Die Nederlandse boeke wat ons gelees en bespreek het
Gedurende die 85 jaar is 156 Nederlandse boeke bespreek. Sestien hiervan was vertalings uit ander wêreldtale voordat vertaling in Afrikaans op dreef was. Op dié manier het die leeskring sedert die veertigerjare kennis gemaak met Nobelpryswenners soos Sigrid Undsed (Kristin Lavransdatter), Per Lagerkvist (Barabbas), Halldór Laxness (Salka Valka), Albert Camus (De val) en Aleksandr Solzhenitsyn (Eén dag van Ivan Denisovitsj). Hierbenewens het ons ook die Afrikaanse vertaling van Arnon Grunberg se pryswennende Tirza bespreek. Sommige boeke was meermale op die program soos Het Achterhuis in 1959 en 2011.
Romans het die botoon gevoer (109) saam met 10 poësiebundels, 8 kortverhaalbundels, 4 novelles, 4 biografieë, 5 dramas, 1 reisverhaal, selfs ’n speurverhaal, 1 memoir en natuurlik die dagboek van Anne Frank.
Hella Haasse en WF Hermans was vier maal op die program en Hugo Claus, Clare Lennart, Gerard Walschap en Harry Mulisch drie maal. Dan was daar ook Bertus Aafjes, J Bernlef, Anna Blaman, Johan Daisne, Tessa de Loo, Magriet de Moor, Anton Koolhaas, Hubert Lampo, Top Naeff, Marthinus Nijhoff, Sally Salmienen, M Vasalis, Simon Vestdijk, Maurits Wertheim, Elisabeth Zernike van wie elk twee boeke bespreek is. Drie-en-dertig boeke is bekroon of was van skrywers wat vir hulle oeuvre bekroon is.
Wat dit alles besonders maak is dat dit gewone leeskringlede is wat hierdie besprekings lei. So ’n bespreking getuig van deeglike navorsing en besinning, ook gesprekke met vriende en familie, en was ’n groot onderneming voor die Internet en KI. Ná die tyd volg daar gewoonlik ’n lewendige kommentaar- en vraesessie.
Die teks van vier besprekings uit die pionierstyd bestaan nog in die MM-argief by NALN waar die leeskring se dokumente bewaar word.
Bladsy 24 van Eldie Bührman se bespreking op 9 Junie 1948 van A den Doolaard se Oriënt-Express.
Sedert 2000 het ons saam met hierdie skrywers bladsye omgeblaai.
Die beste van twee wêrelde:Van die Nederlandse boeke wat ons bespreek het, is natuurlik ook in Afrikaans beskikbaar. Ons het die luukse om albei te kan lees.
*
Nota: Dit zijn de namen, wat dien as kop van hierdie artikel, is verleen aan aan die titel van Tommy Wieringa se boek.
Lees en kyk ook:
Geen valse vriende: Mabel Malherbe Leeskring se Nederlandse verbintenis (#1)
Brief en repliek: Beeldvorming van (Suid-) Afrikaanse digters in die Lae Lande




