Die week se belangrikste nuus is ongetwyfeld die vergadering van vyf van die wêreld se mees prominente leiers in Pretoria. Of is dit die verkiesing van Qedani Mahlangu tot ’n leiersrol in die ANC? Die ywerige joernalis wat moet kies, sal kreatief moet wees en dalk aan ’n verband tussen die twee dink as oplossing. Gelukkig ís daar een: Cyril Ramaphosa.
Qedani Mahlangu was LUR van Gauteng se provinsiale regering. Terwyl sy belas was met Gesondheid, nadat die vorige een weens korrupsie moes vertrek, het sowat 144 mense – niemand weet eens presies hoeveel nie – in die berugte Life Esidimeni-skandaal gesterf. Hulle was geestesversteurdes in die sorg van die staat wat om steeds onbegryplike redes na private ondernemings oorgeplaas is.
Die ondernemings was nie ingerig vir hulle nie, maar ten spyte van talle waarskuwings, het Mahlangu beveel dat die oorplasings moet voortgaan. Aldus die paneel wat siviele eise vir die families beding het. Mahlangu was tydens die paneel se verrigtinge in Londen, en toe sy gevra is om te kom getuig, het sy beweer sy moet eksamen skryf. Dit was ’n leuen.
Desondanks was daar tot dusver nog geen vervolging nie. Desondanks is sy, en haar korrupte voorganger, tot die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC verkies. Desondanks is David Makhura, die destyds premier van Gauteng, tot leier verkies – dieselfde Makhura wat geweier het om te bedank oor die 144 gestorwenes, en glimlaggend en wyndrinkend op foto’s van ’n rougeleentheid vir die families verskyn het.
En Ramaphosa?
Die skrywer Tom Eaton, wie se satire dikwels regstreekse kommentaar is, skryf dat die President net nodig gehad het om ’n telefoon te lig en ten minste haar verkiesing stop te sit. Die feit dat hy dit nie gedoen het, is ’n aanduiding van sy gebrek aan mag, sy onvermoë om sy belofte om korrupsie en onbevoegdheid hok te slaan gestand te doen. Cyril se eierdans duur voort, en die eiers is a “lame duck” s’n.
Ramaphosa het in die laaste dae van Julie saam met die leiers van die BRICS-blok van lande by ’n spitsberaad in Pretoria opgetree. As een van Thabo Mbeki se min diplomatieke prestasies het Suid-Afrika homself in die vorige dekade ingesmokkel as die vyfde land in Jim O’Neill se aanwysing van die destydse vier BRIC-lande as die enjins van die wêreldekonomie in die toekoms: Brasilië, Rusland, Indië en China.
Die BRICS-blok van lande: Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika
BRICS het ongetwyfeld meriete as ’n nodige stap in die poging om die wêreldorde in ’n multipolêre bestel te herrangskik, iets wat kan help om die skreiende ongelykhede tussen die lande van die Noorde en die Suide aan te spreek. Met die VSA wat iemand soos Donald Trump en sy slagspreuk “Make America Great Again” tot sogenaamde leier van die vrye wêreld verkies, lyk dit eerder of hierdie stryd besig is om agteruit te beweeg.
China het die leiding geneem om ’n konstellasie van teenvoeters vir Westerse internasionale instellings te stig. Daar is ’n BRICS-weergawe van die Wêreldbank en ’n rits liggame vir bankiers, diplomate en kulturele amptenare. Vanjaar in Pretoria is die jongste inisiatief van stapel gestuur om die Weste se drie groot graderingsagentskappe met ’n BRICS-weergawe teen te staan.
Die BRICS-blok van lande
Maar dit beteken Ramaphosa, die demokraat, moet met ’n nuwe eierdans begin. Langs hom op die beraadsfoto staan ’n korrupte president (Brasilië se Michel Temer) en drie outokrate: Narendra Modi, Vladimir Putin en Xi Jinping. Modi is berug vir die afgryslike pogroms van Moslems toe hy goewerneur van Goedjarat was; Putin word verdink van manipulering van verkiesings en vergiftiging van opponente; Xi Jinping is eweneens ’n kragman wat China terug geneem het na ’n meer Maoïstiese verlede sedert sy verkiesing tot hoof van die Kommunistiese Party in 2013. Die party het steeds ’n ysere greep op alles. In die soeke na ’n plaasvervanger vir die huidige vernietigende neoliberalisme is daar veel te sê vir ’n staat wat die leiding neem in die ekonomie, en China is die bewys van hoe dit ’n arm land byna oornag kan verhef. En ’n groot mate van staatsleiding gaan nodig wees as ons wil oorleef op ons besoedelde en uitgeputte planeet. Maar die party se wanregering ondermyn op sy beurt hierdie model.
Een van die vele indikators is die behandeling van geestesversteurdes in China. Die blote bestaan van geestesversteurdheid word op feitlik alle vlakke van die gemeenskap ontken, hoewel daar in die laaste jare tekens van ’n kentering in die stede is. In ’n ou kommunistiese tradisie word geestesversteurings as ’n teken van dekadensie gesien. Selfs gewone depressie gaan teen die Maoïstiese gees van die revolusionêre mens as vrolike kader in.
Van links: Narendra Modi, Xi Jinping, Cyril Ramaphosa, Vladimir Putin en Michel Temer (Foto: YouTube)
Foto: YouTube
In Suid-Afrika skryf die politieke joernalis Sibongakonke Shoba oor Qedani Mahlangu se politieke vordering dat die ANC homself nie sal reinig van korrupsie solank as wat hy homself as ’n revolusionêre beweging en nie ’n politieke party sien nie. Hy is reg: vir revolusionêre is ander mense daar om op te offer in diens van – nog steeds in die ANC se geval – ’n nasionale demokratiese revolusie.
Die ANC put vir hierdie status onder andere uit sy noue bande met die kommuniste van China. Elke jaar reis etlike kaders China toe vir politieke skoling, en Chinese diplomate het Ramaphosa se voorganger, Jacob Zuma, as “een van ons” beskou. Het Mahlangu haar houding teenoor geestesversteurdes dalk in China aangeleer? Wat sy ook al hierop antwoord, ’n mens kan haar nie meer vertrou nie.
Mahlangu en Makhura is Ramaphosa se mense, en daarom het hy die leierskap van die Gauteng ANC persoonlik geprys. Wanneer dit by die Chinese leierskap kom, is dinge minder seker. Ramaphosa is beslis nie Xi se soort man nie.
’n Konstante onderwerp vir bespreking is die moontlikheid dat China ’n nuwe kolonialisme bedryf, met Afrika as ’n nuwe grensgebied. Ingevolge sy “Gordel en Grootpad”-inisiatief is hy besig met ’n aggressiewe poging om sy handelsnetwerk uit te brei. In Pretoria moes Ramaphosa toekyk en breed glimlag toe Xi aankondig dat China R34 miljard aan Eskom leen. Dit sal genoeg te wees om die R21,3 miljard aan verlies en onreëlmatige besteding te dek, maar nie vir die rente op vorige Eskom-lenings ook nie.
Die ding is dat China al meer soos die “aasvoëlfondse” van die Weste optree. Daar is geen sweem van ontwikkelingshulp nie, en dit gaan nie oor die lewensvatbaarheid van die projekte wat sy banke befonds nie. As iets misluk, staan China reg om kollateraal van enige aard te aanvaar. Toe ’n nuwe hawe in Sri Lanka, deur ’n Chinese konsortium gebou, nie uitwerk nie, het die Chinese beheer daarvan oorgeneem. En ’n yslike stuk grond daarnaas geëis, en gekry.
Die Suid-Afrikaanse staat self besit nou 4 000 plase. Daar is 400 000 Chinese mense in Gauteng alleen en ’n klompie van hulle boer reeds op staatsgrond, onder die dekmantel van opleiding aan swart boere. China is honger vir landbougrond, want sy eie is op. As ’n Eskom-projek misluk, Cyril, gee hulle ’n paar plase.
Om te verstaan hoe hierdie soort ding tot Suid-Afrika se voordeel sal strek, het ’n mens kaders met die regte hart en gees nodig om die ideologiese kloutjie by die oor uit te kry en die gepeupel oor te haal. Mense soos Qedani Mahlangu. En leiers soos Cyril Ramaphosa wat vaardig is met eiertrap.
Buro: MvH