Die nadraai van 29 Mei se verkiesingsuitslag

  • 0

Piet Croucamp, Liezel de Lange, Gert van der Westhuizen en Oscar van Heerden (Foto: Jean Oosthuizen)

Die  vorming van die regering van nasionale eenheid (RNE) was die gevolg van ’n goeie ooreenkoms tussen die oorgrote meerderheid van die wit middelklas en die aspirerende swart middelklas in Suid-Afrika. Een van die slaggate is egter dat die werkersklas uitgesluit voel. As daar nie hiermee ’n plan gemaak word nie, kan dit in die toekoms ’n probleem word.

So het die politieke kommentator Oscar van Heerden tydens ’n bespreking ("Die sweepslag van 29 Mei") by die Toyota Stellenbosch Woordfees gesê.

Die gesprek, deel van die Netwerk24-gespreksreeks, het gehandel oor die uitkoms van die verkiesing vroeër vanjaar en die vraag waarheen die land polities op pad is met die RNE.

Die ander deelnemers aan die gesprek was Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit (NWU) en Liezel de Lange, besturende redakteur van Rapport. Die gespreksleier was Gert van der Westhuizen van Netwerk24.

Die paneel het gewys op die uitdagings wat die RNE in die gesig staar en die moeilike verhoudings wat die partye onderling moet bestuur. Hulle stem saam dit was die beste ooreenkoms, gegewe die land se politieke omstandighede.

Croucamp sê die RNE is ’n goeie idee, maar die probleem lê by die uitvoering daarvan. Hy het gewys op die ANC se plundering van staatshulpbronne. Hy sê die rede waarom die plundering plaasgevind het, is dat daar geen oorsig was deur die wetgewers nie. Daardie balans is nog nie herstel nie, ten spyte daarvan dat die ANC nie meer ’n volstrekte meerderheid het nie.

Croucamp sê daar moes ’n beter balans in die uitvoerende gesag gewees het tussen die deelnemende partye om die RNE werklik effektief te maak. Die DA het ingestem om ’n paar ministers in die uitvoerende gesag te kry, maar kon nie daarin slaag om die magsbalans in die uitvoerende gesag te verander nie.

“Hulle het geen werklike invloed as dit oor die magsbalans gaan nie. John Steenhuisen is so bly om ’n minister te wees dat die idee dat sy party ’n wig en ’n teenwig moes wees, nie tot wasdom kom nie. As daar werklik wigte en teenwigte was, sou dit nie nodig gewees het om heeltyd te dreig dat hulle gaan loop nie.”

Wat nodig is, is dat daar ’n balans in die kabinet moet wees sodat die ANC nie kan doen wat hy wil nie. As mens dit nie kan stopsit nie, is die RNE betekenisloos, sê Croucamp.

Die enigste party wat volgens die paneel op die oomblik werklik groeipotensiaal in Suid-Afrika het, is die MKP van Jacob Zuma, en dit is nie wat die land graag wil hê nie.

De Lange was van mening dat die MKP hoofsaaklik rondom Zuma gebou is, maar Croucamp sê dit sal ’n fout wees om te dink die MKP gaan verdwyn as Zuma nie meer daar is nie. Hy meen dat die party groot groeipotensiaal het met óf sonder Zuma.

Van Heerden stem saam dat vanjaar se stemme vir die MKP meer as net ’n protesstem teen die ANC was. Dit het gegaan om ’n alternatiewe keuse teenoor die ANC, en die MKP gaan die ANC se grootste kompetisie wees in die volgende verkiesing, sê hy.

Die paneel was dit ook eens dat dit baie belangrik vir Ramaphosa is dat die RNE moet slaag. Dit bied aan hom ’n geleentheid om die ANC na die middelgrond te probeer beweeg waar hy self ook baie meer tuis voel.

Vir die RNE om te kan slaag, moet daar volgens Van Heerden ’n paar dinge gebeur. In die eerste instansie moet hulle verby volgende jaar se plaaslike verkiesing kom en al die partye in die RNE moet besluit hulle bly deel daarvan, ongeag die uitkoms van die verkiesing. In die tweede plek moet die ANC se volgende leier met die beginsel van ’n RNE saamstem.

De Lange sê die vraag of die RNE gaan oorleef tot die volgende verkiesing, is ’n baie belangrike vraag. Sy sê dit hang af van die binnepolitiek in die ANC, maar ook van die deelnemende partye in die RNE se onderlinge samewerking en hoe hulle kwessies soos die Bela-wet en die nasionale gesondheidsversekering (NGV) gaan hanteer. Nie een van die sprekers voorsien egter dat die DA maklik uit die RNE sal onttrek nie, omdat dit tot nadeel van die land sou wees.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top