Herman Wasserman vertel vir Izak de Vries en Menán van Heerden oor sy jongste twee projekte: ’n boek, Disinformation in the Global South, en ’n verslag, "Meeting the challenges of information disorder in the Global South".
Disinformasie: Globale Suide versus Globale Noorde
Baie geluk met jou jongste boek, Herman! Om binne ’n jaar ’n boek soos Disinformation in the Global South saam te stel, is nogal ’n storie. Hoe is die bydraers gekies en watter faktore het ’n rol gespeel by die keuse?
Die boek het darem al ’n bietjie langer as ’n jaar geduur om aanmekaar te sit. Ek en my mederedakteur, Dani Madrid-Morales (destyds Universiteit van Houston, nou Universiteit van Sheffield), het die voorstel aan die uitgewer voorgelê aan die einde van 2019, en in 2020 begin om bydraers te nader. Ons wou graag bydraes hê wat min of meer verteenwoordigend is van die Globale Suide, en van leidende navorsers in die veld.
Terselfdertyd wou ons wegkom van die tipiese benadering van geografies-georganiseerde hoofstukke wat dikwels geredigeerde boeke van buite die dominante Noorde kenmerk. Dit is ’n bekende punt van kritiek dat navorsers in die Noorde teoretiese raamwerke bou, en dan word daar van die Suide verwag om voorbeelde en gevallestudies te verskaf om daardie raamwerke in te klee. Amper op die model van ’n myn – dat die Suide die grondstowwe verskaf, maar die blink juweliersware of selfone word elders vervaardig. Dus het ons die boek eerder volgens temas as volgens geografiese streke georganiseer, en bydraers gevra om hul geografiese voorbeelde te gebruik as vertrekpunte om breër teoretiese argumente te ontwikkel.
Die boek ondersoek die politiese, sosiale en mediakontekste waarin disinformasie plaasvind. Wat was vir jou die mees verrassende aspekte? En hoekom?
Een van die sentrale argumente in die boek is dat ons disinformasie moet verstaan as ’n sosiotegnologiese probleem. Wat ons daarmee bedoel, is dat dit nie soseer platforms soos Twitter, Facebook, WhatsApp en dies meer is wat op sigself gevaarlik is nie – ten spyte van al die paniek rondom sosiale media – maar dat hierdie tegnologieë soos ’n megafoon werk: Dit versterk sosiale dinamika, en teer op polarisasie, ongelykheid, vooroordele en dies meer wat reeds in samelewings teenwoordig is. Dit is dus die kombinasie van tegnologiese en sosiale aspekte wat disinformasie in die hand werk. Vanuit hierdie oogpunt word konteks dus uiters belangrik om te verstaan hoe disinformasie bekamp kan word, moet ons eers die sosiale, kulturele, politiese en ekonomiese faktore verstaan waarop dit gedy.
Wat miskien nie verrassend is nie, maar wel baie insiggewend, is om dan te sien hoeveel parallelle daar tussen kontekste in die Globale Suide is. As jy byvoorbeeld net Suid-Afrika, Brasilië en Indië vergelyk, merk jy op hoe populistiese politici die sosio-ekonomiese ongelykhede in hierdie lande uitbuit, hoe ongelyke toegang tot die internet verhoed dat gemeenskappe hulself met betroubare inligting kan bemagtig, hoe regerings disinformasie gebruik (en selfs kriminaliseer) as ’n rookskerm om vryheid van spraak aan bande te lê.
Dus, wanneer jou beginpunt vanuit die spesifieke kontekste is, begin daar mettertyd patrone na vore kom tussen verskillende, maar vergelykbare, plekke.
Hoe verskil die begrippe Globale Suide en Suidelike Halfrond? Word die Globale Suide stereotipeer as "armer" lande, teenoor die "ryker" Globale Noorde?
Soos met omtrent elke akademiese term, is daar ook meningsverskil oor die bruikbaarheid van die term Globale Suide. Maar kortliks verskil dit van Suidelike Halfrond in die sin dat laasgenoemde ’n geografiese term is terwyl Globale Suide meer van ’n sosiopolitiese term is wat dui op magswanbalanse, die geskiedenis van
kolonialisme, en solidariteit tussen arm lande. Dit word beskou as minder paternalisties as terme soos ontwikkelende wêreld en meer relevant as die Koue Oorlog-geïnspireerde Derde Wêreld. Die term dui dus op ’n fokus op geopolitieke magsverhoudinge.
Kry die Globale Suide teenoor die Globale Noorde oor die algemeen te min lugtyd met betrekking tot byvoorbeeld akademiese navorsing?
Beslis. Disinformasiestudies as ’n ontluikende veld het veral in 2016 ’n skerp opbloei begin toon met die verkiesingsveldtog van die voormalige Amerikaanse president Donald Trump. Nie net Trump se verkiesingsveldtog was gehul in beweringe van disinformasie nie. Hy is ook berug vir die disinformasie wat hy oor COVID-19 versprei het, en sy aanhitsing van geweld in reaksie op die bestorming van die Capitol in Januarie verlede jaar. Trump se misbruik van sosiale media was onlangs weer in die nuus nadat Elon Musk aangedui het dat hy Twitter se verbod op Trump sal ophef wanneer, of indien, dié sosialemediaplatform sy eiendom word.
Gevolglik hou die meeste navorsing in hierdie gebied verband met die VSA en in ’n mate Europa. Desondanks is disinformasie, propaganda, vals inligting en beperkinge op vryheid van spraak al veel langer ’n probleem in die Globale Suide. Ek en Madrid-Morales het in ons navorsing bevind dat 73% van akademiese artikels oor die onderwerp van disinformasie wat tussen 2000 en 2020 gepubliseer is, oor die Globale Noorde handel. Die veld gaan dus mank aan geografiese, kulturele en linguistiese diversiteit.
In ’n onlangse LitNet-artikel verduidelik jy die verskil tussen disinformasie en fopnuus – hoekom is daar ’n verskil?
Soos ’n mens kan verwag van ’n ontwikkelende veld, word sleutelbegrippe nog ontwikkel en gedebatteer. Daar is egter al meer konsensus dat die term fopnuus (fake news) enersyds nie genuanseerd genoeg is om die verskillende vorme van problematiese inligting te verwoord nie, en andersyds deur populistiese politici in ’n wapen omskep is om die nuusmedia te ondermyn. Dus word terme soos dis-, mis- en waninformasie verkies.
Hoe sou jy Afrosentriese en/of postkoloniale benaderings tot die bekamping van disinformasie omskryf?
Ek dink die eerste stap is om te besef dat die studie van disinformasie, nes die studie van media en kommunikasie in die breë, steeds gedomineer word deur perspektiewe uit die Noorde. Daar is ’n groot gaping in ons kennis van hoe disinformasie in die Suide lyk, wie werk om dit te bekamp, watter strategieë hulle gebruik, watter uitdagings hulle die hoof moet bied, en so meer.
’n Afrosentriese benadering sou dus inhou dat die perspektief verskuif, dat ons die probleem beskou vanuit ’n invalshoek in die Suide. Verder, soos ek reeds hier bo genoem het, sal ’n gedekolonialiseerde benadering tot die studie van disinformasie ook inhou dat die magsverhoudinge ten opsigte van kennisproduksie in ag geneem word: Wie bou die teorieë en wie verskaf die gevallestudies? Wie tree op as die hekwagters van konsepte, definisies, raamwerke?
Benewens die samestelling van die boek het jy onlangs ’n groot studie oor disinformasie in die Globale Suide met spanne vanuit Afrika, Suid-Amerika, die Midde-Ooste en Asië onderneem. Die verslag waarna hier bo verwys is, "Meeting the challenges of information disorder in the Global South", het daaruit voortgevloei. Die verslag ondersoek die metodes en strategieë wat deur organisasies en aktiviste gebruik word om disinformasie teen te werk. Wat was vir jou die mees verrassende aspekte van hierdie studie, en hoekom?
Hierdie projek was vir my baie insiggewend en inspirerend. Insiggewend, omdat ek saamgewerk het met spanne navorsers uit verskillende dele vandie wêreld en sodoende direkte insae kon kry in hul ervarings, kennis en kontekste. Inspirerend, omdat ek by hulle kon hoor hoedat disinformasie regoor hierdie verskillende streke die stryd aangesê word deur ’n wye verskeidenheid organisasies, aktiviste, joernaliste en burgers.
Die mees verrassende aspek was om te sien hoedat disinformasie een komponent van ’n groter, ineengeskakelde ekologie is – byvoorbeeld dat om disinformasie te beveg dit ook nodig is om ondersoekende joernalistiek te bevorder, te sorg dat burgers toegang het tot gehalte-informasie, dat aktiviste die vryheid van spraak het om hul regerings verantwoordbaar te hou. Dus werk baie van hierdie organisasies in die Suide op verskeie vlakke tegelyk om die probleem die hoof te bied.
Jy noem in die verslag dat disinformasie in die Globale Noorde dikwels voorafgegaan is deur disinformasie in die Globale Suide. Vertel nog?
In sy voorwoord tot ons boek skryf Guy Berger van Unesco dat die Globale Suide baie lesse inhou vir die Noorde, en indien daar vroeër meer aandag gegee sou wees aan die situasie in lande in die Suide, sommige krisisse in die Noorde afgeweer sou kon word.
Hy herinner ons daaraan dat Oekraïne ’n teiken van geopolitieke inmenging was lank voordat dit ’n bron van kommer in die 2016-verkiesing in die VSA geword het; dat disinformasie gebruik is as ’n wapen in die Filippyne teenoor joernaliste soos die Nobelpryswenner Maria Ressa nog voordat joernaliste in die VSA uitgekryt is dat hulle kwansuis "fopnuus" produseer.
Ons weet ook uit die onlangse onthullings oor Facebook dat dié platform medepligtig was aan haatspraak teen die Rohingia in Mianmar lank voordat soortgelyke taktieke gebruik is om polarisering in die Amerikaanse binnelandse politiek teweeg te bring.
Die Bell Pottinger-skandaal hier in Suid-Afrika is nog ’n voorbeeld van hoe ekonomiese ongelykhede en rassespanning uitgebuit is deur ’n grootskaalse disinformasieveldtog – nie heeltemal verskillend van die dryfvere van polarisasie in die VSA nie.
Kunsmatige intelligensie en disinformasie
Watter rol speel kunsmatige intelligense (KI) om disinformasie te bevorder? Mens dink aan byvoorbeeld "bot accounts" en sogenaamde "deepfake" video’s. Aan die keersy van die munt, watter rol speel KI om disinformasie te bekamp?
Ja, bots is veral ’n probleem op Twitter, soos ons byvoorbeeld in die Bell Pottinger-geval gesien het. (En ondanks Elon Musk se kortsigtige uitsprake oor vryheid van spraak en moderering op Twitter, het hy darem belowe om bots op die platform uit te roei.) Daar is ook dikwels groot kommer oor die potensiële rol van "deepfakes" in disinformasie.
Maar daar is veel meer basiese probleme met betrekking tot die menslike faktor in disinformasie wat eers uit die weg geruim moet word.
Ons navorsing het byvoorbeeld gewys dat groot getalle sosialemediagebruikers in Afrika willens en wetens disinformasie versprei, dikwels uit ’n misplaaste gevoel van burgerlike verantwoordelikheid ("Ek stuur dit aan net ingeval dit dalk iemand mag help"). Daar word wel internasionaal toenemend gebruik gemaak van KI om disinformasie te herken en te bekamp, hoewel ons navorsing toon dat feitekontrolering (fact-checking) en mediageletterdheidsprogramme op die oomblik die oorheersende strategieë is wat deur organisasies in die Globale Suide ingespan word.
Demografie en disinformasie
Jy noem in ’n Business Day-artikel dat Facebook se eie feitekontroles die Globale Noorde bevoordeel. Slegs 9% van Facebook-gebruikers praat Engels, maar 87% van die geld wat bestee word aan die bekamping van disinformasie is gerig op Engelse inhoud. Hoe gemaak met die derduisende tale in die Globale Suide?
Dit is een van die groot probleme wat sosialemedia-organisasies en soekenjins die hoof sal moet probeer bied. Vanuit die Globale Suide sal daar meer druk toegepas moet word op sosialemediaplatforms om feitekontroleringsmeganismes en mediageletterdheidsmateriaal te ontwikkel in plaaslike tale, en om modereerders aan te
stel wat plaaslike tale magtig is.
Een van die grootste sondebokke in die Suide is boodskaptoepassings soos WhatsApp, wat wyd gebruik word in kontekste waar data duur is. Dit is ook gewild onder
diasporagemeenskappe in die Noorde wat dit gebruik om in kontak te bly met hul vriende en familie in hul land van oorsprong. Omdat mense geneig is om inligting te vertrou wat hul van familie en vriende in WhatsApp-groepe ontvang, versprei disinformasie baie vinnig op die platform, en dis moeilik om te kontroleer.
Watter rol speel ideologie (byvoorbeeld liberaal teenoor verregs) om disinformasie binne die globale aanlyndorpie te versprei? Dink aan voorbeelde soos Poetin se oorlog; COVID-19-entstowwe; Trump se uitsprake (oor alles); Steve Hofmeyr se uitsprake oor die + in LGBTQIA+; vreemdelingehaat (in byvoorbeeld Suid-Afrika); die rol van QAnon.
Die belangrike ding om te onthou is dat disinformasie nie uit die lug val nie. Soos hier bo genoem, teer dit op bestaande sosiale dinamika, en buit dit polarisasie in ’n samelewing uit (die "white monopoly capital"-veldtog van Bell Pottinger hier te lande is ’n uitstekende voorbeeld daarvan). Sosiale media werk dan soos ’n luidspreker om hierdie polariserings luid en ver te laat klink.
Sosiale media het ook vir populiste soos Trump en Hofmeyr, gewoonteteenstribbelaars (contrarians) en kwaksalwers soos die Covid-skeptici, ’n maklike en goedkoop seepkis gegee om hul ideologieë uit te basuin. Maar, weer eens: Daardie disinformasie versprei omdat die sosiale teelaarde daarvoor ryp is.
Dus, om disinformasie te bestry (jou vraag hier onder, wat om hieraan te doen), moet ’n mens ook probeer verstaan watter sosiale faktore aanleiding daartoe gee. Wat is mense se vrese? Waaroor is hulle onseker? Hoekom voel sekere groepe (byvoorbeeld Afrikaanssprekendes, wat volgens die NIDS-CRAM-peiling verlede jaar die meeste huiwering oor die COVID-19-inenting getoon het) so gemarginaliseer dat hulle disinformasie aangryp as ’n manier om aan ’n groep (ivermektienprofete, nasionalistiese xenofobe, transfobe) te behoort?
Meta, Twitter, WhatsApp
Waarom word disinformasie wat via iets soos ’n WhatsApp-boodskap of binne internet-eggokamers versprei word, so maklik geglo? Waarom glo mense nie byvoorbeeld kundiges in hul onderskeie velde nie, ook nie joernaliste nie? Meer bepaald: Wie glo ’n WhatsApp-boodskap oor byvoorbeeld ivermektien en COVID-19 sonder wetenskaplike bewyse?
Die oorsake van ’n gebrek aan vertroue is kompleks. Wêreldwyd was daar die afgelope paar jaar ’n skerp daling in die vertroue in die nuusmedia (daar was wel ten tye van die uitbreek van die pandemie ’n kortstondige terugkeer na gesaghebbende nuusmedia, soos wat mense betroubare inligting gesoek het). Hierdie vertrouensbreuk in die media het deels te make met ’n algemene wantroue in instellings, die establishment, deels met die media wat fokus op elitedebatte en voeling met groot dele van die publiek verloor het, en deels ’n gevolg van ’n aktiewe poging (byvoorbeeld deur populistiese politici) om die nuusmedia te ondermyn.
Te midde van hierdie vertrouenskrisis, en veral in ’n situasie soos ’n pandemie waar mense oorweldig voel deur (dikwels angswekkende) massas inligting oor ’n nuwe, onbekende verskynsel, word boodskapplatforms soos WhatsApp dikwels ’n meer vertroude kanaal vir informasie van mense in jou in groep, familie, vriende, geloofsleiers. Omdat dit ’n eggokamer is, geslote vir mense van buite jou groep vertrouelinge, kan jy ook sonder vrees vir veel teenspraak jou samesweringe deel.
Is daar iets hieraan te doen?
Daar is verskeie maniere waarop disinformasie hokgeslaan kan word. Dit wissel van moniteringstrategieë soos feitekontrolering, tot mediageletterdheidsveldtogte, tot regulering van platforms. Ons verslag karteer die verskeie maniere waarop dit gedoen word regoor Afrika, die Midde-Ooste, Latyns-Amerika en Asië. Daar is egter ook ’n ironie te bemerk: Die krisis van disinformasie word al hoe meer deur outoritêre regerings regoor hierdie streke gebruik as ’n rookskerm om kritici stil te maak en vryheid van spraak aan bande te lê.
Is "post-truth society" en "infodemie" slegs gonswoorde, aangesien die wetenskapgefundeerde antwoorde heel moontlik êrens te vinde is?
Hierdie woorde dui eerder op ’n algemene persepsie onder mense dat dit al moeiliker is om die waarheid te vind te midde van al die geraas, inligtingsbesoedeling en vals inligting. Dit suggereer nie dat die waarheid nie meer bestaan nie, maar dat dit makliker is om die pad daarheen byster te raak.
Ons kom nou by Mark Zuckerberg se Facebook/Meta en, nou in 2022, (moontlik) Elon Musk se Twitter. Beide sosialemediareuse word gekoppel aan een mens (mbt Twitter: moontlik, in die nabye toekoms, aan Elon Musk), elk ’n miljardêr. Wat is jou gedagtes hieroor?
Nóg Meta, nóg Twitter is openbare media in die streng sin, dus is dit te verwagte dat kommersiële belange die botoon sal voer. Maar terselfdertyd het hierdie platforms enorme invloed en mag, wêreldwyd, en dit het implikasies vir openbare debat en demokrasie.
Dit is dus problematies as die beheer oor hierdie platforms in die hande van individue lê. Eienaars soos Musk en Zuckerberg se beheer oor die platforms behoort nie direk te wees nie, maar eerder indirek, deur ’n oorsigraad, adviesraad of direksie.
Elon Musk se uitgesproke fundamentalisme oor vryheid van spraak mag dalk met die eerste oogopslag goed klink, maar dis nie goeie nuus vir diegene wat besorgd is oor die gehalte van kommunikasie en informasie op die platform nie. Vryheid van spraak is nie absoluut nie – sonder goeie moderering en regulering sal dit gemarginaliseerde gebruikers – minderhede, vroue, transgender mense, en dies meer – wees wat die prys betaal.
WhatsApp word ook deur Meta besit. WhatsApp is die plek waar ivermektien se lof so besing is. Meta poog dus om aan die een kant inligting (hopelik vals ook) op Facebook te beperk, maar het skynbaar nie die vermoë om hul ander telg te monitor nie?
Inderdaad – Meta het nie eers die vermoë om behoorlik feitekontrolering te doen op Facebook nie (soos bo aangedui). WhatsApp is vanweë die geslote aard daarvan nog moeiliker om te modereer.
’n Deel van julle boek handel oor toegang tot die (volle) internet vs sosialemediaplatforms soos Facebook en WhatsApp. Wil jy dalk kortliks verduidelik hoe en hoekom sosiale media skynbaar meer toeganklik is as die res van die inligting?
Een van die redes is dat ’n platform soos Facebook sigself aggressief bemark het in die Globale Suide deur sy Free Basics-veldtog, waarvolgens mense gratis toegang tot die internet kon kry via Facebook, maar dan slegs ’n paar geselekteerde webtuistes kon raadpleeg om wyer inligting te kry.
Dieselfde met WhatsApp – dié boodskapdiens gebruik min data om met die internet te verbind, en is dus ’n goedkoop en maklike manier vir mense om te kommunikeer, veral op selfone, sonder om baie data te hoef spandeer om webtuistes te besoek. Dit is dus ook moeiliker en duurder vir selfoongebruikers om inligting wat hulle via WhatsApp ontvang, op betroubare webtuistes te gaan verifieer.
Lees ook:
Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide