Die komende naweek sal lotsbepalend wees vir president Cyril Ramaphosa se politieke toekoms.
’n Diep-verdeelde ANC sal die volgende vyf dae (16 tot 20 Desember) tydens hulle nasionale beleidskonferensie wat by Nasrec in Johannesburg gehou word, rigtinggewende besluite vir die organisasie moet neem tydens hulle 55ste nasionale konferensie.
Gathered in this room are individuals dedicated to a better South Africa and to an economic recovery that leaves no-one behind. South Africa is recovering. The ANC is being restored to its founding values. Our country is moving forward.
#ANCGala pic.twitter.com/toX4T7SDuT— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) December 15, 2022
Ongeveer 4 500 afgevaardigdes van meer as 3 000 takke landwyd woon die party se beleidskonferensie by wat vandag (Vrydag) begin en tot volgende Dinsdag sal duur.
Die hele land se oë is op die verkiesing van die party se president gerig waar president Cyril Ramaphosa en Zweli Mkhize sake sal uitspook vir die leierskapsposisie.
Die eerste rondte van stemming by die konferensie sal na verwagting môre (17 Desember) begin en die stemproses vir die ANC se topsesposisies sal oor twee dae plaasvind.
Programme of the 55th ANC National Conference
16-20 December 2022#ANC55 pic.twitter.com/WG1PTHuany
— Toko Masemola (@TokoMasemola) December 15, 2022
Ramaphosa en die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, is die twee gunstelingkandidate om president te word aangesien hulle die meeste steun van die takke gekry het.
Albei van hulle gaan tans onder ’n wolk van verdenking gebuk, maar nie een van hulle is al aangekla van enige misdaad nie en hou vol dat hulle niks verkeerd gedoen het nie.
Mkhize het in 2021 bedank as minister van gesondheid te midde van bewerings dat hy en sy gesin onbehoorlik voordeel getrek het uit ’n staatskontrak wat deur die departement van gesondheid aan ’n kommunikasiemaatskappy genaamd Digital Vibes toegeken is.
Ramaphosa is op sy beurt onder beleg nadat ’n onafhanklike paneel bevind het daar is prima facie getuienis dat hy hom na bewering skuldig gemaak het aan growwe oortredings van die grondwet tydens die Phala Phala-saak waaroor die hele land die afgelope weke gons. Die parlement het die verslag egter die afgelope week verwerp met behulp van die ANC se meerderheidsteun in die nasionale vergadering.
Dlamini-Zuma wat tydens die ANC se vorige beleidskonferensie naelskraap teen Ramaphosa verloor het om as president verkies te word, het nie vanjaar genoeg steun van die takke gekry om weer benoem te word nie. Sy het egter reeds aangedui dat sy wel vir die pos beskikbaar sal wees indien sy genoeg steun van die vloer af kry om benoem te word.
Sy staar egter ’n dissiplinêre verhoor deur haar eie party in die gesig omdat sy die afgelope week in die parlement teen die party se opdrag gestem het dat die Phala Phala-verslag verwerp word. ’n Brief is Donderdag aan Dlamini-Zuma oorhandig om haar van die dissiplinêre proses teen haar en die vier kollegas wat die party se opdrag verontagsaam het, in kennis te stel.
Die name van die genomineerde kandidate vir die topsesposisies is ook reeds bekend gemaak, maar bykomende kandidate kan tydens die konferensie van die vloer benoem word indien minstens 25% van die stemgeregtigde afgevaardigdes sulke benoemings steun.
Ramaphosa loop loshande voor wat betref die presidensiële wedloop met 2037 takke wat hom benoem het teenoor Zweli Mkize se 916 benoemings.
Vir die posisie van adjunkpresident het Paul Mashatile 1 791 benoemings teenoor Ronald Lamola se 427 en Oscar Mabuyane se 397.
Die volledige lys benoemings vir die topses met die getal takke wat hulle genomineer het, in hakies is:
President: Cyril Ramaphosa (2037); Zweli Mkize (916)
Adjunkpresident: Paul Mashatile (1791); Ronald Lamola (427); Oscar Mabuyane (397)
Sekretaris-generaal: Mdumiseni Ntuli (1225); Phumulo Masualle (427); Fikile Mbalula (749)
Adjunksekretaris-generaal: Nomvula Mokonyane (1779); Febe Potgieter (905)
Voorsitter: Stanley Mathabatha (1492); Gwede Mantashe (978); David Masondo (501)
Tesourier-generaal: Bejani Chauke (552); Pule Mabe (428); Mzwandile Masina (348)
Verkiesings vir poste word deur middel van geheime stemming gedoen en die wenner word deur ’n gewone meerderheid bepaal wat beteken dat wie ook al die meeste stemme het, die verkiesing wen.
Bykomende benoemings vir die posisies van president, nasionale voorsitter, sekretaris-generaal en tesourier-generaal sal, volgens die konsepprogram, om 22:00 môreaand begin waarna die stemproses sal begin.
Vanjaar se konferensie word nes die vorige konferensie gekenmerk deur ’n al groter wordende verdeeldheid in die organisasie tussen wat algemeen bekend is as die pro-Ramaphosa-faksie en die pro-Zuma-faksie.
Tydens die registrasieproses Donderdag het gemoedere reeds hoog begin loop soos wat afgevaardigdes hulle steun hoorbaar verklaar het vir hul voorkeurkandidate.
#ANC55 "Zweli, Zweli wethu Zweli...," sing @ANCKZN delegates at the registration centre for the 55th national conference of the governing ANC in Nasrec. The province has nominated @DrZweliMkhize for @MYANC Presidency. #eNCA pic.twitter.com/Sx79yrws6M
— Siphamandla Goge (@SiphamandlaGoge) December 15, 2022
Behalwe die topsesleiers moet die konferensie ook 80 bykomende lede verkies wat die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) sal uitmaak, wat tussen konferensies as die hoogste besluitnemende liggaam van die ANC funksioneer.
Die hooggeregshof in Johannesburg het Donderdag op die vooraand van die konferensie se aanvang nog ’n dringende hofaansoek aangehoor van nege ANC-lede wat ontevrede is omdat hulle nie die party se lys van 200 ANC NUK-kandidate gehaal het nie.