Die wáre "werklike stand" van die Suid-Afrikaanse nasie

  • 0

Die debat wat tans in Suid-Afrika woed, enkele dae voordat pres Cyril Ramaphosa môre [Donderdag] die 2021-staatsrede lewer, is wat die werklike stand van die nasie is.

Dit is ’n debat wat tot ’n groot mate aangevuur word deur die regering se hantering van die COVID-19-pandemie in die algemeen en die aankope en verspreiding van ’n entstof in die besonder.

En dit wentel nou primêr rondom die verwikkeling wat toon dat ’n week nie slegs in die politiek ’n lang tyd is nie, maar ook in die bestuur van ’n pandemie.

’n Week gelede – verlede Maandag – is daar met groot opgewondenheid uitgesien na die aankoms in die land van ’n eerste besending van die Oxford-entstof AstraZeneca uit Indië. Dit het ’n miljoen dosisse bevat van ’n bestelling van 1,5 miljoen; nóg sou binnekort op pad wees van Johnson & Johnson, asook van Pfizer. En op die aankomsbaan van die OR Tambo Internasionale lughawe in Johannesburg het ’n hele aantal hooggeplaastes, onder wie die President, die besending verwelkom.

Die toneel het herinner aan wat voorheen hier aanskou is slegs met gebeurtenisse so groot soos die terugkeer van politieke ballinge in die begin-’90’s, besoeke deur internasionale ikone soos Britse adellikes, popsterre soos Michael Jackson en sportsterre soos Ajax Holland; ander kere was met die terugkeer van die seëvierende Wêreldbeker-Springbokke in 2007 en 2019 en Zozibini Tunzi as 2019 se Mejuffrou Suid-Afrika wat toe ook as Mejuffrou Heelal aangewys is.

Die ekstase was tasbaar; die glimlagte breed. Die leiers en die land was in vuvuzelavervoering.

Maar nou het die ballonne van pandemiebeheer wat in die atmosfeer vrygestel is, in die lug bo ons koppe gebars nadat ’n studie aangedui het dat die AstraZeneca-entstof nie in staat sal wees om ’n stokkie voor die nuwe variant genaamd 501Y.V2 te steek nie. Dit is ’n variant wat deur die N501Y-mutasie – soortgelyk aan wat tot ’n nuwe variant in Brittanje aanleiding gegee het – meer aansteeklik gemaak word, maar glo nie meer dodelik nie.

Die gevolg was internasionale nuusdekking wat die omgekeerde was van wat aan die begin van die pandemie geniet is: Tóé is Suid-Afrika geprys vir sy leierskap op die Afrika-vasteland en in die wêreld met ’n vinnige en streng inperking; nóú berigte wat daartoe gelei het dat onder meer Amerika, Brittanje en Nederland sy grense vir besoekers uit ons land summier gesluit het. Hoe anders, dan, as jy opskrifte soos hierdie een in De Telegraaf raaklees: “Grote uitbraak besmettelijke Zuid-Afrikaanse variant in Oostende”.

Terug by die huis het opposisiepartye teruggeval op hul deurlopende kritiek met elke aankondiging van die verlenging, verslapping of verstrenging van die land se inperkingsmaatreëls. Die DA, wat reeds die Ramaphosa-regering hof toe sleep om hom te dwing om die entstofplan in die fynste besonderhede bekend te maak, span die tekortkominge in om steun vir die komende plaaslike verkiesings te werf.

In sy sogenaamde ware staatsrede (True State of the Nation Address, afgekort as TSONA), het die DA-leier, John Steenhuisen, onder meer faktore uitgelig wat aanduidend daarvan sou wees dat die land tans in ’n groot krisis op drie fronte verkeer:

  • ’n Covid-krisis, waaruit die land slegs deur ’n onmiddellike en omvattende entstofprogram kan ontsnap
  • ’n ekonomiese krisis, wat ’n aantal dringende en dapper ekonomiese hervormings vereis
  • ’n demokratiese krisis na aanleiding van onlangse getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping oor hoe die staatsveiligheidsagentskap in die verlede ingespan sou gewees het om oudpres Jacob Zuma se bankbalans te stu en met sy politieke opponente af te reken.

Die Steenhuisen-slotsom dan: “En die enigste onmiddellike uitkoms uit hierdie krisis, as ons brutaal eerlik moet wees, is dat ons regering in skaamte moet bedank.”

Jy kan hom dit nie verkwalik dat hy gestalte gee aan die rol van die opposisie – vernaamlik die amptelike opposisieparty soos wat syne is – en dit is om die regerende party gedurig tot verantwoording te roep nie. Tog is Steenhuisen en die res van die opposisie ongetwyfeld bewus daarvan dat sy derde betoog – oor hoe die staatsveiligheidsagentskap misbruik is – nie op Ramaphosa se brood gesmeer kan word nie, omdat dit uiteindelik ook teen Ramaphosa self aangewend was.

En dan wat die eerste betoog en die tweede betref, is daar hierdie keer geen rede om jou te wend na ’n ou Suid-Afrikaanse sindroom, te wete uitsonderlikheid of “exceptionalism” nie. Dit is die gewoonte om op te tree (te reageer, voor te gee) asof iets eie aan ons land is, terwyl jy in die 30 Januarie – 5 Februarie-uitgawe van The Economist byvoorbeeld kan lees hoedat selfs die Europese Unie oor die Steenhuisen-betoë een en twee onder kritiek deurloop.

“The mood in the European Union is grim,” skryf die publikasie in ’n hoofartikel oor die trae pas van ’n entstofuitrolprogram, wat net sowel ’n verwysing na die gemoedstoestand hier ter plaatse kon wees. “The slower the roll-out, the more die and the greater the economic harm will be.” Soos eweneens hier by ons, waar die regering daarvan beskuldig word dat voete gesleep is met die aanvanklike bestellings vir entstowwe en waar dit reeds voor die pandemie broekskeur met die ekonomie gegaan het.

Ten spyte daarvan – en ook die feit dat ryker lande, soos alombekend is, veel meer entstowwe aangekoop het as wat hulle benodig het in ’n wedloop wat nou as “entstof-nasionalisme” bekend staan, het die Suid-Afrikaanse regering steeds ’n ambisieuse entstofuitrolplan. Dit is om die eerste besending(s) entstof (of dan nou eerder die tweede van Johnson & Johnson as AstraZeneca nie eens as ’n eerste dosis gebruik kan word nie) vir gesondheidwerkers aan te wend. Die doelwit is om uiteindelik 67% van die bevolking, ongeveer 40 miljoen mense, teen die einde van die jaar in te ent – mits daar nie verdere verrassende haakplekke opduik nie, soos hierdie een met AstraZeneca en die nuwe variant.

Die DA speel ’n slim spel deur in die enigste provinsie waar hy regeer – die Wes-Kaap, of Kaap de Goede Hoop in die ou koloniale taal – sy eie planne vir die aankoop van entstowwe vir die inwoners daar te maak. Intussen veroorsaak hy verwarring wanneer hy gedurig vasskop teen die nasionale regering se pogings om die verspreiding van die virus met inperkingsmaatreëls te keer.

Nou, wéér, dring Steenhuisen daarop aan dat die rampstaat, wat inperkings grondwetlik moontlik maak, opgehef moet word. Maar wanneer die infeksiegetalle styg en twyfel ontstaan oor die effektiwiteit van ’n entstof teen ’n nuwe variant (terloops, wat vóór die ontdekking van die nuwe variant bestel is), is dit slegs die regering wat daarvoor pa moet staan.

Die wáre, “werklike stand van die nasie” hierdie week in Suid-Afrika sluit dus ook in die optrede van opposisiepartye wat, soos die gesegde lui, alte dikwels die (Covid-) donkerte vervloek, maar geen poging aanwend om ’n (entstof-) kers aan die brand te steek nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top