Dié week het vir Suid-Afrikaners met ’n besliste gevoel van vernuwing begin ná die inhuldiging die afgelope naweek van Matamela Cyril Ramaphosa as die land se nuwe staatshoof.
Nou is daar geen onsekerheid meer oor ’n “nuwe daeraad” nie, oftewel ’n verbintenis tot die wegbeweeg van die korrupsiebesmette Jacob Zuma-era nie. Wat eens so swaar soos donker wolke oor die land gehang het, het nou plek gemaak vir die mooiweergevoel van ’n hoopvoller Ramaphosa-era.
Tot voor die naweek het Ramaphosa die laaste jaar van Zuma se tweede termyn voltooi; Saterdag is hy ingesweer vir sy eerste volwaardige termyn. “En ek onderneem vandag hier,” het hy verklaar, “dat ek julle sal dien, sal saamwerk met julle, sy aan sy, om die Suid-Afrika te bou wat ons wil hê en verdien.”
Dit was ’n “puik en besielende seremonie”, skryf Barnard Beukman, redakteur van die dagblad Beeld.
Die plek wat vir hierdie geleentheid gekies is, was Loftus Versfeld in Pretoria, ’n bastion van die nasionale sport rugby – en histories ook ’n simbool van Afrikanerskap. Of dit so bedoel was, is nie vooraf uitgespel nie, maar dit is sekerlik nie onvanpas om ook die simboliek in die keuse van plek uit te wys nie: dat dit nóg ’n aanduiding is van Ramaphosa as manteldraer van Nelson Mandela se versoeningsprojek.
In die teenwoordigheid van Mandela se voorganger, FW de Klerk, en sy opvolgers, Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe, het Ramaphosa onder meer verwys na die “glorieryke oggend” van Mandela se eie inhuldiging 25 jaar gelede.
Sedertdien het die land sowel “seisoene van oorvloed” as “tye van skaarsheid” ervaar, het Ramaphosa dit digterlik gestel: “Ons mense het die warm omhelsing van vryheid ervaar. (...) En soos wat die kettings van verdrukking afgeval het, het hulle ook gevoel hoe hulle horisonne verbreed en hul lewe op allerlei wyses verbeter.”
Maar eweneens was daar oomblikke van twyfel. Dié is deur Ramaphosa op ’n eerlike manier uitgestippel: talle gaan slaap steeds honger; ander sterf aan geneesbare siektes; sommige leef in die armoedigste omstandighede en sit sonder werk.
En toe hierdie stuk kaalkopwaarheid: “In onlangse tye moes ons mense toekyk hoe diegene in wie hulle hul vertroue gestel het, aan die versoeking van mag en rykdom toegegee het. Hulle moes sien hoedat ons demokratiese instellings weggekalwe is en hulpbronne geplunder is.”
Die man voor wie se deur baie van wat die afgelope dekade in Suid-Afrika skeefgeloop het, gelê moet word, Jacob Zuma, was nie by die inhuldiging teenwoordig nie. Hy het dalk nie eens na Ramaphosa se toespraak geluister nie. Maar sou enigiemand hom by die seremonie gemis het? Onwaarskynlik.
En men kan beswaarlik die ironie miskyk: Zuma het verlede week die hof probeer oorreed om die tiental bedrogklagte teen hom nietig te verklaar. Dié klagte is omtrent ’n dekade gelede op omstrede wyse teruggetrek, maar is uiteindelik weer ingestel – en deurentyd het hy daarop aangedring dat hy sy “dag in die hof” gegun moet word. Nou veg hy daartéén.
Beukman deel in sy rubriek ’n ander waarneming, te wete dat hy by die inhuldiging ook ’n onrustigheid onder die magselite oor hul toekoms en poste bespeur het. Vanselfsprekend sal heelwat van hulle aanstellings wees wat onder Zuma se bewind geskied het – en Ramaphosa belowe landsburgers gereeld dat ’n groot skoonmaakoperasie op hande is.
Hierdie pleidooi was deel van sy toespraak Saterdag: “Laat ons ’n pakt vorm vir ’n effektiewe, kundige en etiese staat, ’n staat vry van korrupsie; vir maatskappye wat maatskaplike waarde genereer en menslike ontwikkeling ’n hupstoot gee; vir verkose amptenare en staatsdienswerkers wat getrou geen ander belange as die publiek s’n dien nie.”
En hierin het Ramaphosa natuurlik ’n Voortrekker-rol te speel, waarvoor hy sy erns ten toon moet stel met die aankondiging hierdie week van sy eerste werklike “eie” kabinet. Die verwagting was dat hy dit Sondag sou doen, of Maandag, maar al wat gebeur het, was ’n aankondiging uit die presidensie dat dit later in die week sal geskied.
Dit het vir heelwat bespiegeling gesorg oor wat vir die vertraging verantwoordelik is. Nóg raadpleging met sy politieke bondgenote en ander rolspelers, sê sy woordvoerder, Khusela Diko. Maar dít op sigself is veelseggend, omdat die inhuldiging van parlementslede verlede week byna oorskadu is deur die voorafgaande onttrekkings van senior ANC-lede soos die voormalige speaker, Baleka Mbete, en een van die voormalige ministers wat by staatskaping betrek word, Nomvula Mokonyane.
Die groter verrassing was die versoek van Ramaphosa se vorige adjunk, David Mabuza, dat sy inhuldiging as LP uitgestel moet word totdat hy voor die ANC se integriteitskomitee verskyn het – die komitee wat hom en ander in die aanloop tot die verkiesing as ongeskikte kandidate uitgewys het. Maar Mabuza was het ’n aandeel gehad aan Ramaphosa se verkiesing as ANC-leier by die party se nasionale konferensie in Desember 2017 en dit gaan daarom slim spel van die President vereis om te verseker dat hy alle groeperinge binne die ANC met sy kabinetsamestelling tevrede stel.
Toe hy verlede week deur ’n TV-joernalis gevra is hoe hy gaan verseker dat hy aan almal se verwagtinge voldoen, het hy op sy gewone vriendelike wyse geantwoord dat hy sal verseker dat dit ’n goedverteenwoordigende kabinet is. Hy het selfs sy doenlysie gedeel: ’n kabinet met ’n mengsel van kundigheid, geslag, ouderdom, demografie en nasionale verspreiding.
Nou word daar gewag om te sien watse politieke systappe hierdie nuwe kaptein van Loftus met sy “spankeuse” sal uitvoer.
’n Mens wonder of hy ook in hierdie opsig, getrou aan die Mandela-nalatenskap en die betekenis van sy Venda-naam, die mense van sy land gaan betower.
Buro: MvH