Diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Israel hang in weegskaal

  • 0

Diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Israel hang in die weegskaal. Dit volg nadat die parlement Dinsdag ten gunste van ’n mosie gestem het wat vra vir die sluiting van Israel se ambassade in Pretoria.

Die mosie vra ook vir die opskorting van diplomatieke bande tussen die twee lande namate die spanning tussen Israel en Suid-Afrika toeneem oor die Israeliese aanval op Gaza.

Die mosie wat aanvaar is, is egter grootliks simbolies, aangesien dit nie bindend is nie en dit by die regering berus of hulle dit gaan implementeer.

Die mosie wat vra vir die opskorting van alle diplomatieke betrekkinge totdat ’n wapenstilstand bereik word, het Dinsdag in die Nasionale Vergadering (NV) met 248 stemme ten gunste daarvan en 91 stemme daarteen geslaag.

Dit is egter onwaarskynlik dat die regering sy diplomatieke bande met Israel onmiddellik sal verbreek, aangesien daar kort daarna wel ’n tydelike wapenstilstand tussen Israel en Hamas afgekondig is.

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, se standpunt is ook dat dit teenproduktief sal wees om die land se bande met Israel heeltemal te verbreek.

Volgens die mosie moet Israel instem tot ’n skietstilstand in die oorlog, asook tot vredesonderhandelinge onder leiding van die Verenigde Nasies (VN).

Die ANC en die EFF het albei ten gunste van die mosie gestem; so ook die ATM, NVP, PAC en Al Jama-ah. Die 91 parlementslede van die DA, Vryheidsfront Plus, IVP en ACDP het teen die mosie gestem.

Israel se regering en Hamas het Woensdag ingestem tot ’n skietstaking van vier dae om die vrylating van 50 gyselaars wat in Gaza aangehou word, toe te laat in ruil vir 150 Palestyne wat in Israel gevange geneem is, en die toegang van humanitêre hulp in die beleërde enklawe.

Hamas hou glo meer as 200 gyselaars aan wat gevange geneem is toe sy vegters Israel op 7 Oktober binnegestorm en 1 200 mense doodgemaak het, volgens Israeliese syfers.

Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het in ’n verklaring gesê Suid-Afrika het homself met die mosie wat in die parlement aanvaar is, nou uitgesluit van enige bilaterale gesprekvoering oor ’n kwessie wat die hele wêreld raak.

Mulder sê die besluit van ’n ANC- en EFF-meerderheid in die Nasionale Vergadering om diplomatieke bande met Israel te verbreek, is uiters kortsigtig, nie in belang van Suid-Afrika nie, en sal die land toenemend isoleer.

Hy sê soos met onteiening sonder vergoeding het die EFF-stert weer die ANC rondgeswaai oor sy verbreking van formele bande met Israel. “Beide met gevolge wat niks goed vir die land voorspel nie.”

Volgens Mulder maak dit ’n bespotting van die ANC-regering en president Cyril Ramaphosa se sogenaamde pogings om deur gesprekvoering te help om vrede te beding in die voortslepende Midde-Oosterse krisis met een party wat nou onwelkom is in die gesprek.

“Dit terwyl daar juis nou ’n groot behoefte is aan gesprek en onderhandeling.”

Israel het sy ambassadeur in Suid-Afrika, Eliav Belotserkovsky, “vir konsultasies” herroep kort voordat die parlement Dinsdag gestem oor die twee lande se diplomatieke betrekkinge.

Volgens Israel se ministerie van buitelandse sake is Belotserkovsky na Jerusalem ontbied te midde van Ramaphosa se kritiek op Israel se aanvalle op Gaza.

Suid-Afrika se regering het reeds twee weke gelede sy ambassadeur en diplomatieke sending na Israel herroep ter veroordeling van die bombardement van die Gaza-strook, en noem dit ’n “volksmoord”.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top