Die man wat sy predikantvrou Liezel de Jager na bewering in 2021 voor hulle huis vermoor het, het Maandag na bewering sy eie lewe geneem terwyl hy in Durban in aanhouding was.
Werner de Jager het glo ’n oordosis medikasie geneem. Hy sou op 10 Mei in die Amanzimtoti-landdroshof teregstaan vir sy vrou se moord.
Die afgelope Saterdag was dit twee en ’n half jaar sedert Liezel se moord op 13 Oktober 2021. Sy is voor haar huis vermoor na ’n oggenddraf. Die moordenaar het probeer om dit te laat lyk asof die aanval van seksuele aard was.
Die saak het maande lank gesloer totdat Action Society druk begin toepas het en die polisie se eenheid vir onopgeloste sake uiteindelik die ondersoek oorgeneem het. Kort daarna is De Jager in hegtenis geneem.
Ian Cameron, voorheen van Action Society, het Maandag op X gesê hy weet van die nuus van De Jager se dood. Hy het gesê ’n ondersoek sal gedoen moet word om uit te vind hoe hy die middel gekry het wat hy gebruik het om homself dood te maak.
“Berigte stroom in dat Werner de Jager, wat aangekla is van en verhoorafwagtend was vir die moord met voorbedagte rade op sy vrou, Liezel de Jager byna twee en ’n half jaar gelede, dood is aan ’n beweerde oordosis in die korrektiewe fasiliteit waar hy in Durban, KZN aangehou is,” het Cameron op X geskryf.
BREAKING: Reports are coming in that Werner De Jager, accused of and awaiting trial for the premeditated murder of his wife, Liezel De Jager almost two and a half years ago has died of an alleged overdose in the correctional facility where he was held in Durban, KZN. pic.twitter.com/qKbYdNpY6W
— Ian Cameron (@IanCameron23) April 15, 2024
Die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) het De Jager se dood Maandag bevestig. ’n Woordvoerder van die DKD, Thulani Mdluli, het gesê De Jager is op 5 April na mediese komplikasies in die King Edward-hospitaal opgeneem. “Op 15 April is die DKD ingelig dat die aangehoudene in die hospitaal oorlede is.”
Die 42-jarige De Jager is sedert sy inhegtenisneming in November verlede jaar in aanhouding toe die polisie op sy blyplek in Bloemfontein toegeslaan het. Sedert sy borgtog geweier is, het hy verskeie kere in die hof verskyn.
Landdros Zama Nyuswa het hom in Februarie borgtog in Amanzimtoti geweier ná drie maande se hofverrigtinge.
In haar uitspraak het Nyuswa gesê dit kan die saak in gevaar stel indien hy op borgtog vrygelaat word, aangesien hy sy borgvoorwaardes kan verbreek of met die getuies kan inmeng.
De Jager het tot sy dood onskuldig gepleit en ontken dat hy sy vrou vermoor het. Mense wat hom geken het, het Maandag gesê dit verbaas hulle nie dat hy sy eie lewe geneem het nie.
Daar is reeds voorheen in die media berig dat hy in die verlede probeer het om sy eie lewe te neem, maar onsuksesvol was. Hy het glo ook terwyl hy in die tronk was, gedreig dat hy homself om die lewe gaan bring.
Sy dood het plaasgevind op die herdenking van die dood van twee vroue verlede jaar in die Vrystaat ná ’n ongeluk wat hy veroorsaak het en waarvoor hy ook van moord aangekla sou word.
Hy is deur verskeie mense op sosiale media daarvan beskuldig dat hy ’n lafaard is wat die maklike uitweg gekies het.
Die staat het vroeër vanjaar ook ’n klag van bedrog teen De Jager bygevoeg en aangevoer dat sy vermoorde vrou se testament verander is wat hom die enigste begunstigde maak. Volgens die staat het hy verskeie pogings aangewend om ’n polis van sy oorlede vrou in sy guns te laat uitbetaal.
“Ons harte gaan uit na Liezel se jong dogters wat nou albei ouers verloor het, en ons bid vir krag vir haar ouers, Henk en Salomé, wat hul voogde is sedert Liezel se dood,” het Action Society se woordvoerder, Juanita du Preez, gesê.
“Our hearts go out to Liezel’s young daughters who now lost both parents, and we pray for strength for her parents, Henk and Salomé, who are their guardians since Liezel’s death,” said Action Society spokesperson Juanita du Preez.https://t.co/MZr0mJr1B0
— Action Society (@ActionSocietySA) April 15, 2024
“Ons sal voortgaan om geregtigheid vir Liezel te soek. Ons is dit aan haar dogters, familie en vriende verskuldig om hierdie saak deur te sien en die antwoorde en geregtigheid te kry wat Liezel verdien,” het Du Preez gesê.