Dit gons oor verbod op tabak- en drankverkope tydens inperking

  • 0

......

“Lesufi sê die verbod op die verkoop van alkohol gedurende die 21 dae van inperking is ’n gulde geleentheid om die gedagte van ’n alkoholvrye gemeenskap aan te gryp. Lesufi sê alkohol is ’n dwelm wat uit die samelewing verwyder moet word omdat dit lewens vernietig.”

......

Die verbod op drank- en tabakverkope tydens die drie weke se inperking om die koronavirus te help hokslaan lok uiteenlopende reaksies onder die publiek uit. Sommige verwelkom die verbod en wil dit selfs verder uitbrei, terwyl ander steen en been daaroor kla.

Volgens die regulasies wat uitgereik is toe die inperking van krag geword het, mag daar geen drank gedurende die drie weke verkoop word nie. Selfs supermarkte wat wyn verkoop is verbied om dit gedurende dié tydperk van die hand te sit. Daar is ook ’n verbod op die vervoer van enige drank in jou motor. Diegene wat in ’n padblokkade voorgekeer word met drank in die motor staar ’n stywe boete in die gesig, het die minister van polisie, Bheki Cele, gewaarsku.

Foto: Pixabay.com

Dit was veral die verbod op die koop van sigarette wat rokers onkant gevang het. Die regulasie bepaal dat tabak nie ’n noodsaaklike item is nie. Kafees en supermarkte word verbied om sigarette te verkoop, selfs al word dit saam met ander noodsaaklike items verkoop.

Die organisasie SA Drug Policy Initiative (SADPI) het intussen gevra dat die regering se verbod op die verkoop van alkohol en tabak hersien word. Hulle sê daar is nie in ag geneem dat mense wat middels soos alkohol gebruik, nie net skielik die gebruik daarvan kan staak nie. Indien hulle die gebruik summier staak, kan hulle simptome soos psigose ontwikkel, of selfs doodgaan.

Daar was verlede week groot verwarring oor die opheffing van die verkoop van sigarette in die Wes-Kaap. Die Wes-Kaapse regering het aanvanklik die verbod op die aankope van sigarette tydens die inperkingstyd van 21 dae opgehef.

......

“Diegene wat in ’n padblokkade voorgekeer word met drank in die motor staar ’n stywe boete in die gesig, het die minister van polisie, Bheki Cele, gewaarsku.”

......

Die verbod is heringestel nadat Cele beswaar gemaak het oor die opheffing. Cele sê hoewel die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, verduidelik het waarom hy sigarette as noodsaaklike goedere beskou, die provinsie besluit het om aan die nasionale regulasies gehoor te gee.

Terwyl die Wes-Kaapse regering die maatreëls rondom tabakverkope wou verslap, het die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, aangedui hy sou graag wou sien dat die verbod op drankverkope verder uitgebrei word selfs ná die koronakrisis.

Lesufi sê die verbod op die verkoop van alkohol gedurende die 21 dae van inperking is ’n gulde geleentheid om die gedagte van ’n alkoholvrye gemeenskap aan te gryp. Lesufi sê alkohol is ’n dwelm wat uit die samelewing verwyder moet word omdat dit lewens vernietig. Dit het verskeie mense in hul sopies laat stik, terwyl ander dit met hom eens is. Luisteraars van die radioprogram Monitor op RSG het verlede week uiteenlopend reageer op die verbod om drank of sigarette tydens inperking te koop.

Jannie Van Niekerk het op Monitor se Facebookblad geskryf: “Of ons dit nou wil weet of nie, drank en tabak is wettige dwelmmiddels met nadelige gevolge vir gebruikers sowel as niegebruikers wat almal slagoffers is.” Hy sê nie een van die produkte is noodsaaklik nie.

Meyer Groenewald stem saam en sê agt miljoen mense sterf jaarliks van die direkte gebruik van tabak, en drie miljoen sterf volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie aan alkoholverwante omstandighede, maar steeds is al hierdie produkte vrylik beskikbaar en niemand of geen land of streek word ingeperk daaroor nie. “Is rokers en drinkers se lewens minder werd as COVID-19-pasiënte?” wou hy weet.

Lesufi se pleidooi vir ’n alkoholvrye samelewing het ook wye kritiek uitgelok. Die wynmaker Bertus Osbloed van Niekerk van Somerset-Wes, wat voorheen ’n predikant was, het skertsend op Facebook gespot dit sal hom laat terugkeer godsdiens toe, dan kan hy wyn maak om geloofsredes.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top