Dis-Chem se verbod op wit aanstellings gaan in die hof draai

  • 0

Dis-Chem se toepassing van die Wet op Billike Indiensneming gaan in die hoef getoets word. Die vakbond Solidariteit het Maandag aangekondig hulle gaan Dis-Chem hof toe sleep oor die verbod wat hulle op die aanstelling en bevordering van wit mense geplaas het.

Solidariteit sê in ’n verklaring hulle gaan reeds hierdie week die eerste regsbriewe op Dis-Chem beteken. Solidariteit het op 18 Oktober aan Dis-Chem geskryf om aan te dui of die omstrede rassebeleid teruggetrek is. Indien nie, het Solidariteit die reg voorbehou om te litigeer.

Die farmaseutiese reus het glo nie aan Solidariteit se sperdatum van 21 Oktober voldoen nie.

 “Die hele Suid-Afrika wil weet of Dis-Chem net die omstrede memorandum of ook die beleid terugtrek. In plaas daarvan om sekerheid te gee, weier Dis-Chem om inligting bekend te maak. Dis-Chem se verklarings is vaag en doen niks om sekerheid te skep nie. Die vraag is eenvoudig: Is daar ’n verbod op die aanstelling en bevordering van wit werknemers? Die feit dat Dis-Chem weier om die inligting te bevestig, laat ons met geen keuse nie as om te aanvaar dat die beleid gehandhaaf word,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Die Wet op Billike Indiensneming het al verskeie kere hewige en polariserende reaksies by Suid-Afrikaners ontlok. Aan die een kant word dit beskou as die enigste instrument om Suid-Afrika se verlede van onbillike indiensmening waar wittes bevoordeel is, reg te stel. Aan die ander kant meen sommige die wet is ongrondwetlik en diskrimineer teen wittes. Daar word ook aangevoer dat dit daartoe bydra dat kundige mense wat geen toekoms vir hulself in Suid-Afrika se arbeidsmag sien nie, die land verlaat met ’n gevolglike gebrek aan noodsaaklike kundigheid hier.

Volgens Solidariteit gaan Dis-Chem verder as wat die Wet op Billike Indiensneming toelaat. Solidariteit sê hulle regstrategie sal ’n kombinasie wees van ’n aansoek om openbaarmaking van inligting en ’n aansoek by die Arbeidshof om Dis-Chem se rassebeleid onwettig te verklaar.

Solidariteit sê die Wet op Billike Indiensneming verbied absolute plafonne en kwotas en vereis buigsaamheid. Hulle glo die wet self en regspraak in dié verband is duidelik daaroor.

“Daar is regsbeperkings verbonde aan rassewetgewing. Dis-Chem stel nou ’n nuwe norm vir die privaat sektor daar. Die wet kan nie verbreek word in ’n poging om aan ’n wet te voldoen nie. Regspraak het ook al duidelik gewys dat daar regte van wit werknemers is wat ook beskerm moet word. Rassewetgewing en -beleid mag nie ’n straf wees nie, maar moet op regstelling fokus. Dis-Chem wil ’n harde rassebeleid daarstel. Die doel is bloot rasseverteenwoordiging en dit het niks met regstelling te make nie,” het Hermann gesê.

Die herrie het verlede week op sosiale media losgebars nadat ’n memorandum van Dis-Chem se uitvoerende hoof, Ivan Saltzman, waarin ’n verbod op die aanstelling en bevordering van wit mense gelas is, uitgelek het. In die memorandum spreek Saltzman die vrees uit dat Dis-Chem beboet kan word as hy nie sy rasseteikens haal nie.

Nadat Dis-Chem verlede week die omstrede memorandum teruggetrek het weens die “swak bewoording”, het hulle egter gesê hulle staan ​​by die moratorium.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het verlede week ook kritiek uitgespreek teen Dis-Chem se moratorium en van “geïnstitusionaliseerde rassisme” beskuldig as hulle daarmee sou voortgaan.

Volgens die IRR strook dit nie met die Grondwet wat nierassigheid identifiseer as ’n grondliggende waarde van Suid-Afrika se demokrasie nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top