Diversiteitsdebakel by skool laat gemoedere steeds hoog loop

  • 0

Gemoedere loop steeds hoog oor ’n voorval by die Fish Hoek High School in Kaapstad waar leerlinge na bewering getraumatiseerd is as gevolg van sogenaamde diversiteitsopleiding waar hulle glo onder andere wysgemaak is dat slegs wit mense rassisties kan wees.

Die DA, wat in beheer is van die Wes-Kaap se Departement van Onderwys (WKDO), het die voorval onomwonde verwerp, maar het nietemin uit talle oorde slae gekry.

Die Free Speech Union of South Africa (FSU SA) het in ’n persverklaring gesê hulle het die departement lank reeds gewaarsku oor die moontlike nadelige uitwerking op sosiale kohesie en vrye spraak van maatskaplike-geregtigheid-inisiatiewe by skole. Die betrokke program waarna verwys word, staan bekend as Diversity, Equity and Inclusion (DEI).

FSU SA is ’n afdeling van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR).

Tydens die diversiteitsopleiding het die aanbieder, Asanda Ngoasheng, glo ook gesê dat swart mense sedert die dae van die profeet Elia in die Bybel gemanipuleer (“engineered”) is om vir sogenaamde whiteness te kniel, en dat dit selfs onseker is of die dae van Elia ooit bestaan het, omdat die Bybelskrywers volgens haar swart mense nie “ingesluit” het nie.

Ngoasheng is ’n bekende DEI-konsultant, maar sy is omstrede. Haar biografie maak glo geen melding daarvan dat sy ’n sielkundige is nie. Die benadering wat deur baie DEI-konsultante gebruik word, is glo om kinders te beledig op grond van hul “witheid”, wat volgens sommige beteken ewige skuld vir die sondes van vorige geslagte en waarvoor daar geen vergifnis is nie.

Die organisasie Bittereinders het Dinsdag op Facebook ook ’n klankgreep van videomateriaal gedeel van die omstrede diversiteitskursus by Fish Hoek High School. Die video is donker, want die student moes sy of haar foon wegsteek en is nie toegelaat om dit af te neem nie.

Bittereinders beweer hoewel hulle nie bevestiging daarvoor het nie, dieselfde mense wat die kursus aangebied het, nou ingespan is om die berading van die geaffekteerde kinders te fasiliteer. “Dit is eenvoudig belaglik en ’n onafhanklike instansie sal ingebring moet word om die berading te fasiliteer.”

Hulle sê die DA moet antwoorde gee oor hoe hierdie opleiding toegelaat was. “Hulle kan nie krediet vat van al die suksesse in die Wes-Kaap maar sodra daar ’n skandaal is maak asof hulle geen politieke aanspreeklikheid het nie. As dit by kinders se welstand kom, is persverklarings bietjie te laat, veral as die betrokke insident deur jou provinsie se Departement van Onderwys veroorsaak is. Waar is die oorsig?”

Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het in ’n verklaring gesê wat verlede week by Fish Hoek High School gebeur het, hoort in geen beskaafde samelewing nie. “Kinders mag nie op hierdie Nazi-agtige wyse agter toe deure geboelie en getraumatiseer word nie.”

Hy sê dit is ewe erg is dat die DA nou sy hande in onskuld probeer was en sonder skroom voorgee dat hulle die voorval veroordeel.

“Dit is heeltemal oneerlik. Die aangeleentheid was die DA se eie maaksel.”

Die FSU SA se hulle het reeds in Julie kommer uitgespreek dat beperkings op vryheid van spraak toenemend ervaar word in skole waar kritiese rasteorie en kritiese geslagsteorie in kurrikulums ingevoeg word.

Hulle sê dit blyk dat die WKDO ’n baie onliberale benadering aangeneem het om bewerings van rassisme by skole te hanteer, ten spyte daarvan dat die FSU SA sy bedenkinge gekommunikeer het.

Die FSU SA sê hulle glo dat die prosesse wat die WKDO toepas, heeltemal teenstrydig is met die DA se klassiek liberale beleid.

“Daar is ander maniere om hierdie kwessies aan te pak sonder om die selfvertroue van leerlinge te ruïneer en hulle op grond van ras te verdeel.”

Die FSU SA sê hulle verwelkom die provinsie se LUR vir onderwys, David Maynier, se verbintenis tot ’n “hersiening” van die WKDO se benadering – wat presies is wat aanbeveel is in hul briewe aan die departement die afgelope maande. So ’n hersiening is volgens hulle nou ’n saak van dringendheid.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top