat veral Connery se weergawe van Bond moes oordra. En sy sterstatus self was die inkarnasie van die nuwe na-oorlogse Aanglosentriese mag, in die kulturele en die tegnologiese vorm, wat die naam Sean Connery na die verste uithoeke van die planeet geneem het.

Verby was die era van groot oorlog: rooibaadjies, modderslote en slaaibakhelms. Die dreadnoughts van die 19de eeu is vervang met ’n Aston Martin, die akkurate horlosies wat die Opiumoorloë gewen het, met ’n miniradio aan Bond se harige pols, die gesensureerde slagtings in die kolonies met ’n pistool en ’n knaldemper. Stywe generaals wat G&T in ’n opgekommandeerde perdestal afsluk, was nou ’n gigolo met ’n martini langs ’n dobbeltafel, “shaken not shtirred”.

In ’n sin is Donald Trump ook ’n akteur, wat die rol van Donald Trump vertolk, soos geskep deur Donald Trump. Nie juis ’n bedrywer van volhoubare besighede nie; hy was eintlik die eerste Paris Hilton, of die eerste Kim Kardashian, meer bekend om sy bekendheid as sy suksesse. Donald Trump is ’n hol figuur wat homself vul met die populistiese drogredenasie van die dag solank dit hom bo laat uitkom.

Die voormalige spioen Ian Fleming se Bond-verhale het ’n wêreld geskep waarin ’n enkele man met die hele staat agter hom in die geheim moes optree om booswigte dood te maak. Dit moes in die geheim wees om een rede alleen: Hy het magte gekry wat ons gewone mense nie kon nie, om eers te skiet en dan te vra. Dit gaan oor daardie ruimte waarin jy straffeloos mag optree, sonder dat iemand jou gaan aankla van moord of dagvaar vir miljoene omdat jy sy bril afgeklap het: menige man se fantasie.

Dis wanneer normale instellings kwansuis gefaal het, behalwe MI6 met die onsigbare M aan die stuur. En hoewel sy naam in die laaste 007-roman onthul is, kan “M” vir enigiets anders staan as die middeljarige, manlike, meester en majesteitsdienaar wat die imperiale patriargie verteenwoordig? Eweneens was een van die faktore wat Trump gewild gemaak het, die Washington-“swamp” van instellings wat nie daarin kon slaag om Amerika groots en patriargaal te hou nie, want hulle was kwansuis deurtrek met “wokeness” en die gewaande Islam lite van Barack Obama, Trump se “whipping boy”.

Soos Agent 007 carte blanche by M gekry het, het Agent Orange homself totale vryheid gegee, veral die totale persvryheid wat die straffelose sosiale media hom toegelaat het. Twintig duisend leuens later het hy tot op die laaste wantroue in die demokrasie gesaai, iets wat op sy beste reeds fragiel en twyfelagtig is. “Trump’s incessant questioning of the basic institutions of our government and electoral system has now produced his desired result, even if he may not be back for another four years: a superpower torn apart from within, no longer trusting of its own democracy,” het The New Yorker se Susan B Glasser geskryf.

Soos ’n Bond wat onskuldige ski-oorde en oases in woestyne opblaas omdat sy vyande hul pistole daar gelig het, het Trump die reeds wankelrige en gebrekkige Amerikaanse mediabedryf verder vernietig met sy “fake news”-Ster van Dawid-plakker op enigiets wat hom nie aangestaan het nie. 

Trouens, hy het die feitelikheid van feite self verdag gemaak. Sosiale media rangskik mense reeds in silo’s. Hari Kunzru argumenteer in die New York Review of Books dat vanuit hierdie wêreld met sy vele gelyk-geagte beskouings, die probleem nie te min waarheid is nie, maar te veel pogings om die waarheid onder al die disinformasie te vind, te veel “telling truth to power”, omdat onder Trump en ander populiste elke samesweringsteorie gewig kry as vergestalting van ’n geheime mag wat hulle wil ondermyn. 

“With the additional strain imposed by the pandemic, the costs in time, effort, and mental well-being of fact-checking are beyond most voters. Instead, many people are understandably trying to find comfort by retreating into their existing interpretative communities, refusing information that challenges their biases,” skryf Kunzru.

Ten minste was Connery as gewone, verouderende akteur en glansfiguur uit ’n suinige landjie soos Skotland die lewende bewys dat Bond net fiksie en vermaak was. Maar Trump het ware mag gehad – hy laat ’n paar duisend COVID-19-slagoffers agter, insluitende een van sy eie opponente in die stryd om die Republikeinse kandidatuur in 2016, Herman Cain, wat sonder ’n masker by ’n Trump-byeenkoms was.

Connery is opgevolg deur ander akteurs, sommige van hulle ware pin-ups op tieners se plakborde, of nog beter materiaal vir satire, soos Roger Moore met sy dubbelborspakke. Maar die ongeluk is nou dat Trump se opvolger, Joe Biden, ’n groot verbetering vir Amerikaners mag wees, maar nie noodwendig vir die res van die wêreld nie. 

Die Amerikaanse Senaat, wat weer Republikeins gaan wees, gaan van Biden ’n “lame duck”-president maak, behalwe wanneer dit by buitelandse sake kom. Die een goeie gevolg is dat Amerika weer vinnig by die Parys-klimaatakkoord gaan aansluit. Biden is ’n buitelandsesake-spesialis, maar dit kan bloot beteken dat hy sy soewereiniteit daar sal wil bewys, op die gebied waar hy tuis is.

Omdat dit so nodig geword het om van Trump ontslae te raak, moes die Demokrate ’n kompromiskandidaat kies, en so die ontgogeling onder gewone Amerikaners wat Trump so goed kon uitbuit, eers tersyde stel. Deel van hierdie ontgogeling was die besef dat Amerika nie juis meer geliefd geraak het na die 9/11-aanvalle nie, eerder die teenoorgestelde. En dit was nie net omdat hy ’n piesangrepublikein as leier gekies het nie.

Biden was visepresident onder Obama, die president wat die meeste aanvalle deur hommeltuie op Amerika se vyande geloods het. In die rolprentwêreld is spioene superhelde; in werklikheid is hulle meestal inligtingsklerke – die naaste wat die meeste aan 007-aksie kom, is om knoppies te druk wat 10 000 km daarvandaan konvooie en huweliksprosessies opblaas, met regslui wat aan hul elmboë sit om hul straffeloosheid te verseker.

Soos Jackson Lears in die New York Review of Books dit stel: “The great danger is that much of the Biden administration will likely be composed of Washington insiders who are devoted to the failed policies of the past – austerity at home, overextended military commitments abroad. His administration will reaffirm Washington’s dedication to ‘global leadership’, the polite term for imperial hegemony.”

James Bond gaan nog deur ’n Google-robot gespeel word. Al wat oorbly, is om die nuwe titel vir die volgende episodes van hierdie Amerikaanse oorheersing te bedink: From Kabul with kebabs? Casino Corona? A mask for your eyes only? Drones are forever?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top