Die Nederlandse aandklokreël deur ’n regter opgehef

  • 0

Die aandklokreël wat aan die einde van Januarie in Nederland afgekondig is en soveel woede veroorsaak het, is enkele ure gelede deur ’n regter ongeldig verklaar. Dit moet onmiddellik opgehef word.

Die hofsaak is op tegniese gronde gebring deur die Stichting Viruswaarheid, ’n groep wat beweer COVID-19 is nie meer as ’n ernstige griep nie, en die staat daarom wil dwing om “Samen Terug Naar Normaal” te keer, soos hulle dit op Facebook stel.

Mark Rutte, die minister-president in beheer van die regering wat op 15 Januarie 2021 bedank het weens ’n skandaal, maar tog aanbly om die land deur die COVID-19-krisis te help bestuur, het die aandklokreël op advies van die regering se mediese adviseurs afgekondig.

Skeptici het toe reeds beweer dat hy daarmee die vinger sou kon wys na ander, sodat hy nie die sondebok sou wees daarvoor wanneer Nederland weer verkiesing hou nie.

Om die aandklokreël te kon implementeer, het Rutte die Wet buitengewone bevoegdheden burgerlijk gezag (Wbbbg) gebruik.

Dié wet stel die Nederlandse regering in staat om in tye van erge nood burgers se vryhede op te hef sonder om toestemming te vra by die twee kamers van die Nederlandse parlement.

Die rede vir hierdie wet is dat indien ’n noodsituasie sou ontwikkel wat mense se lewens in gevaar kan stel, en só dringend is dat daar nie tyd sou wees om onderskeie kamers van die parlement in die saak te ken nie, die regering wel die reg sou hê om drasties en vinnig op te tree. Een voorbeeld van so ’n situasie sou wees ’n dyk wat breek, of dreig om te breek. So iets kan geweldige skade en lewensverlies veroorsaak en die regering sou dan die reg hê om mense te verskuif, of wat ook al nodig sou wees om hulle lewens te red, al sou sulke optrede onder normale omstandighede nie wettig wees nie.

Stichting Viruswaarheid se argument voor die hof was dat daar tevore al gesprekke was oor aandklokmaatreëls, maar dat hulle nooit verder gevoer is nie, ook nie voor Rutte se kabinet bedank het nie. (In België is daar byvoorbeeld reeds vanaf 19 Oktober 2020 ’n aandklokreël.) Daar kan dus nie beweer word dat spoed so noodsaaklik was dat die twee kamers nie betrek kon word nie, was Stichting Viruswaarheid se argument. Die regter het hulle gelyk gegee.

Rutte sou kon appelleer, maar al sou hy wou, sal Nederlanders steeds vannag mag rondloop soos hulle wil.

Bronne:

Twee groot Nederlandse dagblaaie het ook reeds hieroor berig:

Lees ook:

Die geweld in Nederland – ’n Suid-Afrikaner probeer verstaan

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top