Titel: Do not hesitate
Regisseur: Shariff Korver
Draaiboek: Jolein Laarman
Fotografie: Nadim Carlsen
Taal: Nederlands en Arabies, met Engelse onderskrifte
Die Europese Filmfees is ’n fees. ’n Mens kry van die heel beste internasionale films te sien en toegang is dikwels ’n klein bedraggie, of dis gratis.
Ongelukkig draai die films vir ’n beperkte tyd by ’n klein aantal teaters. Gelukkig het Covid gemaak dat die fees ook aanlyn beskikbaar gemaak is.
In 2022 het die organiseerders dit hibridies aangebied – van die films is in teaters vertoon, maar die films is ook aanlyn gestroom.
Ek was uiters dankbaar vir die aanlyn weergawe, want so kon ek Shariff Korver se Do not hesitate sien.
Dit was ’n ervaring.
Basiese storie (sonder om enige iets te verklap)
Die film speel af in ’n ongenoemde land in die Midde-Ooste, maar is gebaseer op vertellinge van die Nederlandse soldate wat diens gedoen het in Afganistan.
Dit is ’n droë, bergagtige gebied – die landskap lyk baie soos dele van Afganistan.
Hier vind die kyker ’n bataljon Nederlandse soldate wat deel vorm van die VN-magte se patrollies.
...
In so ’n situasie ontstaan die vraag: Wanneer moet jy die sneller trek en wanneer nie?
...
Die begin van die storie is ’n ruimte wat te veel van ons ken: Jy sit in ’n troepedraer en gesels. Die voertuig is deel van ’n konvooi wat diep in die platteland patrolleer.
Die kamera skud saam en spring van spreker na spreker. Die insittendes gesels oor die verlede, die toekoms en die huis.
Dan tref die voertuig, waarin die kyker saamreis, ’n donga. Die as breek.
Die patrollie kom tot stilstand en die bevelvoerder besluit om ’n seksie soldate by die voertuig te los. Kos en water word oorhandig. Die idee is om ’n Chinook te stuur wat die troepedraer sal kan optel en die seksie soldate na hul basis sal terugneem.
Hulle is diep in die vyandige gebied.
Die sersant in bevel van die seksie deel die troepe op in skofte en sy maak seker daar is wagte elke uur van die dag en nag.
Nou begin die wag.
En die wag.
En die wag.
Skielike beweeg iets en die soldaat op wag skiet dadelik.
Die res van die seksie kom tot sy hulp, en daar lê ’n swaar gewonde bok.
Hulle red die dier van haar lyding met ’n genadeskoot en begrawe haar en dan begin die wag weer.
En die wag hou aan.
Dan verskyn ’n jong seun. Hy praat nie Engels nie, maar die sersant verstaan genoeg Arabies om agter te kom dat hy sy bok soek.
Ná radiokontak met hul basis bied sy vir hom VSA$50 aan.
Hy neem die geld, maar verdwyn nie.
Die volgende oggend bring geen tjoppers nie, maar wel ’n versoek om ’n potensiële konfliksone te gaan bespied.
Hoeveel soldate moet gaan en hoeveel moet by die voertuig bly?
Die sersant besluit om drie soldate by die voertuig te los, onder leiding van Erik Hoogvliet (gespeel deur Joes Brauers). Die ander twee is bekend as Roy (gespeel deur Spencer Bogaert) en Thomas (Tobias Kersloot).
Nou wag hulle drie, die spreekwoordelike “sitting ducks”, omring deur berge in ’n snikhete, droë klimaat.
Erik tref reëlings dat hulle mekaar aflos in die snikhete son.
Teen die aand is die voetpatrollie, onder leiding van die sersant, nog nie terug nie.
Wat nou? Gaan hulle soek? Moet hulle bevele uitvoer en bly?
Thomas staan vas: Hulle bly, iets wat nie noodwendig byval vind by die vurigste van sy twee makkers nie.
Radiokontak is daar ook nie met die voetpatrollie nie.
Uiteindelik besef die drie wagte dat iets met die ander moes gebeur het. Hulle besluit om te gaan soek. Al wat hulle kry, is bloed, en apparaat wat aan hul makkers behoort het. Daar is steeds geen radiokontak met die patrollie nie.
Terug dus na die voertuig.
Hulle wag, en steeds is daar geen tjopper nie.
Maar die seun wat sy bok soek, is steeds daar.
Is die seun ’n spioen?
Is die bok ’n rookskerm?
Erik Hoogvliet probeer vriende maak. Sy makkers waarsku dat die mannetjie moeilikheid is.
Die seun praat slegs Arabies. Vir die Nederlands is daar Engelse onderskrifte, maar vir die seun se dramatiese geskree is daar nie.
...
Is die seun met wie Hoogvliet soveel moeite doen om bevriend te raak, ’n listige operateur of dalk ’n onskuldige slagoffer van misverstande weens ’n gebrek aan taalkennis?
...
In die nag word dit duidelik dat daar ’n aantal mense in aantog is. Vriend of vyand? Plaaslike mense wat bloot verbyloop, of gewapende aanvallers?
Hoogvliet besluit om homself en sy makkers in die troepedraer toe te sluit.
Wat volg, moet ’n mens self beleef ... Ek gaan nie sê nie.
Dis angswekkend.
’n Riller
Die film is meer as ’n oorlogfilm. En tog is dit ook gewoon presies dit.
Die vyand is oral, maar onsigbaar.
Of is die vyand dalk in die troepedraer self? Is die seun met wie Hoogvliet soveel moeite doen om bevriend te raak, ’n listige operateur of dalk ’n onskuldige slagoffer van misverstande weens ’n gebrek aan taalkennis?
In so ’n situasie ontstaan die vraag: Wanneer moet jy die sneller trek en wanneer nie?
Die titel
Die film is in Nederlands, maar is uitgereik met die Engelse titel Do not hesitate. (Daar is blykbaar ’n Engelse klankbaan ook beskikbaar.)
Ek is toentertyd opgelei dat “minimum geweld” gelyk is aan skiet om dood te skiet.
In dié geval is die missie van die soldate ’n vredesending, maar ’n soldaat, enige soldaat, word ook opgelei om onder sekere omstandighede so op te tree dat makkers beskerm sal word. Wanneer jy in ’n vyandelike omgewing is, kan millisekondes ’n verskil maak tussen lewe en dood. Jou vyand is nie noodwendig gebonde aan die Geneefse Konvensies nie, en sal nie huiwer om jou en jou makker te vermoor nie. Onder sommige omstandighede moet jy gewoon die sneller trek. Maar wanneer is dit daardie omstandighede, of wanneer sou dit beter wees om dalk maar eers te kyk of die ding in die bos nie dalk ’n onskuldige bok is nie?
Die dood van ’n onskuldige bok kan ander konflik veroorsaak.
...
Dit is knap gedoen. Die moontlike vyand is soms hoorbaar, maar meestal onsigbaar – vir die soldate, maar ook vir die kyker.
...
Die teenwoordigheid van ’n jong, ongewapende seun kan ook enorme probleme veroorsaak...
Kyk self.
Dis ’n film wat ervaar moet word.
Fotografie
Hoewel daar enkele lang skote is wat konteks bied, is die kamerawerk dikwels van baie naby. ’n Mens volg die soldate soos hulle loop. Jy ry saam met hulle in die troepedraer. Die kamera lê teen hulle, gaan saam met hulle as hulle besluit om in die troepedraer weg te kruip.
Dit is knap gedoen. Die moontlike vyand is soms hoorbaar, maar meestal onsigbaar – vir die soldate, maar ook vir die kyker.
Die tegniek verhoog die spanning. Ons is saam met die soldate, ons weet ewe min. Ons moet wag vir wat kom.
Shariff Korver, die regisseur sê oor soldate uit Afganistan: “Most of the soldiers don't see the enemy, but they still come back with trauma. What happens if you don't see the enemy? You discover the monster in yourself.”
Inderdaad, knap gedoen.
Ek het net op een plek kritiek gehad: In die troepedraer, terwyl hulle wegkruip, is ’n gimbal gebruik om die nabyskote te skiet. Dit werk nie, want dit voel dan of die troepedraer beweeg, al weet ons dit sit vas in ’n sloot.
Gimbals is deesdae algemeen, maar soms is ’n outydse driepoot die regte manier om te skiet.
Musiek
Die film begin met Hoogvliet wat ’n stel tromme lekker moker. Dit word ’n leitmotief in die film.
Die res van die klankbaan is baie goed gedoen.
Do not hesitate is nie ’n aksiefilm nie. Dis ’n riller. En die musiek speel saam.
Toneelspel
Joes Brauers, wat Erik Hoogvliet vertolk het, is genomineer vir die prys as beste hoofrolspeler tydens die Nederlandse Filmfees.
Elkeen van die drie soldate het hul rolle besonder knap hanteer.
...
Vir my was Omar Alwan, wat Khalil die seun vertolk het, egter uitsonderlik. Hy is jonk, maar totaal oortuigend. Dus het woedende stiltes dikwels harder gespreek as die enkele skreesessies, maar wanneer hy geskree het, was dit kil woede.
...
Tobias Kersloot, wat ’n moeilike rol moes speel, het tydens die film se uitreiking op Instagram gesê: “Meer dan twee jaar geleden hebben we met heel veel liefde en aandacht met een groep fantastische mensen keihard gewerkt aan dit bijzondere verhaal. Stuk voor stuk heeft iedereen op zijn eigen manier gegeven wat die kon.”
View this post on Instagram
Vir my was Omar Alwan, wat Khalil die seun vertolk het, egter uitsonderlik. Hy is jonk, maar totaal oortuigend. Dus het woedende stiltes dikwels harder gespreek as die enkele skreesessies, maar wanneer hy geskree het, was dit kil woede.
Alwan is Siriese vlugteling. Hy weet iets van die wêreld waarin die film afspeel, maar sy toneelspel was besonders. Hou hierdie naam dop.
Ruimte
Ek het gewonder waar die film geskiet is. Vir my het dit soos die sentrale Cederberg gelyk. Dit was toe uiteindelik Kreta, ’n baie goeie lokasie en effens ironies, want dit was op Kreta waar ’n aantal terugkerende Nederlandse soldate uitgehaak het ná hul diens in Afganistan. Die PTSV wat by baie van die soldate gesien is, het Korver gehelp om Do not hesitate te maak.
Nederland se Oscar-inskrywing
Die première van Do not hesitate het by 2021 se Tribeca-filmfees plaasgevind en was Nederland se amptelike inskrywing vir die 2022-Akademietoekennings, bekend as die Oscars.
Ek is baie dankbaar dat ek dit kan sien en beveel dit hoog aan – mits jy ’n sterk maag het. My geliefde moet dit byvoorbeeld nooit kyk nie.
Dis jammer hierdie soort film is so moeilik in Suid-Afrika te sien. Dank, dus, aan die organiseerders van die Europese filmfees. Dit word waardeer.