Suid-Afrikaners moet hulle maar gereed maak dat beurtkrag minstens die res van die week sal duur.
Eers sou dit net tot Dinsdagoggend 05:00 duur, toe tot Woensdag en nou blyk dit tot Saterdag die geval te wees.
Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het die aankondiging Dinsdag gedurende ’n regstreekse inligtingsessie bevestig toe hy aangekondig het dat fase 2-beurtkrag, wat eers tot Woensdag sou gegeld het, nou tot minstens Saterdag (12 Maart) sal duur.
In ’n verklaring wat Maandag uitgereik is, het Eskom gesê bykomend tot die verklaring wat vroeër uitgereik is, het Medupi Eenheid 3 onklaar geraak, wat hulle genoodsaak het om beurtkrag na 17:00 te vervroeg en deurlopend tot Woensdag 05:00 te implementeer.
Volgens Eskom was dit as gevolg van veelvuldige opwekkingseenheidfoute wat oor die vorige 24 uur plaasgevind het en die beskikbare opwekkingskapasiteit ernstig verminder het. Hulle het gesê beurtkrag is nodig sodat Eskom die noodopwekkingsreserwes wat sedert die afgelope naweek aansienlik benut is, kan aanvul.
Intussen het ’n eenheid elk by die Matla-, Kendal-, Matimba-, Kusile- en Grootvlei-kragstasies ook onklaar geraak, terwyl ’n eenheid elk by Arnot- en Hendrina-kragstasies gedwing is om te sluit. Dit, benewens ander eenhede wat gedurende die naweek onklaar geraak het, het die beskikbare opwekkingsvermoë verminder en Eskom gedwing om swaar op noodopwekkingsreserwes staat te maak om die ligte aan te hou.
Na Eskom se versekering dat hulle verwag om sommige opwekkingseenhede binne die volgende 24 uur weer in diens te stel, moes De Ruyter die land Dinsdag meedeel daar sal waarskynlik tot minstens die naweek beurtkrag wees.
Stage 2 loadshedding will be implemented continuously until 05:00 on Saturday@SABCNews @eNCA @Newzroom405 @ewnreporter @News24 pic.twitter.com/SvvjvmdysY
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) March 8, 2022
Die enigste lig vorentoe in Eskom se donker tonnel is dat Kaapstad ’n bystandskenking van byna R2 miljoen ontvang het vir sy nuwe energieplanne.
Kaapstad se stadsraad hoop om die stad uiteindelik finaal van beurtkrag te verlos. Kapenaars wat hul krag via die stadsraad van Eskom kry, word reeds met een fase deur die stadsraad geborg wanneer daar beurtkrag is. As die res van die land byvoorbeeld fase 2-beurtkrag het, het Kapenaars slegs fase 1-beurtkrag.
Stad Kaapstad sê in ’n verklaring hulle energiedirektoraat het ’n aanbod van tegniese bystand van die Verenigde State se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID) se Suid-Afrikaanse Energieprogram (SAEP) aanvaar.
Die skenking sal die stad bystaan met ’n aantal projekte wat verband hou met die aankoop van hernubare energie, opwekking en energiedoeltreffendheidsingrepe. Dit is nog ’n stap in Kaapstad se energieprogram om meer volhoubaar te word en die energiemengsel te diversifiseer vir skoner, meer bekostigbare energie vir Kaapstad oor ’n tydperk heen.
Die stad se burgemeesterskomiteelid vir energie, Beverley van Reenen, het die skenking van bystand verwelkom.
“Die bystand is gratis en die USAID en sy span konsultante het die nodige kundigheid. Die werk is ook in ooreenstemming met die stadsbeleid en imperatiewe wat verband hou met energiesektorhervorming en versagting van klimaatsverandering, wat ’n topprioriteit bly, gegewe ons land se energiebeperkings en die veranderende energiebestuurslandskap.
“Die stad bly verbind tot sy volhoubare energieprogramme om te verseker dat ons stad toekomsfiks is. Ons bedank die USAID vir hul bystand en kundigheid,” het Van Reenen gesê.
Hoewel die tegniese bystand van die USAID gratis is, word benaderde waarde van die bystand wat verskaf moet word, op R1,8 miljoen geskat.