Donderdag is D-dag vir DA en Tshwane se koalisieregering

  • 0

Die stryd om die politieke mag in Tshwane gaan dié week op die spits gedryf word. Die ANC moet besluit of hulle voortgaan om ’n mosie van wantroue teen die stad se DA-burgemeester, Cilliers Brink, in te stel.

Die Jakarandastad se koalisieregering hang die afgelope twee weke in die weegskaal nadat een van die koalisievennote, ActionSA, bande met die huidige koalisieregering, waarvan hulle deel was, verbreek het. ActionSA het aangedui dat hulle ten gunste daarvan is om Brink as burgemeester uit die kussings te lig.

Die koalisieregering van die Tshwane-metro bestaan tans uit die DA, ActionSA, VF Plus, IVP, COPE en ACDP.

Indien die ANC voortgaan met Donderdag se wantrouemosie teen die DA-burgemeester, sal die stad waarskynlik vir die soveelste keer die afgelope paar jaar ’n nuwe burgemeester moet kies. Politieke waarnemers vrees dat dit die politieke onstabiliteit van die land se administratiewe hoofstad verder kan laat toeneem.

ActionSA het verlede week aangekondig hy verlaat die koalisie en sal Donderdag se mosie van wantroue deur die ANC-koukus teen die metro se burgemeester, Cilliers Brink, ondersteun.

Herman Mashaba van ActionSA het aanvanklik gereken dit sou uitloop op ’n ooreenkoms met die ANC en die EFF om ’n ActionSA-burgemeester te verkies.

Intussen het dit geblyk dat geen so ’n ooreenkoms nog beklink is nie. Volgens die DA het ActionSA geen plan vir Tshwane nie, behalwe om in ’n mosie van wantroue te stem om ’n funksionerende regering in duie te laat stort.

Brink het verlede week erken hy is bekommerd oor die week se mosie van wantroue teen hom. Hy blameer ActionSA vir die ineenstorting van die Tshwane-koalisie. Hy het aan #Newzroom405 gesê dat ActionSA se optrede politieke onbevoegdheid demonstreer.

Herman Mashaba, leier van ActionSA, sê Brink se uitlatings die afgelope drie weke beteken dat hy slapelose nagte het. Hy sê die enigste manier waarop Brink ’n burgemeester kan bly, is as hy met die ANC heronderhandel.

Dit is alombekend dat ActionSA hulle tande slyp om die burgemeesterskap in Tshwane in te palm indien die ANC voortgaan met hulle wantrouemosie teen Brink.

Berigte wat die afgelope naweek in die media verskyn het, dui egter daarop dat ActionSA se planne om van die DA-burgemeester ontslae te raak deur met die ANC te onderhandel, besig is om die wind van voor te kry.

Dit wil voorkom of die onderhandelings tussen die ANC en ActionSA agter die skerms glad nie so vlot verloop het soos wat ActionSA aanvanklik gehoop het nie.

Hulle planne om van Brink ontslae te raak kan hulle straks aan die hakskeen byt indien die ANC en die DA tot ’n vergelyk kan kom voor Donderdag se voorgenome wantrouemosie.

Volgens ’n berig in Rapport die afgelope Sondag is die DA en ANC op nasionale vlak nie ver van ’n ooreenkoms oor die hoofstad nie. ’n Bron uit die ANC se nasionale binnekring het aan Rapport bevestig dat partyleiers ingestem het tot ’n nuwe eenheidsregering vir Suid-Afrika se hoofstad, met onder meer die DA.

Die vinnige verskuiwing in die politieke landskap in Tshwane kan ActionSA, wat tans die pos van onderburgemeester beklee en ook ’n lid op die burgemeesterskomitee het, op die opposisiebanke laat eindig.

Alles sal daarvan afhang of die DA en die ANC se nasionale leierskap daarin gaan slaag om ’n ooreenkoms te bereik wat ook op provinsiale en plaaslike vlak aanvaarbaar sal wees vir hulle partygenote.

Grandi Theunissen, leier van die VF Plus in Tshwane, het ook die naweek aan Rapport bevestig “daar is ’n aanbod op die tafel”.

Of die ANC die mosie van wantroue voor Donderdag se raadsvergadering gaan terugtrek, is egter nog onduidelik.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top