Die Suid-Afrikaanse rand het die afgelope week op ’n rekordlaagtepunt afgestuur. Die kans is groot dat dit tot meer as R20 teen ’n dollar kan verswak as dit so aanhou.
Soos elders in die wêreld het die Suid-Afrikaanse markte skerp gereageer sedert president Donald Trump se aankondiging verlede week om ongekende hoë handelstariewe in te stel op bykans alle lande wat ekonomiese bande met Amerika het.
Die ekonomiese nasleep daarvan het markte wêreldwyd in beroering, wat ook die rand laat val het, aandele laat daal en lenings duurder maak.
Teen gistermiddag (Woensdag) was die rand onder hewige druk.
Die rand het teen tussen R19,65 en R19,82 teen die dollar verhandel, afhangende van die oomblik, en vinnig die rekordlaagtepunt van R19,92 in Junie 2023 genader. Die jongste nuus wys dat Trump se handelstariewe van 31% op Suid-Afrikaanse uitvoere wat nou in werking is, saam met plaaslike politieke onsekerheid oor die RNE, die rand se val versnel het.
Rand moves closer to record low against the dollar. https://t.co/9Tuup2dF2u #Rand #GNU #Currencyreset.
— Fullview_SA (@fullview_sa) April 9, 2025
Die laagste vlak waarop die Suid-Afrikaanse rand ooit teen die Amerikaanse dollar verhandel het, was op 1 Junie 2023 toe dit, soos reeds genoem, R19,92 bereik het. Dit was tydens ’n tydperk van intense markonstuimigheid, gedryf deur ’n kombinasie van plaaslike en internasionale faktore. Destyds het die rand swaar gely onder bekommernisse oor kragtekorte (Eskom se kragkrisis), politieke onsekerheid voor die 2024-verkiesing, en ’n sterker dollar weens die VSA se rentekoersverhogings.
In June 2023, the Rand reached R19.92 when compared to the Dollar.
It looks like we might be heading there again, and even surpass it.
Currently, it stands at R19.56 (as of April 7). pic.twitter.com/I7EOqrBLpt
— MDN NEWS (@MDNnewss) April 7, 2025
Kommentators op sosiale media waarsku dat as die RNE se stabiliteit verder wankel weens die twis oor die begroting, die R20-kerf teen die dollar vinnig bereik kan word. Sommige kommentators op X en ekonomiese voorspellers het selfs R21,50 genoem as moontlik onder erger scenario’s.
Dit sal afhang van hoe die regering onderhandelings met die VSA hanteer en of markvertroue sal herstel.
Die markreaksie is nie net ’n plaaslike tendens nie, maar deel van ’n wêreldwye tariefoorlog. China het reeds met teenmaatreëls reageer, wat die spanning tussen die twee groot ekonomieë vererger het. Lesotho is met ’n 50%-tarief getref en soek nou dringend ’n onderhoud met Trump. Intussen het lande soos Japan en Suid-Korea onderhandelings met die VSA aangevra, terwyl die EU ook met teenmaatreëls dreig.
Ekonome waarsku dat die tariewe globale handel kan laat krimp en ’n resessie kan veroorsaak. In Suid-Afrika het die Sentrale Bank scenario’s gemodelleer wat wissel van ’n 0,1- tot ’n 0,7 persentasiepunt impak op groei, afhangend van die erns van die handelsversperrings en marksentiment. Pensioenfondse met buitelandse blootstelling het ook waardeverliese ondervind, volgens Daily Maverick.
After the Bell: How should Africa respond to President Trump’s Tariff Tantrum? https://t.co/8j7YoZl2cs
— Daily Maverick (@dailymaverick) April 9, 2025
Op X en in die media is daar gemengde sentimente. Sommige, soos @SAfmRadio se gas Wandile Sihlobo, beklemtoon die ekonomiese uitdagings, terwyl ander, soos die minister van handel en nywerheid, Parks Tau, ’n strategiese wag-en-kyk-benadering voorstel. Kommentators op X het die rand se val en stygende leningskoste uitgelig, met ’n gevoel van “meer pyn vir verbruikers” wat deurskemer.
Retaliatory tariffs against US would be ‘counterproductive’, South Africa’s Tau says https://t.co/04MRjIM9O1
— the dtic (@the_dtic) April 6, 2025
Tau het aangedui dat daar geen onmiddellike planne is om met teenmaatreëls te reageer nie. In plaas daarvan wil die regering onderhandelinge met die VSA prioritiseer om kwotas of uitsonderings te verkry. Tau het op 2 April gesê dat ’n oorhaastige reaksie sonder duidelikheid oor die VSA se metode “teenproduktief” kan wees. Intussen is daar oproepe vir diversifikasie van handelsvennote, met ’n fokus op markte soos China, Indië en die Midde-Ooste.