Samesprekings oor Suid-Afrika se nuwe koalisieregering wat na afloop van verlede week se verkiesing gevorm moet word, duur onverpoosd voort agter die skerms.
Daar is hoofsaaklik twee opsies op die tafel. Dit is ’n koalisie of samewerkingsooreenkoms tussen die ANC en die meer linkse partye soos die EFF en die MK-party aan die een kant, of tussen die ANC en die DA aan die ander kant waarby daar ook van die kleiner partye soos die IVP ingesluit kan word.
’n Koalisieregering bestaan wanneer twee of meer politieke partye (of onafhanklike verteenwoordigers) hul stemme in ’n wetgewer of raad kombineer om ’n regering te kies en om die besluite wat dit neem, te ondersteun. Dit word nodig wanneer geen party ’n meerderheid van die setels in die wetgewer of raad het nie.
Die ANC, wat ongeveer 40 persent steun in die verkiesing gekry het, is steeds die grootste party in die parlement. Omdat hulle nie ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie, is hulle nou genoodsaak om met een of meer van die ander partye saam te werk om ’n regering saam te stel.
Politieke waarnemers gis sedert die uitslag aangekondig is in watter koers die ANC gaan beweeg. Dit sal deurslaggewend wees om te bepaal hoe die nuwe regering gaan lyk wat Suid-Afrika die volgende vyf jaar moet regeer.
Die land se sakegemeenskap hou die situasie ook fyn dop. Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, waarsku dat die land se politici ’n kritieke keuse in die gesig staar tussen die oppergesag van die reg en groei aan die een kant, en om al die vordering wat die afgelope vyf jaar gemaak is, ongedaan te maak aan die ander kant.
Mavuso het volgens BusinessTech gesê die verkiesingsuitslae het as ’n skok vir politici gekom. Die ANC het sy meerderheid skouspelagtig verloor, nasionaal tot byna onder 40% geval en belangrike ekonomiese sleutelpunte in die provinsies verloor, veral in KwaZulu-Natal, waar die MK-party as die gunstelingparty na vore getree het. In Gauteng sal die ANC ook ’n koalisie met ander partye moet vorm om deel van die regering te bly.
Die ANC kan ook as ’n minderheidsregering regeer. Dit kan egter parlementêre onsekerheid en onstabiliteit skep. ’n Ooreenkoms met die DA sou deur die meeste finansiële markte verwelkom word, aangesien dit ekonomiese hervormings en privatiseringsinisiatiewe kan versnel.
Investors hopeful for South Africa – but they’ve been wrong before https://t.co/iRtwUrJFtS
— BusinessTech (@BusinessTechSA) June 4, 2024
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het op X gesê die ANC voer samesprekings binne die organisasie en met ander partye en belanghebbendes oor hoe om nasionale en provinsiale regerings die beste te vestig wat die wil van die mense weerspieël, en wat in staat is om die land vorentoe te neem.
“Die kiesers van Suid-Afrika het gewys dat hulle van die leiers van hierdie land verwag om saam te werk in almal se belang. Ons sal voortgaan om verantwoordelik, progressief en te alle tye in die belang van die mense van Suid-Afrika op te tree,” het Mbalula gesê.
The ANC is having discussions within the organisation and with other parties and stakeholders on how best to establish national and provincial governments that reflect the will of the people, and that are able to take the country forward.
The voters of South Africa have shown… pic.twitter.com/LDCMxMcBFK
— ANC SECRETARY GENERAL | Fikile Mbalula (@MbalulaFikile) June 3, 2024
Die DA sê die party sal altyd die belang van Suid-Afrika vooropstel. “Daarom praat ons tans met ander politieke partye om seker te maak dat ’n regering gevorm word wat ons Grondwet beskerm teen partye wat dit wil opskeur,” het hulle op X gesê.
???????? Die DA sal altyd die belang van Suid-Afrika vooropstel. Daarom praat ons tans met ander politieke partye om seker te maak dat ‘n regering gevorm word wat ons Grondwet beskerm teen partye wat dit wil opskeur: https://t.co/Vieoh94SbB pic.twitter.com/lv9uX51OEG
— Democratic Alliance (@Our_DA) June 3, 2024
Daar bestaan egter onversoenbare sienings oor ’n reeks sleutelkwessies tussen die ANC en die DA. Dit sal Salomo se wysheid en Job se geduld verg om die twee partye tot ’n ooreenkoms te laat kom.
Die MK-party het genoeg stemme om die ANC te help om aan die bewind te bly, maar Zuma se verhouding met sy voormalige kamerade in die ANC het tot so ’n mate versuur dat ’n ooreenkoms tussen die twee partye baie moeilik beklink sal word.
Dit laat die EFF, wat saam met die ANC en van die kleiner party ook ’n koalisieregering sou kon vorm.
Die insluiting van die EFF en MK in enige koalisie sou egter hoogs onwaarskynlik vir die DA aanvaarbaar wees en kan daartoe lei dat die DA onttrek uit die gesprek oor ’n koalisie.
Die nuwe parlement moet binne 14 dae nadat die uitslae bekend gemaak is, vir die eerste keer sit en ’n president kies.
Die volgende week en ’n half sal dus deurslaggewend wees om te bepaal hoe Suid-Afrika se volgende regering gaan lyk en wie die president gaan wees.