Die gevaarlikste vrou in die land. Dragon Lady. Nie opgewasse vir die taak nie. Te magtig.
Sy moet val.
Busisiwe Mkhwebane (Foto: YouTube)
Om die kop van Busisiwe Mkhwebane vlieg sulke beskuldigings soos kartetse. Onder die rumoerige faksiebewegings in die Suid-Afrikaanse regering is Mkhwebane se pos as die openbare beskermer (OB), ’n belangrike grondwetlike instelling, uiters omstrede.
Die pos is een van die hoogstes in die land. Die OB kan inderdaad vir die president aanbevelings doen waaraan die presidensiële kantoor moet antwoord.
Die pos, wat deur die parlement verkies en aanbeveel word, kan slegs deur die parlement weer teruggetrek word, sou die klagtes teen die OB so sterk word dat hy of sy as onbevoeg verklaar word. So iets het nog nooit voorheen gebeur nie.
Wat wel gebeur het, was dat die vorige OB, Thuli Madonsela, aan die pos onberispelike status gegee het met omvattende en diepgaande ondersoeke wat selfs die voormalige president van die land, Jacob Zuma, aan die kaak gestel het.
Maar Busi, soos die huidige OB soms neerhalend bekend geword het, word wyd gesien as ’n Zuma-aanbeveling terwyl hy president was. Sy party, die ANC, het haar destyds in die pos ingestem.
Toe is Zuma met groot oneer uit sy amp. Die OB word steeds as ’n Zuma-volgeling gesien in die faksie wat binne die regeringsparty nog teen president, Cyril Ramaphosa aanhou stemming maak.
Mkhwebane, ’n besonder aantreklike vrou wat soms in treffende Afrika-uitrustings en -juwele gesien word, het uit die staanspoor van haar termyn van twee jaar omstrede uitsprake gelewer in sake wat vir ondersoek aan haar gerig is.
Twee van die bevindings oor beslissings van haar wat vir finale oordeel aan die hof voorgelê is, was striemend teen haar. Dit het gevolg na onder meer ’n ondersoek na ’n opspraakwekkende landbouonderneming waarby hooggeplaastes in die Vrystaatse provinsiale regering na bewering miljoene rande oneerlik gebaat het. Die OB se verslag is deur die hof as “onwettig en ongrondwetlik, dus ongeldig” beskou. ’n Harde oordeel.
Uit hierdie ondersoek en hofbevinding het die OB duidelik haar vooroordele gewys deur ’n hoogs omstrede politieke amptenaar, Ace Magashule, hoegenaamd nie skuldig te bevind aan enige aandeel in die omstrede projek nie. Ondersoekende joernaliste het egter aangevoer dat Magashule wel diep betrokke by die skelmspul was.
Toe, met ’n duidelik deursigtige agenda, skok sy met ’n ongewone, en uiters riskante, uitspraak wat die politieke bestel, en die land, geruk het. Wou sy die President se kabinetaanstellings beïnvloed om gedienstig te wees aan die linkse politieke faksie in die parlement, die Economic Freedom Fighters (EFF)? So het die vloed van beskuldigings teen haar besluit.
Die storm het oor die persoon en amp van ’n uiters hooggeagte politikus, Pravin Gordhan, gebars. Gordhan, ’n langdurige minister in die ANC-regering, word beskou as een van die land se voorste politici in finansiële aangeleenthede. Hy is pro-Ramaphosa, sterk anti-Zuma. Hy het gedugte ervaring in belasting en finansiële oorsig oor regeringsake.
Gordhan het met geleentheid vervroegde uittrede vir ’n hoë amptenaar, Ivan Pillay, goedgekeur. Ná die uittrede het Gordhan weer vir Pillay aangestel in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens-kantoor. n Saak vir ongeregtige optrede is teen hom gemaak. Die saak is later weer teruggetrek. Dit was duidelik dat dit geen kriminele oortreding was nie.
Pravin Gordhan is ’n doring in die skoen van die sg revolusionêre EFF-party. Kort voor die nasionale verkiesing in Mei is die klag weer aan die OB voorgelê.
Toe kies Mkhwebane om haar uitspraak op ’n vreemde manier te lewer.
Die nuwe president, Cyril Ramaphosa, sou op 25 Mei ingehuldig word. (Dit was vir ’n aanskoulike massabyeenkoms beplan.) Onverwags hou die OB op 24 Mei ’n mediakonferensie. Sy kondig aan dat haar kantoor bevind het dat Gordhan onregmatig vervroegde uittrede vir ’n amptenaar gegun het en dieselfde amptenaar weer in diens gestel het. Sy bevind dat die President aandag hieraan moet skenk.
Die OB se spreekwoordelike onderrok hang toe uit: Sy wil verhoed dat Gordhan weer ’n minister word. (Ramaphosa het groot ophef daarvan gemaak dat hy net eerbare mense in sy kabinet gaan aanstel.) Die media sien onmiddellik die hand van die EFF agter die OB se besluit.
Maar Ramaphosa besluit om sy kabinet nie, soos verwag, byna onmiddellik na sy inhuldiging aan te kondig nie. Hy sê dat hy sy kabinet eers later sal aankondig.
Intussen het Gordhan se prokureurs die OB se uitspraak hof toe geneem.
Het Busisiwe Mkhwebane haar goedversorgde hand (met lang rooi naels) oorspeel? Kon sy die gewilde teenkorrupsie-Gordhan uit die kabinet hou? (Die EFF steier self onder vermeende korrupsieklagte.) Uiteindelik, op Woensdagaand 29 Mei, kondig Ramaphosa sy kabinet aan, met Pravin Gordhan in sy ou pos as minister van openbare ondernemings.
Regslui was dit eens dat Gordhan nie ’n kriminele oortreding gepleeg het met sy instemming tot ’n vervroegde aftrede van die betrokke amptenaar nie.
Die EFF stotter van verontwaardiging oor Gordhan se aanstelling as kabinetslid. Maar die publiek, en veral sosiale kommentators, verguis die OB.
Die algemene oordeel is dat die OB se “beskerming” net vir sekere mense en instansies bedoel is. Dat sy veel langer as OB kan dien, lyk hoogs onwaarskynlik.
Buro: MvH