Donker tye vir Suid-Afrikaanse media

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het sy ernstige kommer uitgespreek oor die honderde poste wat die afgelope tyd as gevolg van herstrukturering in die mediabedryf verlore gegaan het.

Dit volg nadat gemoedere in die SAUK se nuuskantoor in Johannesburg die afgelope week oorgekook het weens die beoogde aflegging van sowat 400 werknemers.

Feitlik al die permanente personeel van die Afrikaanse radiostasie RSG het volgens die stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, afleggingsbriewe gekry. Sy het Woensdag op die middag-aktualiteitsprogram Spektrum gesê 12 permanente werknemers van RSG is in kennis gestel dat hulle poste herstruktureer gaan word en dat hulle vir nuwe poste aansoek sal moet doen as hulle nie sonder werk wil sit nie. Die enigste twee permanente RSG-personeel wat nie afleggingsbriewe gekry het nie, is Kruger self, wat volgende jaar in April aftree, en haar sekretaresse.

Die permanente uitsaaiers wat afleggingsbriewe gekry het, sluit onder andere Johan Rademeyer, Martelize Brink, Haidee Muller, Fritz Klaaste en Jacqui January in. Die ander RSG-uitsaaiers is feitlik almal vryskutwerkers.

Vroeër vanjaar het verskeie joernaliste by ander mediahuise, soos Media24 en Primedia, ook hulle werk verloor toe verskeie tydskrifte en koerante toegemaak het. Dit is alles deel van ’n golf herstrukturerings in die bedryf wat die afgelope paar jaar reeds oor die land spoel.

Sanef sê in ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is hulle is besorg oor die huidige onstabiliteit by die SAUK. Hulle het ’n beroep op die nasionale uitsaaier gedoen om te verhoed dat die nuusdienste as gevolg van die beoogde herstrukturering geraak word.

Verskeie gedrukte-media-titels het reeds vanjaar gesneuwel. Vroeër vanjaar het Suid-Afrikaanse joernaliste met skok en woede reageer toe Media24 besluit het om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit en die getal uitgawes van maandelikse tydskrifte aansienlik verminder het. Dit is bestempel as ’n slagting in die Suid-Afrikaanse mediabedryf. Ander mediahuise het later ook publikasies gesluit en joernaliste afgedank.

Die afgelope week het die SAUK aangekondig dat hy bykans 400 van sy 3 000 werknemers moet aflê as deel van ’n herstruktureringsproses by die uitsaaier. Die beoogde afleggings is Dinsdag voorlopig uitgestel na ’n emosionele vergadering waar nuuspersoneel vermoedelik uitgevaar het teen die wyse waarop daar te werk gegaan word om personeel te verminder.

Die SAUK se groep- uitvoerende hoof vir nuus, Phathiswa Magopeni, het daarna aan nuuspersoneel gesê sy kan nie onder die huidige omstandighede briewe aan personeel gee dat hulle poste oorbodig is nie. Die president van die vakbond Bemawu, Hannes du Buisson, het gesê dit wil lyk of die bestuur toegee dat ’n behoorlike konsultasieproses nie gevolg is nie.

Kort daarna het die SAUK se bestuur ontken dat die afleggings uitgestel is en gesê dat daar voortgaan word met afleggingsprosesse. Die SAUK-raad is na bewering diep verdeeld oor die voorgestelde afleggings en vermoedelik steun bykans die helfte van die raad dit nie.

Sanef wil nou ’n vergadering aanvra met die SAUK se bestuur oor die herstruktureringsplanne. Die uitvoerende direkteur van Sanef, Kate Skinner, het ’n beroep op die SAUK-bestuur gedoen om voort te gaan om sy openbare mandaat na te kom deur seker te maak dat begrotingsbesnoeiings nie kritieke dienste soos Afrikataaldienste en streeksprogramme kniehalter nie.

Die SAUK het aan die einde van Maart vanjaar ’n netto verlies van R511 miljoen getoon.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top