“Skelm se vet braai uit” is ’n uitdrukking wat gebruik word om aan te dui dat ’n booswig se dade wel eendag ontbloot sal word, ongeag hoe lank dit neem. In die Suid-Afrikaanse politiek het ons verlede week so ’n ervaring gehad.
Dit was nadat Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, vertel het hoedat die regerende party teenoor ’n parlementêre komitee van ondersoek gelieg het oor ’n swembad wat sodanig as “brandbestrydingspoel” sou dien. Hierdie “spesiale” swembad is aangebring by die private woning van die voormalige president, Jacob Zuma, in Nkandla in KwaZulu-Natal.
Wat Mbalula gedryf het om hierdie onthulling te doen, was Zuma se betrokkenheid by die nuutgestigte uMkhonto we Sizwe-, oftewel MK-party, ’n naam wat oorgeneem is van die ANC se eertydse militêre vleuel. ’n Koppestampery het oor die sogenaamde steel van die MK-naam tussen huidige en wegbrekerkamerade van die oudvryheidsbeweging ontstaan.
Zuma het op 16 Desember, die stigtingsdatum van die oorspronklike MK, aangekondig dat hy vir die nuwe party gaan stem, omdat hy homself nie so ver sal kan kry om “vir die ANC van Ramaphosa” te stem nie. Dit is ’n verwysing na sy opvolger, pres Cyril Ramaphosa. Zuma het egter bygevoeg dat hy darem nie uit die ANC bedank nie, maar lojaal aan die organisasie sal bly.
Watwou, hy het homself hierdeur vanself uit die ANC geskop, was die reaksie van senior leiers soos Mbalula en Gwede Mantashe (nasionale ANC-voorsitter). Nogtans het dieselfde Mantashe nou vir Mbalula in die bek geruk oor die “leuens” wat hy oor die Nkandla-swembad sou vertel het. In sy eie gryse wysheid reken Mantashe toe dat die jonger Mbalula gewoon nog groei in sy pos en nie nou reeds oor voldoende insig beskik om te weet dat hy nie emosionele uitbarstings in die openbaar behoort te hê nie.
Ook die voormalige minister van polisie, Nathi Nhleko, hou voet by stuk dat die swembad inderdaad vir veiligheidsredes ook as “brandbad” moes dien. Hoe durf Mbalula hom nou so in die verleentheid stel?
Mbalula het hom nie die swye laat oplê nie. Hy het uiteindelik twee ander “geheime” uitgelap: dat Ramaphosa inderdaad byna bedank het nadat ’n onafhanklike parlementêre ondersoek bevind het dat hy moontlik in ’n staat van beskuldiging geplaas kon word oor sy hantering van die Phala Phala-skandaal, en dat die ANC vir Zuma in 2018 gedwing het om te bedank omdat die Nasionale Vervolgingsgesag gereed was om hom oor die wapenskandaal in hegtenis te neem.
Ofskoon hierdie onthullings goeie nuus vir die burgery is in die opsig dat die waarheid nou bekend is, is dit uiteindelik mosterd ná die maal. Politici maak nou in elk geval gereed vir vanjaar se algemene verkiesing wat straks in Mei sal plaasvind, wat beteken die parlement sal onwaarskynlik nou die ANC tot orde kan roep oor die “swembadbedrieëry”. Mbalula se uitsprake sal wel deur politieke teenstanders in hul veldtogte ingespan kan word – en as die ANC nie bekommerd is oor huidige opposisiepartye nie, is dit duidelik dat die MK-party vir die ANC ’n ervaring is van “de knuppel in het hoenderhok gooien”.
Die tydsberekening is sleg vir die party wat Suid-Afrika die afgelope drie dekades reeds regeer en wat sy verkiesingsveldtog in sy tradisionele 8 Januarie-verjaardagboodskap verlede Maandag met ’n “vreeslose” boodskap van stapel gestuur het.
Ramaphosa was by dié geleentheid in die Mpumalanga-provinsie aan die woord. Wat hy as een van die party se suksesverhale aan die skare voorgehou het, was dat nagenoeg 16 miljoen landsburgers maandeliks deur die staat met maatskaplike toelae onderhou word. Dié mense moet weet dat die toelae weggeneem kan word indien ’n ander party (of ’n koalisie van opposisiepartye) die mag vanjaar by die ANC sou oorneem. Terwyl dit inderdaad so is dat die toelae behoeftiges se lot verlig in ’n land met werkloosheid van tussen 30% en 40%, skokkende armoede en die ergste ongelykheid, het Ramaphosa met sy uitspraak die burgery om die bos probeer lei.
Hiervan kan ’n mens gewis meer verwag in die aanloop tot die verkiesing, maar dit is omtrent net stoere ANC-ondersteuners wat nog glo dat die party homself en sy prestasie as regering kan regruk. Die land gaan in soveel opsigte agteruit: Op ’n hoë vlak is dit die treurige ekonomiese groei waaraan mens eerste dink; op ’n basiese vlak is dit die probleme met kragvoorsiening, waterdienste en slaggate in strate wat opval. Geen van die ANC se lofwaardige en ambisieuse idees werp op ’n noemenswaardige wyse vrugte af nie: “Die ANC-regering blink uit met die opstel van grandiose planne,” het die VF Plus dit op ’n keer verwoord, “maar wanneer dit by die uitvoering daarvan kom, is die mislukkings skouspelagtig.”
Suid-Afrika smag nou na, smeek vir en hoop op skouspelagtige suksesse wat die land uit sy staat van verval kan verlos.
Om goeie rede kan daar uitgesien word na die herdenking van die afskaffing van die ou bedeling en die oorgang 30 jaar gelede na ’n demokratiese bestel wat menswaardigheid en burgerregte aan almal belowe het soos dit nooit voorheen was nie. Maar die opgewondenheid wat mense in 1994 hul arms in die lug laat gooi het, het nou plek begin maak daarvoor dat hulle hul arms omhoog hou uit mismoedigheid.
In Nelson Mandela se inhuldigingstoespraak as eerste nierassige, demokraties verkose president in 1994, het hy gesê: “Never, never and never again shall it be that this beautiful land will again experience the oppression of one by another.” Die onderdrukking van een groep teen ’n ander het nou ’n gedeelde onderdrukking geraak wat al die land se bevolkingsgroepe op dieselfde wyse laat ly onder die ANC se onvermoë om instandhouding te doen en buite die “kaderboks” vir kundigheid te soek om herstel moontlik te maak.
“Politieke skelms” se vet neem dalk langer om uit te braai, maar daar bestaan goeie rede om te glo dat die tyd nou vir die ANC aangebreek het om hiervoor deur kiesers aan die kaak gestel te word.