Die regerende party onder skoot na onreëlmatige besoek aan Zimbabwe

  • 0

Die ANC het skerp onder skoot van opposisiepartye gekom nadat die party erken het dit was verkeerd om ’n ANC-afvaardiging met ’n weermagvliegtuig op staatskoste Zimbabwe toe te stuur om samesprekings met leiers van Zanu-PF te voer.

Die ANC sê hy sal die koste daaraan verbonde aan die regering terugbetaal. Die groep onder leiding van Ace Magashule het met leiers van Zanu-PF vergader om die politieke onstabiliteit in Zimbabwe te bespreek.

Die besluit om vir die koste van die vlug te betaal volg na druk van die burgerlike gemeenskap en politieke partye soos die DA, Vryheidsfront Plus (VF+) en die EFF. Die ANC-afvaardiging was op dieselfde vlug as die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula.

President Cyril Ramaphosa het ingegryp en opdrag aan die Minister gegee om die omstandighede te verduidelik wat tot die vermorsing van belastingbetalers se geld gelei het.

Nadat Ramaphosa binne 48 uur ’n verduideliking van sy party geëis het, het die ANC ook ’n verklaring uitgereik waarin hulle aanbied om vir die vlug te betaal. In die verklaring word gespog oor die sukses van die besoek, maar in die laaste paragraaf word toegegee dat die inperkingsregulasies oortree is en dat die ANC ook vir die vlug sal betaal.

Die VF+ sê in ’n verklaring die ANC het met sy bereidwilligheid om vir die lugmagvlug te betaal, erken dat hy misbruik gemaak het van weermagvervoer. Die party sê hulle het reeds vrae aan verskeie ministers hieroor gerig om seker te maak die skuldiges doen volle verantwoording.

“Dié optrede van die ANC maak dit duidelik dat die regerende party vooraf geweet het van die beplande reis, maar steeds ’n kans gewaag het om te kyk of hy daarmee kon wegkom,” sê die party in hulle verklaring.

Die VF+ se leier, Pieter Groenewald, gaan ’n volledig gespesifiseerde rekening oor die vlug versoek om te bepaal of alle koste vir die afvaardiging se reis wel betaal gaan word.

Om die antwoorde hierop te verkry, is geskrewe parlementêre vrae oor die koste reeds aan Mapisa-Nqakula gerig.

Benewens die koste-aspek, is die inperkingsmaatreëls rakende kwarantyn ook deur die ANC-afvaardiging verbreek. Die ANC sê in hul verklaring diegene wat Zimbabwe toe was, is tans ingevolge die inperkingsregulasies in selfkwarantyn.

Groenewald sê om nou, byna sewe dae later, in kwarantyn te gaan, is oëverblindery. Die VF+ het ook in dié verband ’n vraag gerig aan Aaron Motsoaledi, die minister van binnelandse sake, om vas te stel of die lede van die afvaardiging vooraf toestemming vir die reis verkry het.

“Die ANC is nie verhewe bo die reg om eers al die reëls te wil oortree en wanneer hy uitgevang word, hoogheilig te verklaar hy sal regmaak nie. Wanneer die wet oortree word, moet daar gevolge en vervolging wees, ook vir die ampsdraers van die ANC,” lui die VF+ se verklaring.

Die DA sê in die lig van die ANC se erkenning van hulle “skaamtelose misbruik” van die weermagvliegtuig het president Ramaphosa geen ander keuse as om die Minister van Verdediging af te dank nie.

Die DA sê in hulle verklaring die ANC se bereidwilligheid om die geld vir die vlug terug te betaal onthef nie die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, en sy mede-ANC-lede op die vlug van enige blaam nie. Die realiteit is dat daar steeds geen duidelikheid is of die minister van vervoer, Fikile Mbalula, dit goedgekeur het dat die afvaardiging ’n buitelandse reis onderneem soos wat vereis word ingevolge die inperkingsregulasies nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top