President Cyril Ramaphosa het ’n bedekte waarskuwing gerig aan diegene in die land wat besig is om die Grondwet te ondermyn en die howe en regters onder verdenking plaas.
Sonder om sy voorganger, Jacob Zuma, of enigiemand anders by die naam te noem, het Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief ’n streep in die sand getrek tussen diegene wat die land se howe en Grondwet respekteer en mense wat dit minag en ondermyn.
In wat beskou kan word as ’n bedekte waarskuwing teen diegene wat dreig om die wet in eie hande te neem indien die reg sy gang gaan, het Ramaphosa dit beklemtoon dat die weermag ’n verantwoordelikheid het om die land se demokrasie te beskerm.
Die Grondwet stel dit duidelik dat dit die weermag se primêre doel is om die republiek te verdedig en sy territoriale integriteit in ooreenstemming met die Grondwet te beskerm.
From The Desk of The President - Monday, 22 February 2021 - https://t.co/XH3HZDD1xl Yesterday, as Commander-In-Chief of our country’s armed forces, I officiated at the annual celebration of Armed Forces Day in the Castle in Cape Town. pic.twitter.com/bhiN5o6BlG
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) February 22, 2021
Ramaphosa se uitlatings moet gesien word teen die agtergrond van al hoe meer uitsprake van onder andere Zuma self wat die land se regstelsel en regters onder ernstige verdenking bring. Volgens sommige waarnemers kan dit tot ’n grondwetlike krisis lei as Zuma sy sin kry.
Van Zuma se ondersteuners het die afgelope tyd herhaaldelik gesê hulle sal nie toelaat dat hy in hegtenis geneem word nie, selfs al beslis ’n hof so. Zuma het ook by meer as een geleentheid uitgevaar teen die land se regstelsel en sommige regters.
Uitsprake deur bekendes in die Zuma-kamp, soos Carl Niehaus en die afgetrede genl Maomela Motau, dat die Grondwet verander moet word om die land te verlos van die “diktatuur van die regbank”, maak baie Suid-Afrikaners bekommerd. Hulle het hierdie uitsprake verlede week in die TV-program Power to truth herhaal. Motau het van 1998 tot 2009 as hoof van Verdedigingsintelligensie gedien. Volgens hulle moet die Grondwet verander word, omdat dit na ’n onderhandelingsproses tot stand gekom het en nie meer in die swart meerderheid se belang is nie.
Ramaphosa sê in sy nuusbrief die land se demokratiese Grondwet is die produk van jare se opoffering en stryd. “Baie Suid-Afrikaners het baie pyn en lyding verduur, en baie het hulle lewens verloor sodat ons in ’n demokratiese bestel met gelyke regte vir almal kan leef.”
Ramaphosa sê die waardes in die Grondwet is nie onbenullig of abstrak nie.
Hy sê die Grondwet is ook lewensbelangrik omdat dit wigte en teenwigte in stand hou wat die misbruik van mag verhoed. Die drie bene van die staat, naamlik die wetgewende gesag, die uitvoerende gesag en die regbank, het elkeen ’n rol om te speel om verantwoordbaarheid en die nakoming van die oppergesag van die reg te verseker.
“Daarom moet ons bekommerd wees as belangrike mense in die gemeenskap verklarings maak wat minagting uitspreek teen die basiese beginsels van die Grondwet of die instellings wat daargestel is om ons demokrasie te verdedig.”
Die President sê die onlangse uitsprake wat op die regsprekende gesag gemik is en sommige regters sonder enige getuienis van onder andere omkopery beskuldig, is baie kommerwekkend. Indien dit waar sou wees, beteken dit in die eerste plek daar is mense in die regsprekende gesag wat nie die waardes in stand hou waartoe hulle onder eed gebonde is nie. Ramaphosa sê enigiemand wat sulke bewyse het, moet na vore kom en van die beskikbare kanale gebruik maak om dit aan die kaak te stel.
Aanvalle op die land se regbank mag nie ligtelik opgeneem word nie, sê Ramaphosa. Hy sê sulke aanvalle skud die fondamente van die land se grondwetlike demokrasie en ondermyn die vertroue in ons howe tensy dit met bewyse gestaaf kan word. Hy sê daar rus ’n verantwoordelikheid op elke Suid-Afrikaner om die land se Grondwet waarop die demokrasie gebou is, te verdedig.