Donker wolke van onsekerheid sak op Europa toe

  • 0

Foto: Leonhard Niederwimmer | Pixabay

Oekraïne

’n Week gelede, toe Rusland aankondig dat hulle die onafhanklikheid van die wegbreekrepublieke in Oekraïne erken, het die wêreld regop gesit. Maar ondanks al die waarskuwings het niemand gedink dat Rusland twee dae later Oekraïne wel sou inval nie. Die Weste, insluitend die Lae Lande, het dadelik gereageer met ongekende streng sanksies. Nederland het 200 grond-tot-lug-missiele, 50 antitenkwapens en 400 vuurpyle na Oekraïne gestuur, berig die NOS. België het ook wapens belowe. Daaronder tel 5 000 masjiengewere en 200 antitenkwapens. Nederland en België gaan ook aan ’n Navo-oefening aan die grens met Roemenië deelneem, skryf De Morgen.

Vrees vir vergelding

Intussen hou veral Nederland en Duitsland asem op vir vergelding deur Rusland deur die gaskrane toe te draai. Veral Duitsland is baie afhanklik van Russiese gas. Die Nederlandse kabinet moes onlangs toegee dat gaswinning in Groningen – waar dit aardbewings veroorsaak met gepaardgaande skade aan geboue – tog verhoog word ingevolge ’n ooreenkoms met Duitsland om die vraag in dié land aan te vul. Dit volg ondanks beloftes aan plaaslike inwoners dat steeds minder gas uit Groningen gepomp sal word. Nederland is vir 40% van sy gas van Rusland afhanklik; België heelwat minder. Tog lyk dit nie of Rusland al enigsins aan die gasvoorsiening gepeuter het nie. Die dreigement van kernwapens wek wel kommer.

Shell onttrek uit Rusland

Intussen het die oliereus Shell aangekondig dat hy by ander maatskappye aansluit en uit Rusland gaan onttrek en samewerking met die Russiese Gazprom beëindig, berig die dagblad Trouw. “We zijn geschokt door het verlies van levens in Oekraïne, wat we betreuren, als gevolg van zinloze militaire agressie die de Europese veiligheid bedreigt,” sê die uitvoerende hoof van Shell, Ben van Beurden. Die maatskappy gaan ook nie verder aan die Nord Stream 2-gaspypleiding tussen Rusland en Pole werk nie. Die Duitse owerhede het verlede week al aangekondig dat ’n permit vir die projek nie goedgekeur sal word nie. Shell verwag wel dat sy onttrekking uit Rusland ’n negatiewe effek op sy wins sal hê.

Plek vir vlugtelinge

Europese lande maak gereed vir ’n toestroming van vlugtelinge uit Oekraïne. Tot dusver het sowat 30 Oekraïnse asielsoekers hulle in Nederland aangemeld. Ingevolge ooreenkomste met die Europese Unie mag Oekraïners 90 dae lank in EU-lande bly sonder ’n visum. Nederland het ook bekend gemaak dat Oekraïners voorlopig nie die land hoef te verlaat nadat die 90 dae verstryk het nie. Oekraïners mag ook om asiel aansoek doen. Die Belgiese Dienst Vreemdelingenzaken het ook bekend gemaak dat Oekraïners ná 90 dae in België mag bly indien die situasie in Oekraïne hulle nie toelaat om terug te keer nie.

Lugdienste ook geraak

Voordat Rusland Maandag aangekondig het dat hy sy lugruim vir 38 hoofsaaklik Europese lande, insluitend Nederland en België, gaan sluit, moes twee vlugte van KLM Saterdag halfpad omdraai. KLM het as rede aangevoer dat hy weens die sanksies wat deur die EU teen Rusland ingestel is, nie meer kan waarborg dat vlugte veilig kan terugkeer nie. Die uitvoerverbod na Rusland beteken dat vliegtuie ook nie onderdele na Rusland vir eie gebruik mag vervoer nie, berig die NOS. Die lugdiens het kort daarna aangekondig dat hy vir minstens sewe dae nie na Rusland sal vlieg nie. Die Russiese verbod hou ook gevolge in vir roetes van Europa na die Ooste, wat daartoe gelei het dat KLM vir eers ook nie na Japan en China vlieg nie.

Verdagte in gyseldrama sterf aan sy beserings

Die man wat verlede week ure lank ’n klant as gyselaar gehou het in die Apple Store op Leidseplein in Amsterdam, het aan sy beserings beswyk. Dit volg nadat hy raakgery is deur ’n polisievoertuig toe sy gyselaar ontsnap en hy hom agterna gesit het. Die dagblad Het Parool berig dat die 27-jarige verdagte bekend staan as Abdel Rahman A. Hy het glo gereeld met die gereg gebots. Sy laaste veroordeling was in Mei verlede jaar vir die aanranding van sy vriendin, waarvoor hy 60 uur gemeenskapswerk moes verrig en ’n maand voorwaardelike gevangenisstraf en ’n kontakverbod van drie jaar gekry het. Die polisie ondersoek nog die man se motief.

Wêreldeerste vir Brusselse hospitaal

Universitair Ziekenhuis (UZ) Brussel het bekend gemaak dat ’n vrou met Turnersindroom geboorte geskenk het aan ’n gesonde baba van haar eie eierselle, berig VRT. By meisies met dié siekte ontbreek een of albei X-chromosome, en dit het die gevolg dat hulle op ’n jong ouderdom al hul eierselle verloor. Die meisies ly dikwels ook aan ’n groeiversteuring en kan gewoonlik nie menstrueer nie. UZ Brussel het egter ’n tegniek ontwikkel om die eierselle van pasiënte op ’n jong ouderdom te oes en in te vries sodat dit later gebruik kan word as die meisie as volwassene graag kinders wil hê. Volgens die fertiliteitspesialis Michel de Vos is dit belangrik dat die meisie eers die nodige sielkundige en mediese voorligting kry voordat daar met die behandeling begin word. “Maar allereerst is ook sensibilisering van behandelende artsen en ouders hierin van cruciaal belang. Deze stap kan patiënten met Turner-syndroom in de toekomst een heel ander perspectief bieden, want een kinderwens blijft iets fundamenteels,” sê De Vos. Sommige meisies wat aan die sindroom ly, verloor hulle eierselle nog voordat hulle puberteit bereik. Dan is die enigste oplossing om die ma se eierselle in te vries indien sy nog jonk genoeg is, sodat haar dogter dit later kan gebruik.

Seun van 14 dood in huis aangetref

In die Belgiese Turnhout is die liggaam van ’n 14-jarige seun Vrydag aangetref in ’n huis waar hy saam met sy pa gewoon het, skryf Het Nieuwsblad. Ses mense, onder wie die seun se pa, is aangekeer en bly in aanhouding. Volgens een van die verdagtes se advokaat is die seun al ’n paar weke gelede dood. Die betrokke verdagte beweer ook dat die familie streng gelowig is. Die polisie ondersoek ’n saak van verwaarlosing. Die polisie het gaan ondersoek instel nadat die ma van die slagoffer ’n klag by die polisie gelê het omdat sy haar oor haar kinders bekommer het. Al drie kinders was in die sorg van hul pa. Die ander twee kinders het wel in goeie gesondheid verkeer toe die polisie daar aankom. Hulle is intussen na ’n plek van veilige bewaring geneem. Die oorsaak van die kind se dood word nog ondersoek.

Vyf beseer nadat steierwerk omval

Steierwerk het Sondag in die Brabantse dorp Beugen tydens ’n karnavalviering omgeval. Vyf mense is beseer, onder wie twee kinders, berig die NOS. Daar word volgens die polisie vermoed dat die ongeluk deur ’n rukwind veroorsaak is, maar die presiese oorsaak word nog ondersoek. Twee mense is vir behandeling in die hospitaal opgeneem. Die voorval het omstreeks 12-uur op Kerkplein tydens die sogenaamde knakworstrennen gebeur, waar mense in kostuum op mekaar se rug sit en teen mededingers resies hardloop.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top