Dit gons oor moontlike nuwe DA-leier

  • 0

Die nuus dat die DA se federale leier, John Steenhuisen, hom moontlik nie by die party se federale kongres in April vanjaar as leier herkiesbaar gaan stel nie, het baie Suid-Afrikaners in rep en roer.

Berigte van Steenhuisen se moontlike bedanking het Dinsdag soos ’n veldbrand versprei. Verskeie bronne binne die DA het aan joernaliste van verskeie koerante laat blyk dat  Steenhuisen na maande van interne spanning in die party besluit het om hom nie herkiesbaar te stel nie.

Steenhuisen het gister (Dinsdag) op X aangedui dat hy vanoggend (Woensdag) om 10:00 “’n aankondiging van nasionale belang” by die Riverside Hotel in Durban sal maak. Hy het die publiek gevra om spekulasie te vermy totdat hy die volledige stel feite uiteensit.

Die verwagte aankondiging het spekulasie oor sy opvolger en die impak op die party se kanse in die komende munisipale verkiesings (tussen November 2026 en vroeg-2027) laat ontplof.

Die raaisel oor die presiese aard van sy aankondiging het egter verdiep toe Steenhuise ’n foto saam met sy boodskap op X gepos het van ’n ikoniese historiese foto uit 1948 waarin die Amerikaanse president Harry S Truman ’n koerant ophou met die opskrif “DEWEY DEFEATS TRUMAN” (Chicago Daily Tribune). Truman glimlag breed en wys spottend na die koerant terwyl hy op ’n treinplatform staan.

Die foto is een van die bekendste voorbeelde van ’n massiewe joernalistieke fout in die geskiedenis. Op 2 November 1948, tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing, het die Chicago Daily Tribune die koerant vroeg gedruk met die opskrif dat Thomas E Dewey (die Republikeinse kandidaat) gewen het. Dit was gebaseer op vroeë, onvolledige resultate en peilings wat Dewey as wenner voorspel het.

Die frase “Dewey Defeats Truman” word vandag wêreldwyd gebruik as ’n metafoor vir voortydige, verkeerde berigte of voorspellings – veral wanneer media of kommentators te gou ’n uitkoms verklaar en dan later verkeerd bewys word.

Die foto is moontlik Steenhuisen se manier om te sê die gerugte van sy politieke einde is grootliks oordrewe en om die publiek te maan om vir sy aankondiging te wag.

Volgens verskeie bronne binne die DA tree Steenhuisen egter terug as leier van die party ná maande van interne spanning vanweë sy hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking as minister van landbou, en ander interne kwessies.

Sommige drukgroepe in die landbou en boeregroepe, waaronder Saai en Sakeliga, beskou sy hantering van die bek-en-klouseer-uitbraak as die “finale strooi”. Hulle kla oor vertragings in inentings, sentrale beheer wat plaaslike aksie beperk, en hoër vleispryse wat boere se bestaan bedreig. Steenhuisen het onlangs regstappe teen boeredrukgroepe veroordeel en eenheid gevra, maar dit het die verdeeldheid net vererger.

Die vraag op mense se lippe is wie Steenhuisen sal opvolg indien die gerugte van sy bedanking waar is.

Die name wat die sterkste genoem word, is:

  • Geordin Hill-Lewis (Kaapstadse burgemeester, 39 jaar oud). Die voorloper volgens verskeie bronne. Hy word ondersteun deur Helen Zille en ander wat glo ’n jonger, dinamiese leier wil hê. Hill-Lewis het ’n sterk rekord in Kaapstad se bestuur en word gesien as iemand wat nuwe, veral swart, kiesers kan aantrek. Op X word hy gereeld as die natuurlike opvolger genoem.
  • Alan Winde (Wes-Kaapse premier, 60 jaar oud). ’n Ervare administrateur met ’n soliede reputasie in provinsiale bestuur. Hy word beskou as ’n veilige, stabiele keuse, maar sommige kritiseer hom as deel van die “ou garde”.
  • Solly Malatsi (minister van kommunikasie en digitale tegnologie, omtrent 40 jaar oud, uit Limpopo). ’n Jonger swart stem wat diversiteit en vernuwing kan simboliseer. Hy word genoem as iemand met potensiaal om die DA se aantrekkingskrag buite tradisionele kiesers te vergroot.

Ander moontlike kandidate sluit figure soos Siviwe Gwarube in, maar die drie bogenoemdes oorheers die spekulasie. Op sosiale media is daar gemengde reaksies: Sommige vier ’n “generasieverandering”, ander vrees interne faksies sal die party net voor die munisipale verkiesings verswak.

Die implikasies vir die DA met die oog op die 2026- munisipale verkiesings is groot. Die verkiesings bied aan die DA ’n kans om steun van die ANC te wen – veral in metropolitaanse gebiede – ná hul sterk vertoning in die 2024- nasionale verkiesings en deelname aan die RNE. Meningspeilings dui op moontlike groei onder swart kiesers, maar interne verdeeldheid kan hierdie momentum knou.

Lees ook:

John Steenhuisen wankel

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top