Gewone Suid-Afrikaners wat tradisioneel vir die ANC gestem het, sal vir die eerste keer regstreeks tussen Cyril Ramaphosa en Jacob Zuma kan kies wanneer hulle op 29 Mei hulle kruisies by die stembus gaan trek.
Dit volg nadat die Kieshof Dinsdag beslis het dat Zuma, wie se naam op die MK-party se kandidatelys verskyn, wel aan vanjaar se verkiesing mag deelneem.
Die Kieshof het in die guns van die MK-party en oudpresident Jacob Zuma beslis in die saak waarin die OVK hom verbied het om hom verkiesbaar te stel om na die parlement terug te keer.
BREAKING : Former President Jacob Zuma has won his appeal in the Electoral Court. He remains on the list for uMkhonto we Sizwe . The objection is dismissed #SABCNews pic.twitter.com/Hda2chhN7N
— Canny Maphanga (@CannyMaphanga) April 9, 2024
Die OVK het aangevoer dat Zuma nie as ’n kandidaat aan die verkiesing mag deelneem nie, omdat hy ingevolge artikel 47 van die Grondwet nie verkiesbaar is nie, weens sy skuldigbevinding aan minagting van die hof.
Die hof het egter ten gunste van Zuma en die MK-party se appèl teen die OVK beslis.
Dit beteken dat vanjaar se verkiesing onder ANC-gesindes neerkom op ’n minireferendum tussen Ramaphosa en Zuma. Dinsdag se hofuitspraak sal waarskynlik die spanning tussen die Ramaphosa- en Zuma-faksies onder ANC-lede verder verhoog.
President Zuma will definitely be on the Ballot Paper and will be sworn as a state President for the third time but this time under MKP pic.twitter.com/gQ4t87XXxL
— Sphe J Hadebe (@sphe_hadebe) April 9, 2024
Die Kieshof in Johannesburg het Maandag argumente aangehoor vir en teen Zuma se diskwalifikasie om ’n kandidaat in die komende verkiesing te wees.
Die OVK het beswaar gemaak teen Zuma se kandidatuur op die MK-partylys vir die Nasionale Vergadering omdat hy ’n kriminele skuldigbevinding gehad het met ’n vonnis van meer as 12 maande sonder die keuse van ’n boete.
Die MK-party het die interpretasie van artikel 47(1)(e), wat die voorwaardes stel waaronder ’n veroordeelde burger nie ’n openbare amp mag beklee nie, betwis.
Zuma is in 2021 skuldig bevind aan minagting van die hof en tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis vir sy weiering om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.
MK se advokaat, Dali Mpofu, het aangevoer dat die OVK geen magtiging het om artikel 47 van die Grondwet teen Zuma te implementeer en hom te diskwalifiseer om as kandidaat op een van die partylyste te verskyn nie.
[ICYMI] MK Party's legal representative Adv. Dali Mpofu's closing submission at the Electoral Court: "The Commission (IEC) or this court has no right to decide which prisoner should be deprived of the vote." #Newzroom405 pic.twitter.com/s0EyHIgrPH
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) April 9, 2024
Mpofu het aangevoer dat Zuma slegs drie maande in die tronk deurgebring het nadat hy ’n kwytskelding van vonnis ontvang het, wat sy aanvanklike vonnis van 15 maande irrelevant maak.
In Pietermaritzburg, waar Zuma ook Dinsdag in die hof verskyn het in verband met sy rol in die wapentransaksies in die ’90's, het hy buite die Hooggeregshof met sy ondersteuners gepraat en aangevoer dat hy in aanmerking moet kom om weer president te word, omdat hy nie sy tweede, en laaste, ampstermyn voltooi het toe die ANC hom herroep het nie.
“Die Nkandla-seun het nie sy twee termyne klaargemaak nie. As hulle sê gaan terug, sal niemand my keer nie. Hulle vergeet dat ek nie my termyn klaargemaak het nie; daar is nog iets wat ek moet gaan klaarmaak,” het Zuma gesê.
“Ek was in die regering terwyl ek lid van die ANC was. Ek het nog nooit gehoor dat wanneer jy die ander party verlaat en jy begin joune, jy nie die reg het om president daarvan te wees nie. Daar is niks in die wet wat dit verbied nie,” het hy bygevoeg.
Die oudpresident se prokureurs het in sy hofaansoek om die OVK-uitspraak om te keer gesê Zuma is nie krimineel aangekla nie, het nie ’n verhoor ondergaan nie en is nie skuldig bevind aan ’n kriminele oortreding nie. Dit het volgens hulle beteken dat sy verwydering van die lys op grond van ’n kriminele skuldigbevinding onbehoorlik was.
Tembeka Ngcukaitobi, die regsverteenwoordiger vir die OVK, het onsuksesvol aangevoer dat die land ongekwalifiseerde mense in die Nasionale Vergadering sal hê indien daar ten gunste van die MK-party beslis word.