Donald Trump, die Koning van die Wittes

  • 0

Humpty Trumpty sat on the wall, Humpty Trumpty had a great fall … Dit was seker Wall Street waarop Donald Trump gesit het toe hy twee keer binne dae val dat jy net doppe sien spat. En waar is die koning en die koning se manne om hom weer aanmekaar te lym? Daar is net 15 amptelike konings in die wêreld oor, en net drie is absolute monarge met manne om rond te order, insluitende koning Mswati, hoof van die “shithole country” Eswatini (tot onlangs bekend as Swaziland).

Maar moenie treur nie. Sien, Trump self is die koning wat so baie mense smag om te hê, die Koning van die Wittes. En Amerika is die land van DIY, waar geniale manne lankal gomme vir elke geleentheid ontwikkel het. En as hy eers weer ’n heel eier is, bemark hy en Ivanka die gom onder die handelsnaam Melania, met die spreuk, “It sticks to you through thick and thin.”

Ek spot, maar dis ernstige sake dié. Dinge kan nog lelik skeefloop in Amerika: In een scenario sou Trump op presies die verkeerde tyd sterf, sal die deelstate ’n nuwe kandidaat teen Joe Biden moet aanwys, terwyl mense reeds begin stem het in die verkiesing wat amptelik op 3 November plaasvind. Omdat nie elke deelstaat die reëls daarvoor het nie, kan dit uitloop op die vorming van faksies en selfs ’n skeuring van die unie.

Dis onwaarskynlik, maar die verkiesing maak baie mense dwarsdeur die wêreld senuweeagtig. Hoe het dit so ver gekom? Wat vir my uitstaan in Trump se twee jongste rampe, al die onthullings oor sy belastingstate en die reaksies op sy opdoen van COVID-19, is dié van die spookskrywer van die boek wat hom die eerste keer ’n huishoudelike naam gemaak het, The art of the deal. Sy hele lewe lank, vertel Tony Schwartz, het Trump ’n obsessie gehad om as skatryk voor te kom. Maar die fasade kon nie vir soveel dekades hou nie, en die enigste manier om sy geldsake te laat klop was om te konkel met belasting. Van werklike “deals” het hy nie veel geweet nie.

Dis ’n obsessie waaraan baie mense ly, soos Jacob Zuma en menige Afrika-leier, en voor die Zondo-kommissie het ons gehoor van die liefde vir luukse motors onder mense soos die voorsitter van die ANC se integriteitsappélkomitee, Nomvula Mokonyane.  Mense wat ryk wil lyk, is millennia gelede reeds vasgevang in die mite van koning Midas, wat alles waaraan hy geraak het, in goud verander het. Die beste behandeling hiervan bly nog die moderne interpretasie van die digter Carol-Ann Duffy, Mrs Midas (https://www.scottishpoetrylibrary.org.uk/poem/mrs-midas).

I locked the cat in the cellar. I moved the phone.
The toilet I didn’t mind. I couldn’t believe my ears:
how he’d had a wish. Look, we all have wishes; granted.
But who has wishes granted? Him.

Dit is miskien Trump se enigste talent: om sy wense waar te laat word. Wil jy ’n wolkekrabber in New York hê? Granted. Wil jy ’n rugbyspan hê? Granted. Jou eie reality show? Toegestaan. President van Amerika? Just sign on the dotted line.

Maar die goue sleutel tot al hierdie skatte is om ’n Potemkinpaleis met etlike fasades van rykdom aan die gang te hou. Dit het gehelp dat sy oupagrootjie, ’n Duitse immigrant, die familiefortuin gevestig het met ’n rits hotelle en bordele in die Kaliforniese goudstormloop. Donald het nou al miljarde verloor op mislukte projekte, maar die fortuin is groot genoeg om dit te dra, en as die Amerikaanse taksman die briek aandraai, sal ’n Russiese oligarg iewers tot die redding kom.

Een raaisel oor die sukses van ryk mense is hoe maklik hulle rekenmeesters, regslui, beleggers en ouditeure kan aantree om hul rykdomme te laat groter knoei. Dit gaan nie net oor die geld wat hierdie mense kan maak nie; daar is ’n ander soort hubris by. Wiseman Nkuhlu skryf in sy boek Enabler or victim? KPMG SA and state capture hoe hy gesukkel het om die mense agter die gure vervalsings rondom die Suid-Afrikaanse belastingdiens se gewaande “rogue unit”, ’n sleutelaspek van die ryk Guptas se aanslag, van hul aandadigheid te oortuig.

Heelparty filosowe, antropoloë en sielkundiges voer aan dat die mensdom ’n behoefte het aan mense wat so magtig is en soveel geld het dat hulle die maksimum vryheid kan bekom wat gewone mense nie kan nie. Die bewondering wat die gepeupel vir konings het, spruit uit hul eie projeksies, en die kompromie wat hulle aangaan om darem een persoon toe te laat om te doen wat hy of sy wil.

Die oudredakteur Mathatha Tsedu het rondom 2000, toe die invalle van plase in Zimbabwe pas begin het, aan my probeer verduidelik dat Robert Mugabe ’n held vir Afrikane sal bly, juis as gevolg van sy  luukse lewe en Chinese paleise, want hulle is mense wat ’n koning nodig het. Nou ja, dit was nie nodig om so rassisties te wees nie – mense dwarsoor die wêreld wil konings hê om na op te sien. Beeld se voorblad waarop prins Charles vir Diana op Buckinghampaleis se balkon soen, het daardie dag se uitgawe die meeste laat verkoop in die koerant se bestaan, ’n rekord wat vandag nog staan.

Miskien is dit Trump se rojale gedrag teenoor Hillary Clinton se demokratiese stemmigheid wat hom in 2016 laat wen het. Hoe meer vrouens na vore kom om te vertel hoe hy hulle betas het, hoe meer leuens hy vertel, hoe meer sug Amerika se uitverkorenes: A, uiteindelik, ’n Koning vir die Wittes. Daar is juis nog net vyf wit amptelike konings oor.

Die ding is, koningskap is ’n pestilensie. Die geskiedenis en letterkunde is vol verhale van tragiese konings en keisers: die vadermoordenaar Oedipus, die Trumpagtige leuenaar Odusseus, die seksslaaf Kaligula, Macbeth, die Japannese se Learagtige Ran, die mal George IV en koningin Anne … Goeie konings is so skaars soos hoenderdoppe op ’n paleis se rooi tapyt.

En die Achilleshiel van almal is die narsisme waarin ons almal verval wanneer ons te veel in die spieël kyk, veral as ons naastes hulle die hele tyd agter ons aandra. Soos Duffy skryf: “What gets me now is not the idiocy or greed / but lack of thought for me. Pure selfishness.” Narsisme raak ekstreem en selfvernietigend wanneer dit omslaan in paranoia. Die voorkoms hiervan onder die rykes is veral treffend behandel in klassieke rolprente soos Orson Welles se Citizen Kane, en Martin Scorsese se The aviator.

Laasgenoemde gaan oor Howard Hughes, wat  ’n manie oor kieme ontwikkel het, iets wat lyk of dit dikwels onder rykes voorkom, ook nouveau riche-akteurs soos Clint Eastwood, wat net in kristalwater bad. Trump het self so ’n obsessie oor siektes dat hy vir jare al ’n spesiale werknemer het om handsaniteerder byderhand te hou wanneer hy mense se hande geskud het – lank voor COVID-19 al. Mense wat te veel gehoes het in sy aanwesigheid, is al afgedank.

Dit help natuurlik nie. Te veel handewas vernietig die unieke mikrobes op jou handpalms, wat ekseem tot gevolg kan hê. Die keersy is dat jy aan niks kan vat nie, soos koning Midas. Duffy skryf: “Who, when it comes to the crunch, can live / with a heart of gold?” Mrs Midas verwilder haar man uit die slaapkamer: “He was below, turning the spare room / into the tomb of Tutankhamun … I feared his honeyed embrace / the kiss that would turn my lips to a work of art.” Einde ten laaste vat sy hom na ’n karavaan op hul plasie in die platteland. ’n Mens kan die laaste reël aanpas: As jy deur Trump tussen die bene gegryp word, loop jy die gevaar dat jou storie ’n rolprent soos Bombshell word.

Die groot ironie in Trump se geval is dat die ware mens iemand heeltemal anders is as die leier wat so onverskillig oor die koronavirus is. Sy niggie, Mary Trump, skryf dat Trump se groot swakheid, wat ook al sy outoritêre pa s’n was, ’n diepe minagting vir enigiemand met siekte is. Dit is waarskynlik die rede waarom hy so min te sê gehad het oor een van sy teenstanders vir die Republikeinse kandidatuur in 2016, Herman Cain, wat aan COVID-19 dood is. Maar dit kan ook wees omdat Cain swart was.

Inderdaad, Trump bly die Koning van die Wittes. Minstens 50 miljoen Amerikaners bly bereid om hom te vergewe, en om enigiets wat hy doen goed te praat. In ’n onlangse boek, Dying of whiteness, skryf Jonathan Metzl (https://www.publicbooks.org/terminal-whiteness) oor ’n sterwende Amerikaanse armblanke wat Obamacare verwerp al sou dit hom red van die hepatitis C waaraan hy ly, want hy reken dis die dun end van die wig wat besig is om die ou Amerika te vernietig.

Selfs al verloor Trump die verkiesing, gaan sy miljoene aanhangers wat sy doppe weer aanmekaar gaan lym, nog lank met ons wees, op soek na ’n nuwe Koning van die Wittes om hom op te volg.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top