Minstens vier Vrystaatse dorpe kan vanaf einde Januarie aanstaande jaar sonder krag wees omdat hulle munisipaliteite meer as drie jaar laas hul skuld aan Eskom betaal het.
Die kragvoorsiener het Donderdag in ’n verklaring gesê hy sal die Tokologo plaaslike munisipaliteit op 31 Januarie volgende jaar ontkoppel. Dié munisipaliteit het ’n uitstaande skuld van R328 miljoen aan Eskom.
Die dorpe wat geraak sal word, is Boshof, Seretse, Dealesville en Hertzogville, wat almal onder die Tokologo-munisipaliteit se jurisdiksie is.
#EskomFreeState #MediaStatement
Eskom publishes disconnection notice for Tokologo Local Municipality in accordance with the provision of the Promotion of Administrative Justice Act for public consultation as a result of R328 million unpaid debt. pic.twitter.com/gqBYKEGNYw
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) November 28, 2024
Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê as Eskom sou voortgaan met die ontkoppeling, sal grootmaat-elektrisiteitstoevoer na hierdie dorpe daagliks vanaf 31 Januarie 2025 vir ’n vasgestelde aantal ure per dag onderbreek word.
Sy het gesê die uitstaande bedrag sluit nuwe skuld van meer as R3,6 miljoen uit wat op 20 November betaalbaar geword het.
“Die laaste betaling wat Eskom van die munisipaliteit ontvang het, was R150 000 op 5 Oktober 2021,” het Mokoena gesê.
Sy het gesê die munisipaliteit hef, vorder en ontvang geld van sy klante vir die verskaffing van elektrisiteit, maar versuim om die gedeelte wat aan Eskom verskuldig is, oor te betaal, en dit is nie volhoubaar nie.
Mokoena het gesê Eskom nooi alle geaffekteerde partye om skriftelike vertoë, kommentaar en/of voorleggings in te dien wat aandui waarom Eskom nie moet voortgaan om die grootmaat-elektrisiteitstoevoerpunte aan die munisipaliteit te verminder, te ontkoppel en/of te beëindig nie.
Intussen het die kragvoorsiener aangekondig dat die omskakeling van die voorafbetaalde-elektrisiteit-meter na ’n verbeterde stelsel hulle in staat gestel het om seker te maak dat 400 000 kragverbruikers wat voorheen onwettige of niebetalende klante was, nou almal vir elektrisiteit sal betaal soos hulle moet.
[ON AIR] Eskom has closed the net on 400 000 non-paying customers. This after introducing a prepaid meter upgrade to root out illegal electricity connections. eNCA speaks to Eskom spokesperson, Daphne Mokoena. Tune in to #eNCA, channel #DStv403. pic.twitter.com/dzFArjmEOe
— eNCA (@eNCA) November 28, 2024
Eskom sê in ’n verklaring die hersiening in die insleutelnommers op voorafbetaalde meters is suksesvol voltooi.
“In die afgelope tien dae het ons gesien hoe niebetalende gebruikers in groot getalle na vore kom wat elektrisiteit wil koop en die regte ding wil doen.”
Eskom sê hy doen alles wat prakties moontlik is om gebruikers van elektrisiteit daarvoor te laat betaal in belang van diegene wat reeds vir elektrisiteit betaal, en om die volhoubaarheid van Eskom te verseker om sodoende die ekonomiese groei van Suid-Afrika te bevorder en die las op die belastingbetaler te verminder.
“Nulkopers” is ’n eufemistiese term wat deur Eskom gebruik word om niebetalende klante te beskryf wat elektrisiteit gebruik, maar nie deur wettige kanale daarvoor betaal nie, of glad nie betaal nie. Hierdie klante het óf eenhede van “spookverkopers” gekoop, óf het dalk hul meters omseil, of daarmee gepeuter.
“Ons versoek hierdie klante om teen Vrydag 13 Desember 2024 te doen wat reg is deur hul naaste Eskom-persele te besoek,” sê die kragvoorsiener in sy verklaring.
Alle betalende klante wat voor die sperdatum elektrisiteit gekoop het en wie se meters aan die nuwe vereistes voldoen, maar steeds probleme ondervind, sal gehelp word om die proses te voltooi en sal nie onregverdig gepenaliseer word nie.
Nulkopers wat elektrisiteit voor die sperdatum gekoop het en nie hul meters kan laai nie, moet hul strokies teen Vrydag 13 Desember 2024 na die naaste Eskom-sentrum bring om bygestaan te word.
Nulkopers wat elektrisiteit voor die sperdatum gekoop het, maar meterverwante probleme ondervind, soos ’n verlore of omseilde meter, of een waarmee gepeuter is, moet teen Vrydag 13 Desember 2024 by Eskom-sentrums aanmeld. Hul individuele situasies sal beoordeel word, peuterboetes mag uitgereik word indien nodig, en die op datum bring of vervanging van meters sal dan geskeduleer word.
Nulkopers wat na vore gekom het, maar nie teen 24 November 2024 elektrisiteitsbewyse gekoop of probeer koop het nie, word aangemoedig om elektrisiteitsbewyse voor 13 Desember 2024 te koop. Hul meters sal geoudit word, en peuterboetes en metervervangingskoste sal dienooreenkomstig beoordeel en uitgereik word.