Rook, sigarette en tabak is op die oomblik ’n gesprekspunt in Suid-Afrika, net soos wat dit (hoewel tot ’n mindere mate dalk) in Nederland is.
In Nederland is die fokus op die verhoging in aksynsbelasting op tabak wat aan die begin van April in werking getree het en wat die prys van ’n pakkie sigarette met een euro laat styg het; in Suid-Afrika spruit die gesprek uit die verbod op die verkoop van tabakprodukte, ingevolge teenkorona-inperkingsmaatreëls wat einde Maart begin geld het.
Terwyl dit om verskillende redes is dat rook, sigarette en tabak op dieselfde tyd deel van die openbare gesprek in hierdie twee lande is, is daar wel ’n raakpunt, naamlik dat tabak deur Nederlandse ontdekkingsreisigers aan Suid-Afrika bekend gestel is, so ver terug as die dae toe ons land nog slegs deur die inheemse Khoekhoe bewoon is.
Die reisigers het by die Kaap aangedoen om te rus, vars water aan boord te neem en indien sake vir hulle goed uitgewerk het, kon hulle ook vars vleis van die plaaslike bevolking bekom. In die fotoboek Good Hope – South Africa and The Netherlands from 1600, uitgegee deur die Rijks-museum, word die woord “koop” goedbedoeld vir die destydse ruiltransaksies gebruik, maar dit is ’n woord waaraan jy swaar sluk as jy in Martine Gosselink se hoofstuk “The Khoekhoe and the Dutch around 1600” lees dat die Nederlandse besoekers met ’n “hele koei” kon wegkom in ruil vir ’n “handjievol tabak”.
Nou, vier eeue later, is tabak die onderwerp van ’n hofgeding wat die tabakhandelsorganisasie FITA (Fair Trade Independent Tobacco Association) teen die SA-regering aanhangig gemaak het. Dit is in belang van die land se tussen 8 en 11 miljoen rokers wat sedert die aankondiging van die inperkingsmaatreëls teen sigaretverkope gedwing is om hulle tot die swartmark te wend. Waar ’n enkele sigaret voorheen gemiddeld R1 sou kos, het dié prys in die sluikhandel tot R10 gestyg; en waar ’n pakkie van twintig sigarette gemiddel R30 sou kos, moet rokers nou tot R200 vir ’n pakkie opdok. In baie gevalle is dié sigarette boonop van ’n swak gehalte – en heel dikwels ook onwettig ingevoer.
Die regering voer aan dat die besluit in belang van die rokers se gesondheid geneem is, omdat navorsing van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) daarop dui dat rokers meer vatbaar is vir korona (of COVID-19) as ’n respiratoriese siekte. Selfs indien slegs 1% van die land se rokers die virus opdoen, kan dit die openbare gesondheidsorgstelsel ’n erge knou gegee – bepaald omdat die land ’n tekort aan ventilators vir dié siekes sal ervaar.
Maar FITA het aan ’n volbank regters van die Hooggeregshof in Pretoria die argument voorgehou dat dit onwaarskynlik sal wees dat dié 1% op een slag gehospitaliseer sal word indien hulle wel siek word. Oorhoofs draai die spilpunt met die verbod op tabakverkope vir FITA rondom die feit dat Cyril Ramaphosa op 23 April – sowat ’n maand nadat hy ’n rampstaat aangekondig het - in een van sy toesprake aan die nasie laat uitglip het dat tabakverkope weer toegelaat sal word wanneer die land na ’n laer vlak van inperking afgeskaal sou word. Die opgewondenheid hiervoor was egter van korte duur, want enkele dae later het Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (onder wie se portefeulje die bestuur van die rampstaat resorteer), gesê die verbod bly in werking.
Hierdie verwikkeling het opsluit vrae laat ontstaan oor of Ramaphosa werklik in beheer is van die nasionale koronabevelsraad – én die kabinet - en of hy tweede viool teen Dlamini-Zuma en haar ondersteuners speel. Só erg was die bespiegeling dat hy in een van sy Maandagoggend-nuusbriewe die indruk dat hy polities verswak is probeer nekomdraai het: “Besluit word deur die kollektief geneem – en ek lei daardie kollektief,” het hy geskryf.
Die president sorg ook met reëlmaat dat hy in sy toesprake Suid-Afrikaners dit op die hart lê dat die inperkingsmaatreëls vir niemand ’n plesier is nie, dat dit ter wille van almal se gesondheid is dat die grendelstaat geld en dat hy dankbaar is vir die samewerking en geduld wat landsburgers in hierdie moeilike tye toon.
Maar die motiverings wat deur die staat aangebied word vir die inperkings, word deur Arnold Subel SC, wat namens FITA in die hofsaak teen die Ramaphosa-regering optree, betwis. Die tabakverbod is “drakonies” en is onregverdig op rokers afgedwing, het hy dit aan die Gautengse regterpresident Dunstan Mlambo gestel. “Dit was ’n wrede manier om mense te dwing om gehoorsaam te wees,” het hy onder meer gesê.
Marumo Moerane, wat namens die staat optree, het dit benadruk dat die koronavirus nuwe terrein vir almal is en dat besluite geneem word op grond van die beskikbare inliging. Uiteraard is daar geen waarborg dat alle rokers weens die inperkings sal ophou rook nie, “maar as ’n aansienlike aantal wel ophou, sal die las op die gesondheidstelsel verlig”.
Rolspelers in die tabakbedryf – en openbare steunwerwers soos Yusuf Abramjee – wys graag daarop dat die SA-staatskas jaarliks deur dié bedryf behoorlik met belastinginkomste gestu word; een voorbeeld is die meer as R10 miljard wat die grootste rolspeler, British American Tobacco (BAT), aan die SA Inkomstediens oorbetaal. Omgekeerd is daar ook die ekonomiese koste wat rook aan die land aanrig, wat vroeër deur die webwerf TobaccoAtlas, ’n inisiatief van die Amerikaanse Kankervereniging, op R59 miljoen per jaar beraam is vir onder meer die koste van gesondheidsdienste en ook die verlies aan produktiwiteit weens vroeë rookverwante-sterftes.
Waarom is dit dan slegs die verkoop van sigarette wat verbied word en nie rook self nie? wou die hof van Moerane weet. Dit moes hom ongetwyfeld onkant betrap het. Die hof se motivering vir die vraag was dat dit moontlik is dat sommige rokers heelwat rookgoed kon opgaar, terwyl die res geen ander uitweg sou hê as om aan onwettige handel deel te neem nie. Hierop het Moerane gesê die doel van die verbod was om die beskikbaarheid van sigarette te beperk – en die regering het reeds navorsing van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing aangebied wat dui op ’n afname in rook sedert die inperkings ingestel is.
Wat rokers egter warm onder die kraag laat, is dat selfs noudat die land se COVID-19-regulasies na fase 3 verslap is, word hulle steeds húl plesier ontneem, terwyl drankverkope weer toegelaat word (met inbegrip van beperkings, soos dat die verkope slegs tussen Maandae en Donderdae mag geskied en dat mense net tuis drank mag geniet).
Uitspraak in die saak is Woensdag deur die Hooggeregshof voorbehou, maar regter Mlambo het onderneem om die partye so vinnig as moontlik oor die bevinding in te lig. Weens die belangrikheid en dringendheid daarvan sal dit per e-pos gedoen word.
’n Mens kan nie die interessantheid miskyk dat Subel klem gelê het op hoedat armer mense die swaarste deur die verbod getref word weens die ongelooflike styging in swartmark-pryse nie. En hiervoor het selfs hierdie nie-roker begrip: sommige mense ís immers verslaaf aan rook, kan nie meer daarsonder nie en ly erg aan onttrekkingsimptome wanneer hulle nie rookgoed het nie. Maar die Subel-argument laat tog die vraag ontstaan oor of die regering werklik verantwoordelik gehou kan word as mense hulself vrywilliglik tot sluikhandel wend? Sou dit dan beteken iemand wat kos steel kan hongerte en die afwesigheid van wat die dief as voldoende staatsondersteuning beskou as regverdiging vir dié misstap aanbied? Of sal iemand wat aan vetsug ly die regering kan verantwoordelik hou vir die beskikbaarheid van ongesonde wegneemetes? En wat van mense wat van maatskaplike toelaes afhanklik is en soms veel eerder dié geld vir sigarette aanwend as vir kos vir die kinders?
Tabak en kos loop ’n lang pad saam in Suid-Afrika. Dit word gedemonstreer deur ’n verwysing in Good Hope oor hoe die vroeë Europese ontdekkingsreisigers die Khoekhoe met tabak en brood omgekoop het om vir hulle te dans - én hul privaatdele te ontbloot. Kutkykum was die woord wat gebruik is vir laasgenoemde versoek. “Tabackum [tabak] in haar hand (...),” beskryf David Tappe dié verskynsel in sy Ost-Indianische Reise-Beschreibung, “het sy haar skaapvel opgelig en my laat kyk, gelag en geloop.”
“Kutkykum” was destyds een van die hoogtepunte vir die gemiddelde besoeker aan die Kaap, lees jy in Good Hope. En “tabackum” het sedertdien vir ’n gewilde, indien ongesonde, tydverdryf onder plaaslike inwoners gesorg.
Buro: MvH