Die Sederberg is bekend vir die pragtige rotsformasies wat ’n mens daar aantref.
Ek het al by geleentheid geoloë daarheen geneem wat al op verskeie kontinente gewerk het, en selfs hulle was verruk oor die kleure en die vreemde vorme wat deur eeue se erosie gevorm is. Die oranjerooi in die rotse is ysteroksied – roes, dus.
Die Clanwilliamseder waarna die bergreeks vernoem is, sien ’n mens nie geredelik nie, want die bome groei taamlik hoog teen die hange. Liefhebbers van nuttelose inligting, soos ek, sal dalk weet dat Widdringtonia cedarbergensis nie regtig ’n sederboom is nie; dit is eintlik ’n deel van die sipresfamilie. Tussen vriende gaan ons egter nie stry oor so ’n beuselagtigheid nie.
Dié bome dateer uit die laaste Ystydperk – dws 255–300 miljoen jaar gelede. Hulle klou dus soos lewende dinosourusse daar teen die berghange vas.
Deesdae word die vallei warm. Om 40⁰ C in die somer te ervaar is nie ongewoon nie, daarom groei die seders nog net hoër op teen die berghange waar die lug koeler is. Hulle word nou gesien as uiters bedreig, want klimaatsverandering maak dat die omgewing al hoe warmer word en dat daar al hoe meer koolsuurgas in vallei te bespeur is. Ed February, ’n kranige bergklimmer en navorser, het in 2018 die Hamilton Naki-toekenning verower vir die werk wat hy en sy studente oor die Clanwilliamseders gedoen het. Nuuskieriges kan ’n baie toeganklike stuk daaroor lees in Engela Duvenage se Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika (LAPA uitgewers, 2020).
’n Bewaringsgebied en toeristemekka
Die Sederberg-omgewing is in 1973 as ’n wildernisgebied verklaar wat 66 811 ha bergagtige terrein beslaan. Dit is ’n baie groot gebied en die meeste daarvan is nie toeganklik per voertuig nie. Toeriste sien dus gewoonlik net die smal vallei wat met ’n gewone motor bereik kan word. Gelukkig is dié vallei pragtig en daar is veel te doen.
Die webruimte https://www.cederberg.co.za is ’n uitstekende en betroubare bron van inligting oor wat ’n toeris te wagte kan wees. Die inligting word gereeld bygewerk.
Die ander ruimte om te besoek voor ’n vakansie in die Sederberg behoort aan Cape Nature: https://www.capenature.co.za/reserves/cederberg-wilderness-area.
Hierdie baie klein weergawe van ’n kaart, wat nie volgens skaal geteken is nie, kom van Cape Nature se ruimte af. Dit gee ’n goeie oorsig van die belangrikste toerismepunte in die vallei.
Die volledige kaart, veel groter, is gratis aflaaibaar. Klik op hierdie skakel.
’n Mens hoef nie ryk te wees om die Sederberg te geniet nie, maar beplanning is noodsaaklik.
Van Kaapstad af, met die N7 langs, is dit ongeveer drie uur se ry tot by die afdraai na die vallei, kort ná ’n mens by Citrusdal verby is. Van hier is ’n toeris se eindbestemming nog een tot twee uur se ry op uitdagende paaie.
Uit die noorde is die vallei bereikbaar via Clanwilliam.
Sou jy uit die oostelike deel van die land kom, is, kan die pad via Ceres gebruik word.
Die roete deur die vallei is meestal grondpad, maar die pad word goed onderhou. Tussen Citrusdal en Dwarsrivier is daar redelik gereeld verkeer, maar sou jy besluit om die vallei vanuit Ceres aan te durf, moet jy seker maak jou motor is versien, en hou ekstra water en kos byderhand. Vriende het al ’n halwe dag daar gewag vir enigeen om verby te kom toe hulle bakkie se waterpomp gebreek het. In die winter kan só ’n gebeurtenis ’n doodsvonnis wees as jy nie voorbereid is nie.
’n Doodgewone motor wat versigtig bestuur word, sal by enige van die oornagplekke dig teen die hoofgrondpad deur die vallei kan kom. Ek het dit al in ’n piepklein motortjie met 1000 cc onder die enjinkap gedoen. Die oomblik wat jy egter verder van die hoofpad deur die vallei gaan, sou ek eers bel en uitvind oor vervoer. Van die vakansieplase, soos Bakkrans, verskaf parkeerplek vir die stadsmotors en neem jou dan met die styl kronkelpad teen die berg uit met hul eie Land Rovers.
Die pad Wuppertal toe kan met ’n 2x4 gedoen word, mits dit hoog staan en baie goeie wringkrag het; ’n stewige 4x4 maak dit egter makliker.
’n Lae motor wat met spoedhobbels in die stad sukkel, sou waarskynlik nie ’n goeie roep wees in die Sederberg nie.
Donkiekarre word steeds gebruik, en vir ’n fooitjie verskaf so ’n rit baie pret aan jonk én oud, en vir die eienaars is ’n addisionele inkomste nie te versmaai nie.
In die winter kom die Olifantsrivier soms af. Dan is die laagwaterbrug wat die vallei met die N7 naby Citrusdal verbind, heeltemal ontoeganklik. Bel altyd eers kort voor jy vertrek en vra raad by die mense waar jy jou akkommodasie bespreek het. Maak ook seker dat jy ekstra tyd inruim op jou reis. Die Sederberg is mak genoeg om die meeste mense te akkommodeer, maar jy is ver van die stad, so moenie onverhoeds betrap word nie. Talle dele van die vallei het nie selfoonontvangs nie.
Voetslaan
Dapper en stapper bly die beste manier om die Sederberg te verken. Onthou net asseblief altyd dat dit ’n wildernisgebied is; nog eens ook die waarskuwing dat daar meestal nie selfoonontvangs in die afgeleë gebiede is nie. Moenie gaan stap sonder die nodige voorbereiding nie, en ook nie sonder die nodige permitte nie.
Permitte is te koop by Sanddrif, of by die kantoor van Kaapse Natuurbewaring in Kaapstad. Sien die skakels hier onder.
Meer inligting oor dagstappe is hier te kry: https://www.cederberg.co.za/activities/day-hikes.
Meer inligting rakende die oornagroetes is hier te kry: https://www.cederberg.co.za/activities/overnight-hikes.
Wees voorbereid voor jy die staproetes aandurf.
In die winter kan temperature onder vriespunt draai en in die somer is die dae gloedwarm. Wees asseblief ook voorbereid om een nag in die natuur te oorleef, al beplan jy net ’n dagstap. Enigeen wat val en ’n been breek, moet kan oorleef voor die nodige reddingspanne opdaag.
Die permitte wat jy koop, help om die natuur te bewaar, maar dit gee ook ’n aanduiding waar spanne na jou kan gaan soek, sou dinge skeefloop. Die gevaar is dat jou vriende jou waarskynlik eers baie laat die aand gaan mis – mits jy hulle vooraf ingelig het waar jy wil stap.
Saam met die permitte kom nuttige kaarte, en die roetes word op die amptelike webruimte mooi beskryf (https://www.cederberg.co.za).
Van al die wonderlike dagstappe in die Sederberg is die Wolfbergskeure ’n baie besonderse ervaring, veral as jy kans sien om deur die nou skeure te gaan. Dit is egter nie ’n staptog om aan te pak sonder iemand wat die omgewing ken nie. Selfs ervare berggidse krap soms kop daar bo.
Gaan altyd in ’n groep en kry iemand wat die omgewing ken om die roete aan te dui.
Ons het onlangs ’n groep opgeneem. Nie almal was baie fiks nie, maar almal het die roete voltooi, al het dit soms aanmoediging gekos. Boonop het van die ervare stappers vooraf alternatiewe planne uitgewerk sou dinge skeef loop.
Die smal skeure is fabelagtig, maar hulle is beslis nie vir mense met hoogtevrees of engtevrees nie.
Ons het dus rustig geklim tot waar die keuse gemaak moet word: Die smalle of die breë weg? Die groep is toe in twee gedeel.
’n Ervare stapper het die een groep die smal skeure ingelei. Die mees ervare klimmer, ’n geregistreerde berklimgids wat ook berading kan doen, het die agterhoede gedek om seker te maak almal kom reg in die nou gangetjies.
Ek het ’n kleiner groep deur die breë skeure geneem, want ek was baie bevoorreg om by verskeie ander geleenthede die katedraalagtige binnekant van die smal skeure te beleef.
Die breë skeure is steeds ’n deeglike klim, maar dit daag nie mense uit om deur baie nou ruimtes te kruip nie.
Gelukkig het ek foto’s uit vorige ervarings om te deel van dit wat ’n klimmer in die smal skeure kan verwag.
My foto’s kan egter net ten dele die ervaring van grootsheid beskryf.
Hier is ’n ander perspektief – in die breër deel van die smal skeure geneem.
Neem jy die smal of die breë weg, is daar nóg ’n verassing wat wag, want die wêreld aan die bokant van die skeure is soos ’n maanlandskap, en iets besonders.
Ek is altyd verstom oor plante wat skynbaar uit die klip groei.
Ook die ligene fassineer my.
Daar op die plato is enkele labirinte waarin ’n mens ’n oomblik lank kan mediteer voor jy weer die terugtog aanpak.
Nie al die stappe is straf nie. Hierdie pragtige waterval is bereikbaar vanaf die Algiers-kampterrein. Dit is ’n stewige klim bergop, maar die moeite werd. Om op ’n warm dag onder daardie waterval te gaan sit, is ’n ervaring.
Daar is orals rotse om te klim en te bekyk.
In die somer is een van die talle bergpoele ’n lafenis. Moenie jou swembroek vergeet nie.
Akkommodasie
Om in die Sederberg te oornag wissel van taamlik duur tot uiters bekostigbaar.
Die kampterreine bied ure se pret vir kinders en die grootmense kan rustig agteroorsit en boek lees.
Ablusieblokke word goed onderhou.
Bakkrans is een van die ekokampe wat moeite doen om hulle voetspoor so onsigbaar as moontlik te hou. Hier is ’n huis sigbaar op hierdie foto ... kyk maar baie mooi!
Dieselfde huis, afgeneem van ’n ander hoek, toon hoe goed hulle gekamoefleer is.
Op ander plase is doodgewone huisies te huur vir magiese ervarings onder die oop, skoon lug van die berg. Hierdie huisie staan op die Jamaka, ’n organiese plaas naby Algiers. Hulle webruimte is https://jamaka.co.za.
Voëls en wilde diere
Moenie jou verkyker en voëlboeke vergeet as jy na die Sederberg gaan nie.
Witkruisarende sweef soms bo jou rond op soek na dassies, en verrassings soos hierdie Europese byvreter laat enige voëlkyker glimlag.
Om ’n gemsbok raak te loop tydens ’n staptog is ’n onverwagte meevaller, maar ’n mens sien gereeld klipspringers en steenbokkies in die vallei.
Ek verkneukel my altyd oor die koggelmanders wat so lekker in die son sit – tone hoog by die rotse om hulle teen die geweldige hitte te beskerm.
Die bewaringsgebied bied ook skuiling aan die Kaapse luiperds (Panthera pardus), maar om een van hulle te sien was my nog nie beskore nie. Daarom het ek maar van die kameras afgeneem wat opgestel is om luiperds mee te monitor.
Selfs ratels woon in hierdie omtes, maar hulle is sku. Rooikatte, wildekatte en jakkalse kom in die vallei voor. Langs die riviere is naaldekokers dikwels aktief en tilapia is te sien as jy weet waar om te kyk.
Daar is bobbejane in die berg, maar hulle is gelukkig menssku; iets wat dit vir toeriste veiliger en makliker maak.
Skilpaaie is geduldige stapmaats wat oral in die vallei voorkom.
Rotskuns
Van die land se mooiste rotskuns kom in die Sederberg-omgewing voor.
Ek gaan om verskeie redes nie een van hierdie liggings verklap nie, want oor die afgelope twintig jaar het ek van die bekende plekke sien agteruitgegaan deur mense wat geen ag slaan op die waarde of ouderdom hiervan nie. Sou jy belangstel, is daar gidse in die vallei wat belangstellendes sal neem om van hierdie mooi beelde te sien.
Hierdie tekening is modern, humoristies en nie naby een van die plekke waar die ou kuns bewaar word nie. Ongelukkig is daar talle gekke en dwase wat hulle name en ander gemors oor baie ou tekeninge gaan uitkrap het.
Dit is lekker is om dié gebied saam met ’n geliefde te besoek, soos hierdie baie ou tekening duidelik toon.
Die oorspronklike inwoners, duisende jaar gelede, het reeds hierdie ruimte as iets besonders beleef. Dit is dit steeds. Moenie daarheen gaan vir harde musiek en blink liggies nie. Soek jy egter stilte en ’n tikke wildernis, is die Sederberg ’n plek om batterye te laai.
Ervaar die vallei met respek, dit ís ’n wildernisgebied.