Die vier fases van kultuurskok

  • 0

’n Paar jaar gelede het ek Amsterdam toe getrek. Om te studeer, maar met die plan om permanent daar te bly. By die universiteit vertel hulle vir ons van die vier fases van kultuurskok.

Die wittebroodfase kom eerste. Jy voel verlief en opgewonde oor die nuwe land, betower deur elke detail en alles wat so anders is as waar jy vandaan kom. Hierdie heerlike, wasige fase kan weke duur, of veel langer. Daarna kom die fase van frustrasie. Op ’n dag kruip dit net skielik in. Eerder as om die Nederlander wat voor jou inry se fietsryvaardighede te bewonder, vloek jy onder jou asem soos wat jy probeer om jou balans te herwin. Jy word moeg van die vreemdheid, alles wat jy nie verstaan nie, alles wat jy verkeerd kry. Maar met verloop van tyd kom dit ook tot ’n einde: in die aanpassingsfase begin jy meer bekend voel met alles, jy begin dinge beter verstaan en jy leer nuwe maniere van dinge doen. Die derde fase begin wanneer jy aanvaar dat jy nooit heeltemal tuis en gemaklik gaan wees in die nuwe plek of kultuur nie, maar dat dit jou nie noodwendig verhoed om te floreer in jou nuwe lewe nie. Daarna is dit net die heimwee.

Foto van Azille Coetzee: Menán van Heerden

My wittebroodfase in Nederland was so intens dat ek dit met iets anders verwar het. Bestemming? Tuiskoms? Toe die duiselige verliefdheid na ’n jaar finaal afgewerk het, my hartklop bedaar het, en die ontnugtering ingetree het, het ek een doel voor oë gehad, en dit was om aan te pas. Nee, ín te pas.

Om heeltemal in te pas in Nederland is in beginsel ’n onbegonne taak. In Nederland word daar ’n onderskeid getref tussen allochtonen en autochtonen. Die allochtoon is die immigrant, buitelander, tegnies enige iemand van wie ten minste een ouer van êrens anders af kom (al is jy self in Nederland gebore). Die etniese Nederlander word deur baie Nederlanders beskou as autochtoon. Hierdie siening beteken dus dat daar van meet af aan ’n simboliese lyn in die sand getrek word, een wat die inkommer finaal en permanent onderskei van die gelukkige groep mense (oorwegend lank en blond) wat werklik en onvoorwaardelik in Nederland tuis hoort.

Al kan ’n mens nie volledig deel word nie, kan jy wel pass (as jy wit is). Jy kan Nederlands genoeg voorkom dat jy in Nederlands aangespreek word, dat jy inpas in die ritmes van die land en jou genoegsaam by die gebruike van haar mense hou. Jy kan Nederlands genoeg voorkom dat mense soms vir kort tye vergeet dat jy van elders af kom, dat hulle jou innooi, waardig ag en deelmaak. Dít is waar ek wou wees.

My transformasie begin met my uiterlike. Ek is ’n Suid-Afrikaner en ek daag in die Lae Lande op met ’n tas vol kleur, alles bont en vol patrone. Rondom my in die cafés, kroeë en klubs verskyn die stylvolle Amsterdammers meestal in ’n neutrale palet, hulle gebruik van kleur is hoogs selektief. Wit t-hemde, jeans, navy jasse, grys en baie swart. Tone it down, sê ek vir myself.  

Die Nederlandse mans het lang kuiwe wat hulle terug-jel, hulle is gladgeskeer en hulle dra klere wat goed pas. Jy moet jouself beter versorg, sê ek vir my Suid-Afrikaanse kêrel wat saam met my getrek het. Vir myself is dit teenoorgesteld: Nederlandse vroue dra min grimering, hulle het nie eintlik “haarstyle” nie en baie van hulle leef in jeans en sneakers. Boonop is dit peperduur om in Amsterdam te gaan vir ’n wax, manicure of blow dry. Ek gooi my eyeliner en BB cream weg, laat my hare uitgroei en leer om myself te wax.

Ek begin om my skouers terug te trek, my ken te lig en vinniger te loop. Die Nederlander is selfversekerd, vreesloos, haastig, en ’n mens kan dit sien.

Alhoewel die uiterlike belangrik is, is dit uiteindelik die innerlike verandering wat deurslag gee as ’n mens meer Nederlands wil word. Ek is te pieperig. Die Nederlander ry fiets in die reën, selfs laat in die nag. En sy kla nie daaroor nie. Sy het nie ’n kar nie, so wanneer sy haar inkopies gedoen het, laai sy die swaar sak op haar fiets en trap! Sy het nie ’n huiswerker nie, want sy kan nie een bekostig nie. (In Nederland, anders as in Suid-Afrika, verdien alle werkers ’n genoegsame loon.) Vir die eerste keer in my lewe leer ek om my eie toilet te skrop.  

Ek is te beleefd, ek probeer te nederig wees. Aanvanklik is dit vir my ongemaklik as ek Nederlanders ontmoet en hulle dadelik vir my van hul prestasies vertel. Mettertyd besef ek dat dit nie grootpratery of ’n gespog is nie, maar eerder ’n eerlike pragmatisme. Die Nederlandse nasie het as handelaars begin: dit wat jy het om aan te bied, word eerlik en ordentlik aan ander voorgestel. My Suid-Afrikaanse manier om met myself te spot en my prestasies te ontken, word deur die Nederlanders gelees as onsekerheid, swakheid. In Nederland leer ek om myself te sell sonder om te bloos of ’n grap daarvan te maak.

Nederlandse kinders word geleer dat geen vraag ooit verkeerd is nie. Die Nederlander is nuuskierig, krities en bevraagteken alles. Hulle reis die wêreld vol. Ek probeer om myself te leer om meer plek op te neem.

En ’n dikker vel te ontwikkel. Nederlanders probeer nie heeltyd om mekaar se gevoelens te spaar nie. Jy sê wat jy wil sê, en jy sê dit reguit. Ek word gewoond daaraan en vind dit verbasend verfrissend! (Ten minste meeste van die tyd.)

Ek probeer leer om my r’e te rol wanneer hulle aan die einde van Nederlandse woorde voorkom, glad en rond soos in Amerikaanse Engels. Dis net die plattelanders en die Belge wat ’n harde growwe r doen. En ék, ongelukkig, meeste van die tyd.

Ek koop vir my ’n “agenda” (’n dagboek) en ek skryf al my afsprake daarin neer. Vir die Nederlander is elke dag ’n geleentheid om ’n klomp nuwe dinge te vermag en jy moet ordentlik beplan om tyd te maak vir alles. In Nederland, tot my groot vreugde, is ’n mens betyds. Die Nederlander het nie tyd om vir iemand te sit en wag nie. 

Ek kry ’n stokperdjie. In Nederland lê ’n mens nie rond soos in Suid-Afrika nie. Tyd word effektief aan selfontwikkeling en –vervulling bestee. Leer Spaans of dans of pottebakkery. In Nederland het ek skielik meer tyd vir hierdie soort heilsame aktiwiteite, want hier sit ’n mens nie lank aan tafel nie, jy eet en kry klaar. My naweke is veel langer, want ek het minder hangovers. Saam met Nederlanders kuier jy lekker, maar minder gereeld en baie gematig.

Enige self-respekterende Nederlander leer die taal van die plek waar hulle woon. Die meeste praat drie tale, nog ’n nagevolg van hulle histories-kulturele identiteit as handelaars. Ek het eers gedink ek kan Nederlands vanself absorbeer omdat ek Afrikaans is. Dit werk nie. Ek het lesse begin neem en saans my verbuigings en tydsvorme geoefen. Ek voel skaam oor die feit dat ek nooit isiXhosa geleer het nie.

Om meer Nederlands te wees, moet ek minder opsigtelik, ekstreem en aweregs wees. Doe maar gewoon, dan doe je al gek genoeg. Wie het hoofd boven het maaiveld uitsteekt, word zijn kop eraf gehakt. Moenie te simpel of vreemd of uitspattig wees nie. Pas in, volg die reëls. (Is dít hoekom ek niks gesê het oor blackface, en al die ander vorme van geïnstitusionaliseerde en alledaagse rassisme nie? Probeer ek in retrospek myself verontskuldig?)

Ek spandeer ure voor Nederlandse televisie en bly op hoogte van Europese nuus. Ek leer om meer spaarsamig met my geld te werk, om hartige Nederlandse kos te geniet, minder om verskoning te vra, later te slaap, bier te drink, plastiek te herwin, sagter te praat, met drie soene te groet, en om sonskyn te vier. Ek kry ’n Nederlandse partner, trek by hom in, en ontvang ’n verblyfpermit.

Na veel langer as ’n jaar se harde werk slaag ek die aanpassingsfase met vlieënde vaandels. Ek het Nederlandse vriende, ek praat die taal, ek kry dit soms dae na mekaar lank reg om geen padreëls, treinreëls, of van die tallose ongeskrewe sosiale reëls te verbreek nie. In die meeste situasies neem mense aan dat ek Nederlands is (totdat ons begin gesels en my aksent my verraai). Ek kan saampraat oor Nederlandse politiek en literatuur en ek is op datum met alles wat in die afgelope paar jaar se Zomergasten (en Gooische Vrouwen) gebeur het.

Ek wag vir die aanvaarding om oor my te spoel, om daardie beloofde toestand van ewewig te bereik. Maar dit ontwyk my. Dis vlaag op vlaag van heimwee.

Na drie jaar van Nederlander speel, pak ek op en gaan huis toe. Ek asem longe vol seelug in op Kaapstad se lughawe.

Om (meer) Nederlands te wees (te word) is lonend – dit is gemaklik, gesond, stimulerend, produktief. Jy voel goed oor jouself en hoopvol oor die toekoms. Maar ek het te hard probeer, dink ek deesdae. Te veel opgegee (omgegee?). Volgende keer, neem ek myself voor, benader ek dit meer gebalanseerd, meer sober, met meer selfvertroue, meer gematig – meer ... Nederlands?

Buro: MvH
  • 0
Top