Donker COVID-19-prentjie wag nog op Suid-Afrika

  • 0

...........

“Volgens die data wat versamel is, word daar na raming reeds 4 000 beddens teen Julie benodig vir pasiënte in intensiewe sorg. Nie alle beddens sal op ’n gegewe tyd beskikbaar wees nie weens pasiënte wat ook aan ander siektes ly en ook intensiewe sorg sal benodig.”

...........

Een miljoen Suid-Afrikaners sal na verwagting vanjaar met COVID-19 besmet word en duisende mense gaan hulle lewens na raming as gevolg daarvan verloor.

Tussen 40 000 en 45 000 Suid-Afrikaners kan volgens die jongste projeksies teen November as gevolg van COVID-19 sterf en soveel as een miljoen mense in die land sal na verwagting teen die einde van die jaar daardeur geïnfekteer word.

So sê ’n konsortium kundiges wat bestaan uit van die land se mees vooraanstaande kundiges oor die siekte. Daar word ook gevrees dat die waakeenhede teen die einde van die jaar oorstroom gaan word en daar te min beddens gaan wees om al die siek pasiënte te akkommodeer.

Foto: Pixabay.com

Die projeksies is die afgelope week deur die regering bekend gemaak na kritiek dat daar nie deursigtig genoeg te werk gegaan word met die inligting waaroor die regering beskik nie.

Die modelle is voorberei deur die South African Covid-19 Modelling Consortium wat bestaan uit sleuteldeskundiges van verskeie universiteite en inrigtings en is saamgestel deur Harry Moultrie, ’n senior mediese epidemioloog van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes.

Die projeksies is volgens die kundiges onderworpe aan voortdurende aanpassing namate daar meer data beskikbaar word. Volgens die huidige data sal die syfers na raming so lyk:

  • Tussen Junie en November sal 40 000 tot 45 000 mense as gevolg van COVID-19 sterf, met sowat 500 sterftes die einde van die maand.
  • Die totale getal infeksies tussen Junie en November sal na verwagting 1–1,2 miljoen mense wees, met ongeveer 50 000 gevalle die einde van die maand.
  • Die geskatte noodsaaklikheid vir beddens in intensiewe sorg is tussen 20 000 en 30 000 tussen Junie en November en 500 teen die einde van die maand.
  • Die vraag na gewone hospitaalbeddens sal na verwagting tussen 75 000 en 90 000 wees tussen Junie en November en net meer as 2 000 beddens die einde van die maand.
  • Provinsies sal na verwagting op verskillende stadiums ’n hoogtepunt in infeksies bereik met verskillende vlakke van infeksies en sterftes. Op nasionale vlak word die hoogtepunt van infeksies tussen Julie en middel van Augustus verwag.

Die wetenskaplikes wat die projeksies gedoen het, beklemtoon dat die syfers wat geprojekteer word, nie ’n kristalhelder voorspelling van die toekoms is nie en dat dit voortdurend kan verander na gelang van omstandighede.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê daar is reeds planne om die aantal beddens in die waakeenhede te vermeerder wat benodig sal word vir pasiënte wat aan ventilators gekoppel sal moet word. Hy sê daar is 125 390 algemene beddens beskikbaar, en ongeveer 4 000 beddens is beskikbaar in die openbare en private sektor se waakeenhede, terwyl daar ’n verdere 6 500 beddens gereedgemaak word. Volgens die data wat versamel is, word daar na raming reeds 4 000 beddens teen Julie benodig vir pasiënte in intensiewe sorg. Nie alle beddens sal op ’n gegewe tyd beskikbaar wees nie weens pasiënte wat ook aan ander siektes ly en ook intensiewe sorg sal benodig.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Woensdag gesê 39 mense is Dinsdag weens COVID-19-verwante komplikasies dood, wat die sterftesyfer in die provinsie op meer as 200 te staan bring. Winde het gepraat tydens ’n aanlyn beraad van die Kaapstadse Kamer van Handel en Nywerheid oor aanpassings aan die provinsie se inperkingstrategieë. Hy het ’n beroep op sakeondernemings gedoen om verantwoordelik te wees en voldoende veiligheidsmaatreëls in te stel om die verspreiding van die koronavirus te bekamp. Winde sê die virus versprei onder meer in kleinhandelafsetpunte waar mense kontak het met werkers wat noodsaaklike dienste verrig.

Die Gautengse premier, David Makhura, het volgens RSG gesê die ekonomiese gevolge van die koronavirus sal volgens aanduidings baie erger wees as wat aanvanklik vermoed is. Hy sê ’n verwagte twee miljoen mense slegs in Gauteng kan hulle werk verloor. Makhura het tydens ’n virtuele vergadering van die wetgewer gesê die provinsiale regering is in gesprek met rolspelers ter voorbereiding van die afskaling na vlak drie van die inperkingsmaatreëls. Makhura sê die ekonomie moet op ’n verantwoordelike wyse heropen word terwyl ekonomiese en gesondheidsrisiko’s opgeweeg word.

Buro: MvH
  • 0
Top