Die stilte van die lammers

  • 0

Noem dit die stilte van die lammers. Buite Clarens in die Vrystaat is 45 ooie en lammers se kele twee weke gelede afgesny in ’n rooftog waartydens die res van ’n trop van 85 skape gesteel is. Moontlik was die rowers bang hul word verraai deur die geblêr, of miskien was hulle wreedaards met ’n bloedlus om te stil. Of het hulle ’n boodskap aan die boer gestuur?

Voor hulle gevang word, sal niemand weet wat die motiewe was nie. Waarskynlik ook nie nadat hulle gevang is nie. Noem dit die stilte van die rower en die moordenaar. In Suid-Afrika is min bekend oor die motiewe van geweldenaars, hoofsaaklik weens die taalprobleem, maar ook omdat dit nie die gewoonte is om misdadigers uit te vra nie. Hulle het nog nooit getel nie.

Wat wel waar is, is dat daar ’n laeskaalse oorlog aan die gang is op die platteland tussen boere en allerlei soorte oortreders wat goed wegdra, van pompe tot gewere, en meer dikwels as in stedelike gebiede die lewens van mense opeis.

Verlede week het ’n parlementêre komitee aanbeveel dat die Grondwet verander word om ’n klousule in artikel 25 meer eksplisiet te maak. Pleks daarvan dat die regering slegs as ’n laaste uitweg vergoeding sal weerhou tydens die onteiening van ’n stuk grond, sal die regering van meet af ’n eiendom vir sodanige onteiening kan teiken.

..........................................................................................

"Sal die korrupte, swak-opgeleide en ontoereikende polisiemag die situasie kan hanteer as die aantal sulke lukrake besettings ’n kritieke vlak bereik?"

..........................................................................................

Dis bloot ’n subtiele klemverskuiwing in die Grondwet, maar die simboliese waarde daarvan is enorm. Dit was duidelik uit die emosionele en chaotiese tonele tydens die komitee se trek deur die land om by die volk self te hoor wat hulle wil hê. Dit maak maar min saak dat die EFF hierdie woede aangestook het net soos hy die studente-opstande aangestook het – die sogenaamde grondhonger is nou ’n beduidende politieke faktor, en president Cyril Ramaphosa is reg dat dit tot ’n bron van onstabiliteit kan groei.

“Ons gaan die grond vat wat by ons gesteel is,” is die algemene refrein. Dit help maar min om daarop te wys dat nie alle grond afgevat is in die oorloë en stafekspedisies teen plaaslike stamme in die 19de eeu nie, of dat die nasate van die oorspronklike “eienaars” nou tien keer meer is, wat regstreekse restitusie ’n onpraktiese onmoontlikheid maak nie. Of dat die ekonomie in duie sal stort nie. Vir die land se tienmiljoene armes en werkloses beteken die ekonomie in elk geval niks nie.

In elk geval is genoeg grond wel gesteel en die swart bewoners in feitlike slawerny gewerp om hul nasate se pyn werklik te maak en grondhervorming ’n noodsaaklikheid te maak as ons van ongelykheid ontslae wil raak.

Een aanduiding van hoe diep die idee loop dat grondbesit vryheid beteken, is die aanstelling van die voormalige sokkerheld Lucas Radebe as Eskel Jawitz Properties se ambassadeur – met die spesifieke opdrag om jong, swart eerste-maal-kopers te lok nadat opnames ’n oplewing in die vraag na huise onder hulle getoon het. Die maatskappy skryf dit toe aan die debat oor onteiening sonder vergoeding.

Die vraag is hoe die regering hierdie emosionaliteit gaan kanaliseer. Die verkiesing is net om die draai, maar dit sal ’n fout wees om alles as net ’n verkiesingsfoefie te beskou. Die ANC sal dit gebruik om verlore aansien te probeer herwin, en baie mense hoop dat “redelikheid” sal intree en net enkele eiendomme onteien sal word sonder om voedselsekerheid (lees boere se winste) in gevaar te stel.

Maar die President is ernstig oor die noodsaak van ’n openbare oordrag van wit grond na swart hande, en dis duidelik dat onder sy baie politieke talente ’n baie goeie begrip van politieke simboliek tel. Justice must be seen to be done.

Daar is twee uitkomste om dop te hou. Om Ludwig Wittgenstein ydellik te gebruik: ’n Simbool se betekenis hang af van die gebruik daarvan in ’n taalspel. Wat “grondonteiening” gaan beteken, hang af van die spel wat gewone mense daarmee gaan speel.

Lukrake besettings van grond is aan die toeneem. As dit staatsgrond is, of grond wat nie in gebruik is nie, sal die mense wat nie direk geraak word nie, die rug draai en maak of niks gebeur nie. Maar dan is daar gevalle, soos die een in die Vaaldriehoek, waar plakkers sinkhutte gaan opslaan het in ’n nuwe woongebied waar die staat besig is om dienste aan te lê vir sowat 300 mense op sy behuisingslys. Die plakkers sê Julius Malema, die EFF-leier, het dan aangekondig die grond behoort nou aan die mense en hulle moet dit gaan opeis.

Sal die korrupte, swak-opgeleide en ontoereikende polisiemag die situasie kan hanteer as die aantal sulke lukrake besettings ’n kritieke vlak bereik?

Die tweede faktor is ook simbolies. Onder baie wit mense is daar woede, angs en vrees oor wat die verandering aan die Grondwet gaan doen. Dit help nie om daarop te wys dat niks wetlik gaan verander nie, dat die Grondwet reeds onteiening sonder vergoeding bemoontlik, of dat ’n grondhonger nie beteken dat swart mense almal plase wil hê nie, of dat swart mense sal besef dat die meeste van hulle reeds standplase en huise in stedelike woongebiede het, maar dat 30 jaar se korrupsie die oordrag van besit beduiwel.

Die stilte van die lammers, en die stilte van die rowers en moordenaars, knaag aan plaasbewoners. Afrika is nie vir sissies nie, sê die wittes onder hulle een maal per week aan mekaar. Die smeulende konflik op die platteland word geëwenaar in die haatspraak teenoor wit mense en “witheid” wat algemeen op sosiale media is. Al hoe meer boere dink aan oppak en trek. ’n Gesiene ekonoom praat in gunstige terme van die afskeiding van die Kaap.

In die parlement sê EFF-lede dat wit mense nie die reg het om te praat nie. Die ANC sê in sy reaksie op die komitee se aanbeveling dat die land aan “blacks and especially Africans” behoort. Ou kwasimarxistiese taal word uitgehaal – die party praat van “radikale ekonomiese transformasie” en die “nasionale demokratiese revolusie”.

Die land is pas deur ’n redelik traumatiese tyd van ontsnapping uit die kloue van ’n familie wat hierdie soort taal gebruik het om die Zuma-regering feitlik oor te neem. Die regerende party is kennelik besig om niks te leer uit die daaglikse dosis van skokke oor hoe diep die Gupta-verrotting was nie – al is die ekonomie steeds aan die wankel, die ekonomie wat gesond sal moet bly om enige politieke oplossing vir armoede te laat werk.

As simboliese gebare nodig is om die wonde van die verlede te laat heel, is die tekens nie goed dat dit ooit gaan gebeur nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top