Dodelik giftige medisyne dalk ook in Suid-Afrika

  • 0

Suid-Afrikaners is gewaarsku om op hulle hoede te wees vir moontlike besmette gesondheidsprodukte wat dodelik giftig kan wees.

Die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) sê in ’n verklaring hulle is, soos ander reguleerders wêreldwyd, gewaarsku oor twyfelagtige gesondheidsprodukte wat deur ’n Indiese maatskappy, Maiden Pharmaceuticals, verhandel word.

Die produkte soos dit op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se produktelys van substandaard of besmette pediatriese medisyne verskyn, is nie geregistreer vir gebruik in Suid-Afrika nie. Hierdie produkte is in Gambië geïdentifiseer, maar daar is ’n moontlikheid dat hulle ook na ander lande versprei kan word.

Die vier produkte is Promethazine Oral Solution, Kofexmalin-babahoesstroop, Makoff-babahoesstroop en Magrip N-kouestroop. Die vervaardiger van hierdie produkte is Maiden Pharmaceuticals Limited (Haryana, Indië). Tot op hede het die vervaardiger geen waarborge aan die WGO verskaf oor die veiligheid en kwaliteit van hierdie produkte nie.

Drie-en-dertig kinders in Gambië is aan nierverwante siektes dood. Die WGO het laboratoriumtoetse uitgevoer wat die medikasie met daardie sterftes verbind het.

Die vier produkte bevat onaanvaarbare hoeveelhede diëtileenglikol en etileenglikol, wat giftige stowwe is. Dit blyk dat dit dodelik kan wees. Die feit dat hierdie medisyne aan kinders toegedien is, maak die saak volgens Sahpra baie ernstiger.

Mense wat in besit van enige van hierdie produkte is of enige van hulle teëkom, word gewaarsku om seker te maak dat hulle dit nie gebruik nie en dit ook nie aan kinders toedien nie. Persone wat van sulke gevalle weet, word versoek om die Sahpra te kontak by Mokgadi.Fafudi@sahpra.org.za of 012 015 5434.

Die WGO het reeds verlede week in ’n verklaring gewaarsku teen substandaard (besmette) pediatriese medisyne wat in die WGO-streek van Afrika geïdentifiseer is.

Hierdie mediese-produk-waarskuwing van die WGO verwys na vier substandaard produkte wat verlede maand in Gambië geïdentifiseer en aan die WGO gerapporteer is. Substandaard mediese produkte is produkte wat nie aan hul kwaliteitstandaarde of spesifikasies voldoen nie en is dus "buite spesifikasie".

Tot op hede is hierdie vier produkte in Gambië geïdentifiseer, maar die WGO sê dit is moontlik ook reeds deur informele markte na ander lande of streke versprei.

Giftige effekte kan insluit buikpyn, braking, diarree, onvermoë om te urineer, hoofpyn, veranderde geestestoestand en akute nierbesering wat tot die dood kan lei.

Alle groepe van hierdie produkte moet as onveilig beskou word totdat dit deur die relevante nasionale reguleringsowerhede ontleed kan word.

Die WGO sê dit is belangrik om hierdie substandaard produkte op te spoor en uit sirkulasie te verwyder om skade, selfs noodlottig, aan pasiënte te voorkom.

Die WGO versoek ook dat daar verhoogde toesig en nougesetheid sal wees binne die voorsieningskettings van lande en streke wat waarskynlik deur hierdie produkte geraak sal word. Verhoogde toesig oor die informele/ongereguleerde mark word ook aangeraai.

Alle mediese produkte moet goedgekeur, en mag slegs verkry word van gemagtigde/gelisensieerde verskaffers. Die produkte se egtheid en fisiese toestand moet noukeurig nagegaan word. Die publiek word aangeraai om advies van ’n gesondheidswerker te kry indien hulle twyfel of ’n produk veilig is.

“As jy hierdie substandaard produkte het, moet dit asseblief nie gebruik nie. As jy, of iemand wat jy ken, hierdie produkte gebruik het of enige nadelige reaksie ervaar het na gebruik, word jy aangeraai om onmiddellik mediese advies van ’n gekwalifiseerde gesondheidswerker in te win en die voorval by die Nasionale Regulerende Owerheid of Nasionale Farmabewakingsentrum aan te meld,” sê die WGO in hulle verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top