Die oudste landbougenootskap in die land vier fees

  • 0

Landbouskoue sorg vir gehalte

Dink kos. Dink wyn. Dink klere. Dink boere. Dink skougehalte van alles wat lekker is.

Gesondheid

Daar is 190 jaar gelede ’n landbougenootskap gestig wat nou bloedjonk en spoggerig is.

Ons daaglikse brood

Op 29 November 1831 is die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap gestig. Hulle het 190 jaar later, op 29 November 2021, makietie gehou tydens ’n glansgeleentheid op die Cavalli-landgoed net buite Stellenbosch. Meer nog, 25 jaar gelede is Agri-Expo gestig, ’n bemarkingsorganisasie wat Suid-Afrikaanse landbou met vernuwende idees en kundigheid dien. Agri-Expo is ’n integrale deel van die oorspronklike genootskap.

Heelwat silwer is oor 190 jaar uitgedeel

Natuurlik was daar hutsmerke, en so het #190YearsofHeritage en #25YearsofInnovation saam met #AgriExpo oor Twitter en ander platforms gevlieg.

Hier, in die middel, is Kobus en Mariëtte Basson, eienaars van Kleine Zalze Wyne, wat die Cap Classique vir die aand geskenk het. Links en regs is joernaliste Maryke en Clifford Roberts.

Die vieringe is afgeskop deur die klink van glasies Kleine Zalze Cap Classique op die stoep.

Landbouprodukte

Vrugte, gesondheid uit die landbouer se grond uit, is beskikbaar gestel om aan te peusel.

Die wisseltrofee vir die kampioenramlam het voor my bord gestaan

’n Baie groot deel van die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap se bestaansrede is en was die hou van landbouskoue, en die silwerware wat oral uitgestal is, kon dit net beaam.

Breyten Milford,  operasionele bestuurder van Agri-Expo

Breyten Milford, die operasionele bestuurder van Agri-Expo, het almal welkom geheet. Hy het ook ’n tafelgebed gedoen en die seën gevra op die hande wat die kos gemaak het – en hulle wat dit daar op die plase geproduseer het.

Truffel en grasuie gevul met vrylopende hoender, dukkha, gekruide wortelpuree en jong groente

Voorgereg is bedien.

Johan Ehlers, die hoof- uitvoerende beampte van Agri-Expo

Johan Ehlers, die hoof- uitvoerende beampte van Agri-Expo, het daarna drie eretoekennings aangekondig.

Pieter van Wyk, president van Agri-Expo, Kobus Mulder en Johan Ehlers

Kobus Mulder is as Agri-Expo-erepresident aangewys.

Kobus Mulder

Mulder is ’n melk- en kaasman wat in Afrika, die VSA en in Europa naam gemaak het. Hy het reeds verskeie internasionale toekennings ontvang. In 1968 het hy as ’n beampte in die suiwelafdeling van die landbougenootskap begin werk. Sedert 1978 is hy betrokke by die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe. In 1982 is hy tot Agri-Expo se raad verkies en in 1992 word hy die visepresident. In 1995 het hy president van Agri-Expo geword.

Mulder was onder andere betrokke by die vestiging van Agri-Expo as die bemarkingsnaam soos ons die organisasie vandag ken.

In sy aanvaardingstoespraak het hy verwys na diep spore wat talle landbougesinne in die organisasie getrap het. Sy eie gesin, en dié van John van Breda, wat ook die geleentheid bygewoon het, kan hulle voorouers se aktiwiteite terugspoor in die geskiedenis van die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap sedert dit in 1831 gestig is.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, wens Mulder geluk

Die noue verbintenis tussen die genootskap en die regering het ter sprake gekom. Dié instansie het oor die jare verskeie male die regeerders van die Kaapkolonie gaan spreek. Só is die eerste landboudepartement in die land na samesprekings tussen die genootskap en die regering gestig; die eerste landbouskole is gestig; en Cecil John Rhodes het van sy eie grond in Rosebank geskenk sodat die jaarlikse skou ’n vaste stuk grond van hulle eie kon hê – daarvoor is die skoue op die Kaapse Parade gehou.

Pieter van Wyk, Joyene Isaacs en Johan Ehlers

Joyene Isaacs, voormalige hoof van die Wes-Kaapse Departement Landbou, het ook ’n eretoekenning ontvang. Die ontwikkeling van kleinboere en landelike gemeenskappe is iets wat na aan haar hart is. Agri-Expo het veral melding daarvan gemaak dat haar departement die noodsaak van noue samewerking tussen die staat en die privaatsektor te alle tye ondersteun het.

Isaacs het intussen afgetree en is nou die voorsitter van die Landbounavorsingsraad.

Joyene Isaacs

In haar aanvaardingstoespraak het sy Agri-Expo bedank, maar ook gesê: “Actually, it was my job.” Sy het weer op haar beurt genoem hoeveel sy die steun en samewerking van die privaatsektor en veral Agri-Expo as georganiseerde landbou waardeer het.

Laastens is ’n eretoekenning ook aan Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gemaak.

Winde was as LUR vir ekonomiese aangeleenthede ten nouste betrokke by die landbousektor en het oor die jare baie gereeld met Agri-Expo saamgewerk. Sy dienstermyn in daardie portefeulje, 2014 tot 2018, staan volgens Agri-Expo bekend as “vier jaar van geleenthede”.

As LUR, maar ook as mens, was hy entoesiasties en het selfs by geleentheid aan ’n kookdemonstrasie deelgeneem.

Winde was ook betrokke by die 17de Suid-Afrikaanse Kaasfees tydens een van die ergste droogtes ooit in die Wes-Kaap. Nie net het hy praktiese raad gegee oor hoe om water te spaar nie, maar hy het ook – tot groot vermaak van almal – by die fees opgedaag en op die groot #WaterWise-bord, waar die algemene publiek waterwenke kon verskaf, gaan skryf: “Shower together – Quickly!”

Alan Winde

In sy aanvaardingstoespraak het Winde gesê die vernuwing van Agri-Expo het hom weer geïnspireer. Vir hom is entrepreneurskap van enige aard belangrik, en die landbousektor is uitmuntende voorbeeld daarvan.

In 2020 het die Wes-Kaap se landbou-uitvoere met 24% gegroei – ten spyte van die pandemie.

Meer nog, die landbousektor het geweldig baie gedoen om kos te voorsien aan mense wat andersins sou honger gely het tydens die Covid-inperkinge. “Ons het die voordeel van landbou die afgelope 19 maande duidelik gesien, waar dit gehelp het om die pandemie se invloed te versag deur broodnodige werk te skep. Ons moet landbou verder uitbrei en ons mededingende voordeel in hierdie ruimte benut.”

“Ek is baie trots op die boere,” het hy gesê.

Geroosterde lendestuk, Yorkshire poeding, aartappels gerooster in beesvet, botterneutpuree en rooiwyn sous

Die hoofgereg is daarna bedien.

Johan Ehlers het hierna talle vernuwings en planne van die toekoms aangekondig en die video 190 Years of heritage, 25 years of innovation, 2022 and beyond is gewys.

Gelukwensinge aan Agri-Expo is van verskeie instansies ontvang – selfs uit Buckingham-paleis.

Pieter van Wyk

Pieter van Wyk, president van Agri-Expo, het toe ’n heildronk ingestel.

'n Goeie Methode Cap Classique is iets om te ervaar

Die vonkel het geskitter.

Mini-bessiekaaskoeke, profiteroles met soutkaramel, bloubessie- en witsjokolademacaroons

Nagereg is ter afsluiting op die stoep bedien.

Suid-Afrika se kaas is wêreldklas

Kaas en vrugte is ook verskaf.

’n Aantal Veritas-wyne kon deur die loop van die aand geproe word.

Word deel van ons familie, nooi Agri-Expo alle kos- en wynliefhebbers

Agri-Expo probeer die landbou nader aan gewone mense bring.

Eunice Joubert, bemarkingsbestuurder van Agri-Expo

Die heel eerste Suid-Afrikaanse kosreeks op TV oor die veelsydigheid van kaas sal deur Agri-Expo saam met Ladismith Cheese en Sea Harvest aangebied word. Die TV-reeks van 13 episodes, met sjef Tiaan Langenegger as aanbieder, word deur Homebrew Films vervaardig. Dit word van April tot Junie 2022 op kykNET uitgesaai.

Isabeau Botha, kommunikasiebestuurder van Agri-Expo

Landbouskoue bly een van die groot trekpleisters in baie gemeenskappe. Hier is ’n blik op 2022 se skoukalender.

Gewone mense kan meer leer oor kaas en verskeie SA Kaasfees Opwip-pieknieks word beplan oor vier naweke in April 2022, iets wat skynbaar nie misgeloop moet word nie! Die Opwip-pieknieks word saam met uitgesoekte vennote by vier van die Kaap se gewildste bestemmings aangebied – van die Wynland tot Walkerbaai tot die Weskus en weer terug na die Wynland. Hier is die datums.

In ’n eerste vir Suid-Afrika én Afrika neem Agri-Expo landbou na die klaskamer met Farmer Time South Africa as deel van die internasionale Farmer Time-projek wat digitale kommunikasie benut om jongmense te inspireer, te betrek en op te voed oor landbou. Die projek is deur die boer Tom Martin in die Verenigde Koninkryk begin en is reeds in Australië, Swede, Finland, Ierland, Denemark en Nieu-Seeland gevestig. Leerlinge gesels regstreeks via ’n video-oproep met ’n boer vanuit hul klaskamers. Agri-Expo het vanjaar ’n aanvoorprojek by Hoërskool Porterville begin en sal dit in 2022 verder uitbou.

Agri-Expo se motto is: Waar ons Land ... Bou ons – that is our Agri ... Culture.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top