Die poppe dans

  • 0

Die poppe dans in die Suid-Afrikaanse politiek. Of eintlik grotendeels, as ek nou daaraan dink, dans die poppe binne ANC-geledere – behalwe miskien wanneer die eerste kwessie op my lysie ter sprake is: angstigheid oor die Trump-tariewe, wat tog die hele land raak.

Ander verwikkelinge, waarop ek dan wel gaan fokus, sluit in die reaksie van die ANC oor ’n belangrike bondgenoot – die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) – se besluit om op eie voet aan komende verkiesings deel te neem; dan ook die ANC se adjunkleier, Paul Mashatile, wat sukkel om vertroue in te boesem as ’n potensiële toekomstige staatshoof; en die mees onmiddellike kwessie, naamlik die ANC se voorneme om die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) “uit te brei”.

Ons beweeg vir eers – kan ’n mens werklik? – vir die doel van hierdie skrywe verby die Trump-tariewe. (Dit is in elk geval ’n ontwikkelende storie.) Ons bepaal ons dan by die ander verwikkelinge, soos die ANC wat na afloop van sy vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van verlede naweek mismoedig die land meegedeel dat hulle nie vorder om die SAKP van sy plan te laat afsien om op hul eie aan komende verkiesings deel te neem nie.

Dit sal ontwrigting (versplintering, vermindering) in die ANC se kiesersteun veroorsaak, vrees die party. Dié vrees is gegrond, aangesien die ANC reeds twee groot skokke met dalende stemme ervaar het in die plaaslike verkiesings van 2021 en toe ook in die algemene verkiesings verlede jaar. Spesifiek in laasgenoemde geval was dit ’n oomblik vir stilstaan toe die party met 40% moes vrede maak teenoor die konstante nagenoeg 60%-verkiesingsteun sedert die tandekrydae van ons demokrasie. Duidelik het die bevrydingsbeweging nou sy byt verloor. Nogtans kon die ANC vir die afgelope drie dekades reken op genoeg lojaliteit van SAKP-lede en ook lede van die vakverbond Cosatu – saam die drieparty-alliansie genoem. Nou duidelik nie meer nie.

Of die SAKP dit wel gaan regkry om wesentlike steun in verkiesings te wen, sal afhang van hoe hard die ANC aanhou baklei vir die “kommunistiese” stem, maar spesifiek ook (en dalk veral) of die SAKP behoorlike befondsing sal kan verseker om ’n suksesvolle verkiesingsveldtog te loods. (’n Kantaantekening in ’n fluisterstem: Waar sal hulle geld kry? Tog seker nie by plaaslike korporatiewe donateurs nie. Sou dit dalk vanuit China of selfs Rusland kon kom? Soos die cliché lui: Ons sal moet wag en sien.)

Die “onenigheid” tussen die SAKP en die ANC het natuurlik tot ’n wesentlike mate te doen met die verskil in die twee se benaderings tot ekonomiese beleid: Die SAKP, soos byvoorbeeld ook die EFF van Julius Malema, eis ’n “radikale transformasie” en wil alles nasionaliseer. Dit is sodat ekonomiese opheffing van die swart meerderheid vooropgestel kan word, betoog hulle. Die ANC is ook wel daartoe verbind, maar beleef die werklikheid van ’n land te moet regeer, wat van jou vereis om ’n balans te handhaaf tussen jou partybeleid en wat goed is vir die breë ekonomie. Dit is waarom die partyleier en staatshoof, pres Cyril Ramaphosa, meer dikwels klem lê op die noodsaaklikheid van ekonomiese groei en dán, as ’n positiewe uitvloeisel daarvan, werkskepping.

Oor twee jaar en vier maande – in Desember 2027 – kies die ANC nuwe leiers en kan ’n verandering in die verhouding tussen die ANC en sy “radikale” bondgenote geskied, afhangend van wie as Ramaphosa se plaasvervanger aangewys word. Sou dit Mashatile wees, tans sy adjunk in die party en die Uniegebou, is die kanse goed dat hy in die rigting van daardie “radikale transformasie” beweeg sal word. Mashatile word egter tans omring deur ’n veldbrand van vermoedens dat hy nie heeltemal so eerbaar is as wat hy homself probeer voorstel nie.

In een geval verklaar hy meteens in die parlementêre register van belange eienaarskap van ’n “familiewoning” nadat dit nie voorheen daar was nie (maar vrae wel daaroor gestel is). Nie lank daarna nie, keer hy dat hy nooit gesê het hy deel in die eienaarskap nie; dié behoort, soos wat hy ook voorheen aangedui het, aan sy skoonseun, maar almal het woonreg daar, en hy verkies om daar te bly. Dis nogal belangrik dat mense reg moet lees, sê hy. O, oukei. Maar is dit nie dalk hy wat verkeerd gelees het toe hy die register van belange voltooi het nie, want daar staan geskrywe: “OWNERSHIP IN LAND AND PROPERTY”. Onderaan die naam van die afdeling skryf hy dan: “Residential Family Home”. Nou hoe nou? Ownership = eienaarskap, tog wel?

In ’n ander geval word hy deur die parlement se etiekkomitee met R10 000 beboet omdat hy nie ’n geskenk verklaar het wat sy vrou na bewering van ’n vermeende diamantsmokkelaar, Louis Liebenberg, ontvang het nie. Liebenberg is tans verhoorafwagtend en in aanhouding. Die geskenk was, nou ja, ’n diamant. En ongeag hoe Mashatile ook al sy beeld probeer poets ten einde die mantel by Ramaphosa oor te neem, lyk dit asof dié vooruitsig stelselmatig begin verdof. Wie anders in die tou staan, is moeilik voorspelbaar, hoewel gesê word dat die ANC se huidige sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sélf presidensiële ambisies koester.

Dit was Mbalula wat die aankondiging gemaak het dat die ANC se NUK by sy vergadering verlede naweek ’n besluit aanvaar het dat die RNE uitgebrei moet word. Wat dit beteken, is dat die deur nou geopen word om meer partye in te sluit in regeringsposisies, sy dit aanstellings as ministers of adjunkministers in die kabinet of die voorsitterskap van parlementêre portefeuljekomitees of enige dergelike posisies in ander staatsverbonde instellings.

Mbalula het wel genoem dat die beplande RNE-uitbreiding in oorleg met die bestaande RNE-vennote gedoen sal word. Die vraag is egter waarom daar by die ANC ’n behoefte vir uitbreiding ontstaan het. Miskien is die antwoord voor die hand liggend: Dit moet as teenvoeter dien vir veral die DA, die grootste RNE-vennoot, wat toenemend ’n eie rigting inslaan, wég van die ANC se weë of besluite. Nuwe vennote, sal die ANC hoop, sal maklik geplooi kan word om op die gewenste weg na ANC-idees en oplossings te beweeg.

Nou wonder ’n mens onwillekeurig of dit die “rooi gevaar” – die EFF – sal insluit. Genade, dán sal die politieke poppe mos nou behóórlik begin te dans, want die DA se belangrikste voorwaarde vir deelname was dan juis dat die EFF vér weg gehou moet word van die staat se stuurwiel.

Laat die konsert begin!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top