Die amptelike proses om te bepaal of president Cyril Ramaphosa in die beskuldigdebank geplaas gaan word oor die voortslepende Phala Phala-skandaal, het met intense politieke drama in die parlement afgeskop.
Tydens die historiese eerste sitting van die artikel 89-afsettingskomitee is Makashule Gana, ’n parlementslid van Rise Mzansi, Maandag as voorsitter verkies. Sy verkiesing het egter dadelik die gaping tussen die RNE en die radikale opposisiepartye blootgelê.
IN PICTURES: The Election of the Chairperson of the Impeachment Committee on the Section 89 Enquiry. 📸: Phando Jikelo / ParliamentofRSA #Parliament #Section89Enquiry pic.twitter.com/6zgA8m1hHa
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) June 1, 2026
Die spesiale komitee van 31 lede moes dringend vergader na ’n vroeëre besluit van die Konstitusionele Hof dat die parlement se vorige hantering van die Phala Phala-stemming in 2022 gebrekkig en ongeldig was. Hierdie nuwe komitee het nou die enorme taak om te ondersoek of Ramaphosa sy ampseed verbreek het en of hy hom skuldig gemaak het aan ernstige wangedrag ná die diefstal van minstens $580 000 uit ’n rusbank op sy wildsplaas in Limpopo.
Die verkiesing van die voorsitter het vinnig in ’n ideologiese magstryd ontaard. Gana is deur Mikateko Mahlaule van die ANC benoem, en sy nominasie is gesekondeer deur George Michalakis van die DA. Dit het duidelik gewys dat die RNE-vennootskap vasbeslote is om die leisels van die proses styf vas te hou, maar ook die proses wil beskerm deur nie ’n ANC-voorsitter te kies nie.
Opposition parties scramble to unite behind a candidate to chair Phala Phala committee https://t.co/p4knRWSvsp
— Business Day (@BDliveSA) June 1, 2026
Aan die ander kant van die raadsaal het die EFF en die MK Party saamgespan om . Wonderboy Mahlatsi, die leier van die United African Transformation (UAT), te nomineer.
Met die uiteindelike stemmery het die RNE-koalisie sy meerderheid gebruik om Gana met 19 stemme teen Mahlatsi se 12 stemme in die voorsitterstoel te plaas. Gana het die steun van onder meer die ANC, DA, IVP en die VF Plus geniet, terwyl die opposisieblok met die EFF, MKP, ActionSA en die United Democratic Movement (UDM) hulle agter Mahlatsi geskaar het.
Die uitslag het onmiddellik vir vuurwerke gesorg. Radikale opposisiepartye het openlik uitgevaar teen die verkiesing en beweer die ANC en sy bondgenote probeer die proses kaap om Ramaphosa te beskerm. Volgens hulle is Gana se verkiesing ’n strategiese skuif om te verseker dat die komitee se finale aanbevelings “afgewater” word om Ramaphosa se politieke loopbaan te red.
♦️Must Watch♦️
EFF Treasurer General and Member of the Impeachment Committee, Hon. Omphile Maotwe, speaks to Newzroom Afrika, reacting to the election of the Chairperson of the Impeachment Committee:
The court pronounced that Parliament must establish an impeachment process.… pic.twitter.com/RKkRQoJSEd
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) June 2, 2026
Songezo Zibi, die leier van Rise Mzansi, het egter die teenoorgestelde standpunt ingeneem en gesê die land kan gerus wees dat die proses in veilige hande is. Volgens Zibi sal die komitee onder Gana se leiding “beskerm word teen politieke teater” en sal daar streng volgens die Grondwet gehandel word.
Congratulations to Makashule Gana MP on his election as Chairperson of the Section 89 Impeachment Committee.
Principled, capable leadership committed to upholding the Constitution.#WeNeedNewLeaders #RISEINPARLIEMENT #RISEMzansi pic.twitter.com/SriMKGH2dp
— RISE Mzansi (@Rise_Mzansi) June 1, 2026
Gana self het ná die sitting probeer om die gemoedere te kalmeer. “Ons sal in verbinding wees met al die lede van die komitee rakende die volgende stappe wat gedoen moet word. Die werk wat voorlê, is van die uiterste nasionale belang,” het hy gesê voordat hy die vergadering verdaag het.
Newly elected chair of the Phala Phala impeachment committee, Makashule Gana, shares his thoughts on his election and the road ahead for the committee.
Full story: https://t.co/bjRu8J0Hme pic.twitter.com/uMrRarBnc2
— Business Day (@BDliveSA) June 1, 2026
Die proses hou geweldige risiko’s vir Ramaphosa in. Die kern van die ondersoek berus op die bevindings van die destydse onafhanklike paneel wat beslis het dat daar prima facie-getuienis is dat Ramaphosa die wet oortree het deur die diefstal vir die polisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) weg te steek, asook deur private ondersoekers te gebruik.
Hoewel Ramaphosa tans besig is met ’n regstryd in die Wes-Kaapse Hooggeregshof om daardie spesifieke paneelverslag nietig te laat verklaar, het hy aangedui dat hy nie die formele parlementêre komitee se werk sal stopsit nie.
Die komitee sal binnekort weer vergader om sy werksprogram en die rooster vir getuienislewering vas te stel. Met swaargewigte soos Julius Malema (EFF) en John Hlophe (MKP) wat op die komitee dien, is dit duidelik dat hierdie proses om ’n moontlike staat van beskuldiging te bepaal, nog baie meer drama gaan oplewer soos wat die getuienis ontvou.

